Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons is darem bitterbekke!

Kom ons gee aan Siya Kolisi en Rassie Erasmus terug wat hulle aan ons gegee het: vreugde en hoop. En moenie dat die bitterbekke ons blydskap steel nie, skryf Wannie Carstens.

Kampioene! Franco Mostert, Duane Vermeulen en Siya Kolisi Donderdag met die Wêreldbeker op die spanbus in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Ek is ’n nuuskierige mens en is voortdurend op soek na inligting. Daarom lees ek daagliks graag my Afrikaanse koerant (Beeld as ek in die noorde is en Die Burger as ek in die suide is, en oor naweke Rapport). Ek is nie heeltemal ’n tegnologiese agtergeblewene nie en kan darem via die internet ook nuusbronne raadpleeg (soos Netwerk24, News24 en Netnuus).

Nuusprogramme op TV is my kos. En LitNet is nie aan my onbekend nie omdat dit te doen het met die wêreld waarmee ek my ’n groot deel van my lewe besig gehou het: die taal- en letterkunde van oorwegend Afrikaans.

Dus: ek lees graag en dink ek is redelik op hoogte van wat in die land aangaan.

Die werklikheid is dat dit sleg gaan – dit kan ons nie ontken nie.

Wat ek daagliks lees, maak my vanselfsprekend bekommerd en soms is ek soos soveel ander mense uiters moedeloos en wanhoop ek oor dit wat daagliks voor my oë afspeel: korrupsie en bedrog (soos die Zondo-kommissie dit daagliks ontbloot), diefstal op ’n onvoorstelbare skaal, die ineenstorting van ons staatsverwante ondernemings (Eskom, die SAL, Denel, SAUK, ens.), misdaad, die stelselmatige ineenstorting van ons hospitale, ons waterstelsels en van staatsinstellings (staatsdepartemente, soos waterwese, gesondheid, binnelandse sake, ens.), die feit dat diewe en bedrieërs skotvry afkom, die onwilligheid van die staat om boere by te staan om aan die ellendes van die knellende droogte te ontsnap, dwase ekonomiese besluite (wat ons almal raak) deur onwillige en dikwels onbekwame politici.

So kan ek aangaan en aangaan.

Dan het ek nog nie eens gepraat van die vernietiging en ineenstorting van munisipaliteite regoor die land en die daaglikse diensleweringsproteste wat daaruit voortvloei nie. Ek dink die prentjie is duidelik en ek hoef dit nie verder in te vul nie.

Skielik is ons net weer gewone, trotse Suid-Afrikaners

Rassie Erasmus, afrigter, en Siya Kolisi, kaptein, Dinsdag op die O.R.Tambo-lughawe waar duisende ondersteuners die seëvierende Bokspan ingewag het. Foto: Deaan Vivier

Die werklikheid is dat dit sleg gaan – dit kan ons nie ontken nie. Die ANC-regering het hom al telkemale as onbevoeg bewys en hulle maak die lewe vir talle ’n daaglikse stryd om oorlewing. En ons wat hier bly, moet in hierdie konteks ’n bestaan maak. Dit is nie altyd maklik nie, veral nie as jy die vlak van verval rondom jou dophou nie.

Maar dan vind daar goed plaas wat ons weer moed gee dat dinge tóg in die land omgedraai kan word. Dit gee hoop. En ons het positiewe hoop nodig om hierdie land weer op koers te kry.

So gee die Springbokke se pas afgelope oorwinning in die Wêreldbeker-rugbytoernooi ons weer hoop. Die land en sy mense reageer positief daarop. Sáám juig ons waar ons kom en gaan. Ons is opgewonde en voel goed oor ons álmal se span. Ons dra ons Springboktruie en waai ons vlag. Trots en uitbundig sing ons saam ons volkslied.

Maar dan kom die bitterbekke en bederf alles.

