Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons is broos, net soos die digter gesê het

Een van die bekendste soorte poësie in die 17de eeu was die gebedspoësie, gedigte wat opvallende ooreenkomste vertoon met die Bybelse siektepsalms. Een van die bekendstes onder die laasgenoemde is koning Hiskia se gebed aan God (Jesaja 38) wat hom daarna nóg 15 jaar gun.

In die Psalms-boek is daar baie ander siektepsalms. Tipies is juis die “onderhandeling”: Gee my herstel, en ek sal dan in ruil iets doen. Op hierdie skaal kan die mens gewoonlik maar min neerlê wat gewig dra. Opvallend is wel hoe dikwels verheerliking van God genoem word.

Die bekende Nederlandse digter Vondel was lank siek aan ’n slopende siekte waaroor deur letterkundiges nogal druk bespiegel is.Vandag lyk dit redelik seker dat hy aan depressie gely het. Vir moderne lesers is dit onthutsend om 400 jaar later te lees hoe bepaalde aspekte van depressie-behandeling vandag nog ooreenstem met die siektekure van destyds.

Toe Vondel moedeloos en baie uitgeput was, smeek hy God in ’n roerende gedig om hom te genees. In “ruil” beloof hy dan om God in sy digkuns te verheerlik. Wat hierdie groot Christelike digter inderdaad ook in onsterflike gedigte gedoen het.

Vandag woed daar weer ’n intellektuele storm oor geloof wat afgemaak word as versinsels en “opium vir die massa”.

Vandag woed daar weer ’n intellektuele storm oor geloof wat afgemaak word as versinsels en “opium vir die massa”.

Gelukkig die mens wat verder kyk as bloot die rasionele van die wetenskap. Wat ook mitiese verklaringsmodelle in ag neem en besef dat van die kragtigste magte op aarde juis dit is wat die oog nie kan sien nie: haat, liefde én geloof.

Want in die lang en eensaam nagte as jou asem min raak en die angs en beklemming toeneem, is die nabyheid van ’n Versorger ’n troos. En dan begin die onderhandelinge en groei die besef dat ’n mens byna niks het om as teenprestasie aan te bied nie, juis omdat alles wat jy het gratis ontvang is.

Ek en my vrou het in Julie 2020 Covid gehad. Daarna het ons versigtig gelewe, maar dalk tog in die agterkop die hoop gekoester van immuniteit.

Einde Desember is my vrou weer positief getoets; ek enkele dae later ook. Ná ’n tyd van versigtige afsondering, alleen by ons kinders.

Die eerste keer het ons geringe simptome gehad, bietjie benoudheid en borsongemak. Die tweede was ’n perd van ’n ander kleur: dodelike moegheid en diarree enersyds; benoudheid en asemtekort andersyds.

’n Mens reik na strooihalms: vitamines en aspirien; asemhalingsoefeninge van allerlei aard; lang tye op jou maag. Selfs ivermektien is gedrink en aangevryf (met antihistamien). Maar tog was die kniedruppels die belangrikste.

Steeds is die kragte min en die geringste inspanning bring vermoeidheid en kortasemheid. Maar om weer na voëls te kan luister, is al troos genoeg.

Soos Vondel in sy aangrypende gedig gesê het: “Ons is kleipotte wat maklik breek.”

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Digter  |  Godsdiens  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.