Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons hoop CR kan hierdie skip draai

In sy meer sober derde staatsrede Donderdagaand het pres. Cyril Ramaphosa onder meer verwys na die uiterste uitdagings wat die land in die gesig staar – spesifiek met betrekking tot werkloosheid en ’n gebrek aan ekonomiese groei.

Hiervoor, so wil dit voorkom, is hy vasbeslote om die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat soos baie regeringsplanne stof versamel het, te laat herleef.

Judith February
Judith February.

Daar is nou sewe fokusareas (in Februarie was daar vyf) en vyf doelwitte vir die volgende tien jaar: armoede, ongelykheid en werkloosheid, ekonomiese groei, werk aan 2 miljoen jeugdiges, onderwys (elke tienjarige moet kan “lees met begrip”) en om misdaad te halveer.

Niemand kan die president kwalik neem dat hy hierop wil fokus nie, en sy eie verbintenis hiertoe is duidelik opreg. Tog het dit gevoel soos oudpres. Thabo Mbeki rondom 2005, met onder meer spesiale ekonomiese sones, groei in produktiewe sektore, infrastruktuurbelegging, die vermindering van die koste van sake doen, toerisme om werksgeleenthede te skep, en maniere om vir jong mense werk te vind.

Daar is ongelukkig geen kitsoplossing nie. Die uitdaging vir Ramaphosa sal op elke moontlike vlak wees. Buiten pogings van sy eie party om hom te ontspoor, móét Eskom reggeruk word.

Ons weet dat nog ’n reddingsboei op pad is, maar wat van die ander staatsondernemings? Eskom is dalk “te groot om te faal”, maar die SAL, Prasa en ander tap die fiskus ewe fluks. Ramaphosa besef dit terdeë – dit is waarskynlik ’n geval van om die olifant stukkie vir stukkie te eet. Hy het geen keuse nie.

Dalk het hy na Eskom verwys toe hy gesê het daar sal moeilike besluite geneem moet word, en nie almal sal daarvan hou nie. Die vraag is, afgesien van die reddingsboei, hoe kan Eskom gered word, indien dit wel gedoen kan word?

Oor onderwys was Ramaphosa in die kol met sy fokus op basiese onderwys, maar almal weet die onderwysvakbond Sadou is ’n reuse struikelblok vir gehalte-onderwys. Sy lede word nie aanspreeklik gehou nie en daar is geen ernstige nagevolge vir swak onderwysers en skoolbestuur nie.

Die herbouwerk moet alliansies insluit, asook aksie deur implementering. Herbou moet ons herbou, maar dalk is party van ons meer vasberade as ander.

’n Mens kry die gevoel dat Ramaphosa vir strategiese redes die anti-korrupsie-retoriek afgeskaal het, hoewel daar geen twyfel bestaan dat die heropbou van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) voortstu nie. Dit is goeie nuus.

Die NVG benodig nog hulpbronne om vinnige vervolging te verseker van diegene wat betrokke is by staatskaping. Hierdie vervolgings hoef nie te wag vir die voltooiing van die werk van die Zondo-kommissie nie.

Ramaphosa was ondubbelsinnig oor die Reserwebank se grondwetlike mandaat. Dit was ’n belangrike deel van die toespraak, veral vir die ore van mense soos Ace Magashule en die openbare beskermer, wat chaos en verwarring veroorsaak elke keer as hulle tot die debat toetree.

’n Staatsrede moet inspireer en detail met visie balanseer. Ramaphosa het ’n visie van die land wat hy wil hê, en dit is moeilik om van hom te verskil.

Maar die vraag is steeds hoe aan sy planne uitvoering gegee gaan word, veral as daar saboteurs in sy eie party in die staat self is? Selfs met die beste wil in die wêreld, meer politieke kapitaal en ’n bedrewe staat sal Ramaphosa sukkel om hierdie skip om te draai. Dit is bloot die harde werklikheid.

’n Mens sou drie basiese prioriteits­areas verkies het waar rondom landsburgers kan verenig, byvoorbeeld die ekonomie (met ’n fokus op staatsondernemings), onderwys en grondhervorming (gegewe sy potensiaal om emosie en onstabiliteit te laat ontvlam).

Die herbouwerk moet alliansies insluit, asook aksie deur implementering. Herbou moet ons herbou, maar dalk is party van ons meer vasberade as ander.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.