Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons is saam in hierdie bootjie
Johannes Froneman

In vorige plaaslike verkiesings het ek soms die indruk gekry dat nasionale kwessies ’n te groot rol speel. In die huidige verkiesingsveldtog, waar nasionale en provinsiale kwessies op die voorgrond behoort te staan, kom dit, vreemd genoeg, voor asof baie kiesers juis oor plaaslike diensleweringskwessies sterk voel.

Dalk is my waarneming verkeerd. Maar dit is sekerlik waar dat brood-en-botter-politiek vandag baie aandag kry. En dít sluit die grondkwessie in, want verskeie partye koppel swart mense se (oor die algemeen) swakker ekonomiese posisie regstreeks aan grondbesit.

Dat die ekonomiese krisis van die land voorop staan, is vanselfsprekend. Gewone mense ervaar dit aan hul lyf: werkloosheid, armoede, gebrek aan ordentlike huisvestiging, ’n gesukkel om by die werk te kom (as jy een het) …

Miljoene mense, in die besonder jong mense, ken geen ander realiteit nie.

Diegene wat wel matriekvrystelling gekry het en danksy Jacob Zuma nou op universiteit is, het hul eie finansiële probleme.

Beursgeld word met gesinne tuis gedeel, want dit is net nóg ’n staatstoelaag wat die wolf van die deur moet weghou.

Talle studente sit daagliks honger in klaskamers. Beursgeld word met gesinne tuis gedeel, want dit is net nóg ’n staatstoelaag wat die wolf van die deur moet weghou.

Die honderde betogings wat die land week ná week teister, val nie uit die lug nie, al het ’n mens ’n vermoede dat opstokers ’n rol speel. Feit is dat die toestande op voetsoolvlak haglik is en ’n geleentheid bied aan wie ook al emosies wil opsweep.

Intussen verneem ons daagliks in detail van hoe ’n elitegroep die land kaal gesteel het. Waar die miljarde is, moet ons nog hoor.

Van dié mense is hoog op die lys om parlement toe te gaan. Praat van ’n geloofwaardige stelsel!

Ons gaan die verkiesing dus binne terwyl ’n toksiese mengsel van swaarkry, wanhoop en belangeloosheid vele in ’n greep vashou. Jy kan jou daarvan probeer afskerm deur ’n groter krag­opwekker aan te skaf, maar in jou hart weet jy ons is saam in hierdie bootjie vol gate.

Dit gaan oor ’n billike plek in die son.

Te midde hiervan lyk deelname aan nóg ’n musiektoekenningsaand na ’n taamlik flou kwessie. Maar dit is nie, want dit gaan oor meer as ’n program op DStv of deelname deur een sanger.

Dit gaan oor ’n billike plek in die son.

Hoewel die politiek altyd eerstens oor brood en botter gaan, kan die mens van brood alleen nie leef nie. Ons het ook sang en musiek nodig. Daarom die groot gaping in die kwessies waaroor verskillende mense emosioneel raak. En lus kry vir terugveg.

Dit laat die regering, enige regering, die onmoontlike uitdaging om reg aan alle eise te laat geskied.

Die stelsel wat ons hierin moet help, die demokrasie, is egter wêreldwyd onder druk omdat dit nie die massas gelukkig hou nie. Dan kies hulle ’n komediant as president, soos in die Oekraïne. Net omdat hulle kan en omdat die gevestigde heersersklas nie luister nie.

Wat hier by ons gebeur, sluit aan by die wêreldwye onvergenoegdheid met wat die demokrasie oplewer.

Te groot verwagtinge speel natuurlik ook ’n rol.

Dat ’n volwasse demokrasie steeds ’n beter opsie is as ander dwaalligte (soos sosialisme), gaan jou bes moontlik verby as jy vrou-alleen met ’n emmer en mop besig is om jou oorstroomde huisie weer leefbaar te kry.

Dís nou voordat jy môreoggend vroeg kinders moet regkry vir skool (hopelik met ietsie in die maag) en netjies en betyds by jou werkplek opdaag.

Kan ons wat soveel meer het volgende week ’n stem gaan uitbring wat álmal as “ons mense” beskou en weer­loses se belange ook op die hart dra? .

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Beurse  |  Armmoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.