Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons is nou waar FW destyds was
Gert van der Westhuizen

Die heftige reaksie verlede week uit sommige oorde op oudpres. FW de Klerk se stelling dat hy nie spyt is oor die besluite van die vroeë 1990’s wat die nuwe Suid-Afrika moontlik gemaak het nie, behoort seker nie meer te verbaas nie.

Dit gebeur elke keer as De Klerk se toespraak van 2 Februarie 1990, die referendum van 1992 en die onderhandelinge wat tot die verkiesing van 1994 gelei het, ter sprake kom.

De Klerk word elke keer ’n “ver­raaier” genoem. Die mense wat in 1992 ja gestem het, is ook “verraaiers”. Enig­iemand wat dit durf waag om te sê daar was geen ander keuse as om met onderhandelinge te begin nie, is gevolglik “verraaiers”.

Dikwels is die beledigings veel erger. De Klerk en mense wat die beëindiging van apartheid ondersteun, word bespotlik gemaak en verkleineer. Soms voel dit asof ’n mens weer midde-in die verlig/verkramp-stryd van die Afrikaner-politiek van destyds is – asof niks regtig in 30 jaar verander het nie.

Dit is opvallend dat diegene wat die beledigings so mildelik uitdeel, deur ’n nostalgiese bril na die verlede kyk.

Die apartheidsland van melk en heuning wat hulle hulself verbeel, is ’n ander een as dié waarvan die geskiedenisboeke ons vertel en wat baie van ons nog helder kan onthou.

Dit sal dalk goed wees om dié bril net vir ’n rukkie af te haal om weer te kyk na die “donker, donker land” van destyds waaroor Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band gesing het.

Suid-Afrika het op ’n ramp afgestuur wat veel erger sou gewees het as die land van vandag wat steier onder swak regering, korrupsie, wanbestuur, misdaad en die verval van die infrastruktuur.

Suid-Afrika was ekonomies op sy knieë. Hulp was daar nie meer nie; die land was immers die muishond van die wêreld.

Dit is deur geweld verlam en daar was prakties gesproke ’n burgeroorlog aan die gang.

Dit was ’n land waar militêre diensplig bykans elke jaar ’n hoë tol van sommige geëis en die oorlog van “grense” ver weg na die townships in ons dorpe en stede verskuif het.

Dit was ’n land waar die instandhouding van ’n wreedaardige, onwerkbare beleid aan die gewete van baie begin knaag het.

Dit kon eenvoudig nie meer so aangaan nie. Suid-Afrika het op ’n ramp afgestuur wat veel erger sou gewees het as die land van vandag wat steier onder swak regering, korrupsie, wanbestuur, misdaad en die verval van die infrastruktuur.

Mense soos De Klerk het dus geen keuse gehad as om te doen wat hulle gedoen het nie.

Maar daarvan wil hul hedendaagse kritici uiteraard niks hoor nie, hoewel hulle in 30 jaar nog nie met enige werkbare alternatief vorendag kon kom nie.

Omies in grys pakke wat nog nooit ’n uniform aangetrek het nie, het oorlog gepredik.

Daar was geluide van partisie. Kaarte van sogenaamde volkstate (wat ’n atlas of twee sou kon beslaan) is opgetrek.

Omies in grys pakke wat nog nooit ’n uniform aangetrek het nie, het oorlog gepredik. Geweld is probeer: bomme is geplant, daar is gemarsjeer en gedreig en geblaas. Maar in Maart 1994 in Bophuthatswana het baie finaal besef geweld is nie ’n oplossing nie.

En nou, terwyl mense weer in afsonderlike laers probeer terugtrek, is beskuldigings, beledigings en verwyte blykbaar al wat oorgebly het.

Dit sal niemand help nie.

Ons moet eerder probeer om weer na mekaar uit te reik, weer so dapper te wees soos die mense van die vroeë 1990’s wat probeer het – al was hulle ook hoe naïef – om van die wêreld ’n beter plek vir almal te maak.

Doen ons dit nie, sal ons dalk binnekort terug wees in die nagmerriewêreld waaraan hulle juis ’n einde wou maak.

Net soos De Klerk 30 jaar gelede het ons geen keuse nie.

Van der Westhuizen is Netwerk24 se Stemme-redakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.