Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons is een en almal ‘Africans’
Christo van der Rheede

Nasiebou gaan hand aan hand met ’n opregte poging om nuwe betekenis aan verwysings soos African en Afrikaner te gee.

Nié om kulturele eenvormigheid teweeg te bring nie, maar om ’n gemeenskaplik kontinentale en nasionale identiteit te vestig waarmee almal in Suid-Afrika kan identifiseer.

Die proses se geloofwaardigheid is wel ernstig in die gedrang. African verwys deesdae uitsluitlik na swart mense, terwyl Afrikaner uitsluitlik na wit Afrikaanssprekendes verwys. Verder word dit ruimskoots aangewend om Suid-Afrikaners weer op grond van ras te verdeel, te polariseer, te marginaliseer en teen te diskrimineer.

Hoewel albei verwys na alle mense wat op die vasteland gebore is en wat oor geslagte heen ’n kulturele, ekonomiese, sosio-maatskaplike en spirituele identiteit ontwikkel het wat uniek is aan en verbind is tot ’n toekoms op die vasteland en in die land, is daar ’n doelbewuste poging om die gedwonge verdelingslyne tussen mense op grond van kleur en etnisiteit wat oor dekades heen gevestig is, lewend te hou.

Dit is daarom noodsaaklik om die historiese betekenis van African en Afrikaner te herbesoek en die korrekte en ware betekenis te ontsluit en te populariseer.

Dit is daarom noodsaaklik om die historiese betekenis van African en Afrikaner te herbesoek en die korrekte en ware betekenis te ontsluit en te populariseer.

Die oorsprong van die verwysing Afrikaner kan teruggevoer word na die vroeë Kaap toe burgers, ook dié van gemengde afkoms, nie langer met lande van waar hul voorgeslagte gekom het, kon assosieer nie. Hulle het na hulself as “Africaanders” begin verwys.

Die woord “Africaanders” beteken dus “Africans” in Nederlands en behoort dit ook in Engels te beteken. Die verwysing Afrikaan is daarenteen ’n kunsmatig geskepte term om as teenpool vir Afrikaner te dien.

Die eerste groep wat na hulself as Afrikaners verwys het, was die afstammelinge en volgelinge van Oude Ram Afrikaner, wat in die 1690’s in die Tulbagh-distrik gebore is. By die afsterwe van Jan Jonker Afrikaner in 1889 was die Afrikaners ’n invloedryke groep mense in die Noord-Kaap en spesifiek in Namibië, waar hulle die hoofstad, Windhoek, gevestig het.

Die historiese verloop van hoe Afrikaner vandag na wit Afrikaanssprekendes verwys en daar volgehou word om na bruin mense as Kleurlinge te verwys, is alombekend.

Die historiese verloop van hoe Afrikaner vandag na wit Afrikaanssprekendes verwys en daar volgehou word om na bruin mense as Kleurlinge te verwys, is alombekend, en so ook die organisasies wat ’n deurslaggewende rol in die normalisering daarvan gespeel het – onder meer die Genootskap van Regte Afrikaners, die Broederbond en die Nasionale Party.

In antwoord op die eksklusiewe verwysing na swart mense as Africans deur die heersende hegemonie word Afrikaner vandag in sekere ruimtes as ’n identiteitsmerker uitsluitlik vir wit Afrikaanse burgers ingespan.

Waarheen is die land op pad as Afrikaner en African as identiteitsmerkers vir spesifieke etniese groepe voortdurend misbruik word? En om dié se belange óf deur middel van wetgewing óf deur middel van die skep van eksklusiewe ruimtes ten koste van ’n groter roeping te bevorder. Dit is nasiebou!

Nasiebou is ’n edele proses waarvan die boustene stewig in ons Grondwet ingebed is. Dit is waarop Suid-Afrika haar energie moet bestee – nie om etniese nasionalisme te bevorder nie, maar om dié grondwetlike boustene oor grense heen op ’n kreatiewe manier te ontsluit sodat dit gelyke geleenthede vir alle Suid-Afrikaners kan meebring.

Leiers en hul organisasies wat wit en bruin nie waardig ag as mede-Africans nie, het nog nooit ’n belang by nasiebou gehad nie en so ook nie hulle wat skaamteloos voort stoei met hul eng etniese beskouing dat bruin en swart nie Afrikaners is nie. ) Van der Rheede is uitvoerende adjunkdirekteur van Agri SA.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.