Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons kan kies om mekaar te verdra
Elmarie Dercksen

Die wenner kry alles, só leer ons van kleins af. Die nommer een is die hoogste op die podium. Ons behoefte aan wen sorg vir uitstekende prestasies en vooruitgang, en ons mag daarop trots wees. Maar soms moet ons krities kyk daarna, en seker maak of die beginsel van wen regtig oral geld.

Leierskap is ’n goeie vertrekpunt. Dit het verskillende funksies in ’n same­­­lewing. Sommige lei groot kringe, ander kleineres. Sommige lei deur te inspireer, ander deur byvoorbeeld goeie besluite en keurige woorde.

Ons is dikwels huiwerig om uit te spreek watter las dit is om ’n leier te wees, en hoeveel verantwoordelikheid dit vra. Die wetenskap van bestuur wys daarop dat goeie leiers ’n ingesteldheid het van wen-wen, nie wen-verloor nie. Kompromie is dikwels die uitweg. En tog hou ons aan om ons kinders te leer jy wen as jy lei.

Sommige besluite van die afgelope Algemene Sinode het baie lidmate van die NG Kerk warm onder die kraag.

Verhoudings is nóg ’n voorbeeld. Ons leer maar weinig van die teorie van gesonde verhoudings as jong mense, en verliefdheid is die begin van menige romantiese verhouding. Tog toon navorsing dat die beginsels van ge­sonde vriendskap ’n beter basis is vir langtermynverhoudings. Vriendskap draai meer om deel en omgee as om die chemie van hormone. As die jong man die meisie van sy drome se hart gewen het, lê daar lang jare van kompromie voor. En die wen-beginsel werk nie so goed daarvoor nie.

Natuurlik stuur ek af op kerk en koninkryk. Sommige besluite van die afgelope Algemene Sinode het baie lidmate van die NG Kerk warm onder die kraag, ondanks die positiewe gesindheid en verslag van die meeste wat dit bygewoon het. Dit blyk kom­­­promie is vir sommige onaanvaarbaar, vermoedelik omdat dit voel soos verloor. Die gesindheid is: Almal moet saam met my stem, anders is almal verkeerd; almal moet eenders wees, anders is daar nie eensgesindheid nie.

Sulke verwagtings is onrealisties en onvolwasse. Ons behoort teen hierdie tyd begrip te hê dat die saak van selfde-geslagverhoudings kompleks is; dat mense kompleks is; en dat ons Skrif­beskouing en Godsbeeld verskil. Ons behoort waardering te hê vir af­gevaardigdes en leiers van daardie sinode vir hul onwilligheid dat hierdie saak die kerk verder uitmekaar trek en skeuring veroorsaak. Ons behoort te begin verstaan dat eensgesindheid nie spruit uit ons ooreenkomste nie, maar juis ’n gawe is ondanks ons verskille.

Ps. 133 is ’n pelgrimslied, gebruik deur reisigers na die godsdienstige feeste in Jerusalem. Hulle was nie ’n homogene groep nie: oud en jonk, vroulik en manlik, van verskillende stamme en streke, met verskillende gebruike, en ook nie so etnies suiwer soos wat ons wil dink nie. Terwyl hulle nader kom – nog voordat hulle geskille kon besleg, of skuld betaal, of offerdiere aankoop – word hierdie lied al gesing om eensgesindheid te onthou. Hulle vind dat eenheid mooi én goed is, skaars in die wêreld waarin ons leef.

Dit is nie iets wat mense kan skep nie, maar ’n gawe van God. Die antieke metafore bevestig dat eensgesindheid ’n geskenk is: Die hoëpriester kom een maal per jaar uit die Allerheiligste, en as hy leef, is dit ’n teken van God se vergifnis vir bekende en onbekende sondes. Hoe heerlik is die reuk van die olie waarmee hy deurdrenk is! Hermon­berg is nie eens naby nie, dis ’n ver berg waarvan sneeu en dou afloop en waterstrome bring na die heilige stad. Só afhanklik is die pelgrims van God se goedheid, soos van water wat on­verdiend van ver af kom.

Ons hoef nie die hele tyd oor alles saam te stem nie. Ons kan kies om mekaar te verdra omdat ons mede­pelgrims is, almal vergewe deur God – en daardie feit is die grootste van alles wat ons bymekaar hou.

Meer oor:  Menings  |  Sielsgoed  |  Verdraagsaamheid  |  Ngk  |  Sinode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.