Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons is net soos die Amerikaners
Rapule Tabane

Toe ek nog ’n aptyt vir filosofie gehad het, het ek dié wysheid van die Griekse filosoof Plato gelees: “Demokrasie moedig swak leierskap aan. Mense se oordeel in hul leiers is nie altyd goed nie en hulle kan nie vertrou word om die regte keuses uit te oefen nie . . . Soos die moderne verkoopsman, is die politikus afhanklik van die publiek; sy posisie hang daarvan af of hy aan hulle gemak kan verkoop en die waarheid kan verswyg.

“Mense gee min om oor wie hul leiers is, solank die leiers verklaar dat hulle mense se vriende is. Gewilde leiers het net so min kennis as die mense wat hulle lei.”

Ek het hieraan gedink toe ek sien meer as 60 miljoen Amerikaners het vir Donald Trump gestem. Trump was vier jaar gelede nie geskik om president te word nie en niks het intussen verander nie. Daar is destyds gevra of Amerikaners regtig die kodes vir die land se kernwapens aan só ’n onstabiele mens wil toevertrou, maar hulle het hom in elk geval verkies tot president.

Mense gee min om oor wie hul leiers is, solank die leiers verklaar dat hulle mense se vriende is. Gewilde leiers het net so min kennis as die mense wat hulle lei.

Trump se termyn was presies so sleg as wat verwag is. Hy het voortgegaan om ’n seksis en rassis te wees en wit opperheerskappy aan te hang. Hy wou Amerika wit hou deur toe te slaan op immigrante uit sekere lande. Hy het teen Moslems gediskrimineer en wetenskap geïgnoreer in sy uitsprake oor klimaatsverandering.

Hy het advies van medici afgemaak en selfs veldtogte teen hulle gevoer oor Covid-19. Nog erger, sy weiering om die virus ernstig op te neem, het daartoe gelei dat nege miljoen Amerikaners met Covid-19 besmet is en meer as 200 000 is dood – die hoogste sterftesyfer in die wêreld. En tog het niks miljoene Amerikaners gekeer om weer vir hom te stem nie.

In ’n stadium gaan mense sê ons moet ons siening oor Trump verander en erkenning gee aan die goeie dinge wat hy gedoen het – die dinge wat veroorsaak dat Amerikaners hom waardeer. Maar ek vind min dinge waarvoor hy krediet kan ontvang.

Hy spog hy het die ekonomie laat groei en werkloosheid tot op die laagste vlak ooit gebring. Suid-Afrikaners worstel met die ekonomie en ons is duidelik jaloers op ’n werkloosheidsyfer van rondom 5% – en dit in ’n land met meer as 300 miljoen mense.

Die waarheid is dat Trump ’n ekonomie van oudpres. Barack Obama geërf het wat op ’n sterk opwaartse groeikurwe was. Obama het sy presidentskap in 2008 begin in ’n tyd van ekonomiese resessie en wonderbaarlik daarin geslaag om die situasie reg te ruk en so vir Trump ’n sterk grondslag gelê.

Plato se aanhaling wys vir ons hoe kiesers, sonder om ’n oog te knip, vir swak leiers kan stem.

As Suid-Afrikaners het ons dit bewys deur Jacob Zuma vir twee termyne tot president te verkies, terwyl ons geweet het wat sy kwaliteite (of gebrek daaraan) was. En ons het voortgegaan om sy politieke party, die ANC, te beloon, ondanks 26 jaar van swak regering.

Wit Suid-Afrikaners het tussen 1948 en 1994 voortgegaan om vir die Nasionale Party te stem ondanks die party se immorele, diskriminerende beleid.

Die liberale partye van daardie jare, waaronder die Progressiewe Party en die Demokratiese Party, het min steun onder wit kiesers gekry, ten spyte van hul waarskuwings dat apartheid gedoem is.

Soos Plato uitgewys het, word ons maklik verlei deur iemand wat verklaar dat hy ons beste belang op die hart dra, selfs al is daar bewyse dat hulle dit nie doen nie.

Ons mag dalk met afgryse vervul wees weens die keuses van Amerikaanse kiesers, maar ons moet onthou dat ons nie regtig van hulle verskil nie.

  • Tabane is politieke redakteur van City Press.
Meer oor:  Rapule Tabane  |  Politiek  |  Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.