Skielik val historiese grense weg en is ons net gewone trotse Suid-Afrikaners. Op lughawens as die Springbokke terugkeer, soos die afgelope week op die O.R. Tambo-lughawe. In kuierplekke regoor die land waar mense saam na die wedstryd gekyk het. In die dorpe en stede waar die Springbokke ’n oorwinningstoer aflê.

Maar dan kom die bitterbekke en bederf alles.

Die EFF (dit het ons verwag), die Gautengse LUR vir onderwys Lesufi Panyaza (kan hy nie maar net leer om sy mond te hou nie?), Steve (ai tog!) en talle mense op sosiale media.

Op Twitter en Facebook raak die mense ongelooflike negatiewe goed kwyt. Kyk op webwerwe na die kommentaar onderaan berigte. Rassisme, haat, onverdraagsaamheid, selfingenome advies, verwyte oor alles en nog wat spoel oor ons. Ons gun mekaar nie die son wat daagliks oor ons skyn nie. Ons plaas mekaar weer in (kleur)hokkies.

En op die lughawe steel diewe die juigende massa se besittings. So ontbloot ons ons gebroke siel.

Kom ons geniet die vreugde

Bok-ondersteuners het hul kampioenspan Dinsdag in hul duisende op die O.R. Tambo-lughawe ingewag. Foto: Deaan Vivier

Dit is hartseer, want vir ’n oomblik het ons geglo dat alles tóg kan regkom. Dat ons ekonomie kán verbeter. Dat die werkloosheidsyfer sál daal. Dat ons skole wel kán werk. Dat staatsdepartemente wel doeltreffend kán wees. Dat diegene in die staatsdiens wat nie hul werk kan doen nie, afgedank sal word. Dat alle korruptes binnekort oranje klere sál dra en sommer vir ’n lang tyd ook.

Dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sy werk sal begin doen sodat die maak van oranje oorpakke tot ’n nuwe bedryf sal lei. Dat ons mekaar kán respekteer en kan liefhê. Dat ons sal ophou stry en ubuntu laat leef in ons harte en in ons optrede teenoor ons medeburgers. Dat ons almal weer begin glo in ’n nuwe toekoms.

Dus dat ons die genot en euforie van die grootse oomblik kán gebruik om daarop ’n beter toekoms te bou.

Behou vreugde oor die oorwinning en dra dit oor na die mense rondom jou.

Maar dit hang van onsself af. Ons power regering kan dit nie doen nie. Laat ons eerlik wees.

Vanselfsprekend gaan dit wat hierbo genoem is nie sommer net gebeur nie. Dit gaan harde werk verg. Dit gaan moeilike politieke besluite vra. Dit behels onder meer dat ons president ’n ruggraat ontwikkel.

Maar dit vra ook van ons as landsburgers iets: dat ons meer verdraagsaam met mekaar sal wees, dat ons mekaar as mense sal raaksien, dat ons die bitterbekke uitskuif na waar hulle hoort: op die rand, eenkant op hul eie in hul eie bitter hoekie waar hulle mekaar so warm broei.

Behou vreugde oor die oorwinning en dra dit oor na die mense rondom jou. Onthou: vriendelikheid, verdraagsaamheid, ordentlikheid, respek, deernis, omgee, uitreik, kos niks. Dit begin sommer met ’n glimlag.

Wannie Carstens

Kom ons geniet daarom die vreugde van die oomblik om opnuut te glo dat eenheid tussen 57 miljoen mense wél moontlik is. Dit is wat Siya en Rassie van ons vra.

Kom ons gee terug aan hulle wat hulle aan ons gegee het: vreugde en hoop.

Moenie dat die bitterbekke ons blydskap steel nie.

Dit laat my dink aan wat een van my studente tydens my dae as koshuisvader gesê het toe iemand haar ontstel het: “Prof, kom ons kap hom ’n flou ignore!”.

Kom ons doen dit met oorgawe.

* Carstens is emeritusprofessor aan die Noordwes-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.