Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Ons kan nie Afrikaans opgee vir ANC se pot sop'

Suid-Afrikaners kan nie hul onderliggende taal- en kultuurverskille ontken nie. Daarom glo hy aan ’n Suid-Afrikaanse slaai eerder as een pot sop, skryf Danny Titus.

Danny Titus

Ons het dit weer gesien met Erfenisdag. Ons het een land met verskillende erfenisse, verskillende taalerfenisse sowel as verskillende kultuurerfenisse.

Ook in die Afrikaanse taal het ons ’n verskeidenheid van kulture en erfenisse.

Ons verlede was so toegehou. Dit is met opwinding dat ’n mens sien hoe dit nou oopgaan. Geskiedenisse, tale, taalvariante, erfenisse en gebruike wat weggemoffel is, opsygestoot is, is nou besig om tot die sentrum van die Suid-Afrikaanse agenda toe te tree. Dit lyk vir my dat met die oopgaan van ons verlede, gaan ons hede ook oop en daarmee saam natuurlik ons Suid-Afrikaanse toekoms.

Almal sal sekerlik nie hiermee saamstem nie. Ons Grondwet praat van ’n Suid-Afrika wat aan ons almal behoort, verenig in ons verskeidenheid. ’n Mens is nie altyd seker van die verenig nie, maar dat ons ’n uiteenlopende verskeidenheid is, staan vas. Op die oomblik is ons behoorlik verdeeld, maar nou en dan vind ons oomblikke waar hierdie verskeidenheid stewig gestalte kry.

Dit lyk egter of daar geen alternatief is nie: Ons moet gewoon met mekaar saamleef. Ons wil graag klem daarop lê dat ons almal dieselfde is en dat weinig verskille tussen ons is. Hierdie benadering is te begrype, want ons kom juis uit so ’n stelsel wat kunsmatige verskille aan Suid-Afrikaners opgedwing het. Ons wil bitter graag daarvan wegkom.

Suid-Afrikaners wys magsbeheptes hulle kan saamstaan

Tog kan ons nie ons onderliggende taal- en kultuurverskille ontken nie. Dit is waar ek van nierassigheid verskil. Dit kan nooit van ’n Zoeloe gevra word om op te hou om ’n Zoeloe te wees nie, nog minder kan jy vir ’n Jood of ’n Griek vra om op te hou om Joods of Grieks te wees.

Tog het die apartheidsideologie tesame met die koloniale ideologie voor hom klaaglik misluk. Met die nuwe Suid-Afrika wat nou in die dieptes van korrupsie gaan nesskop het, het die land verval in ’n polarisasie wat min verwag het pleks daarvan om op heropbou en ontwikkeling te fokus.

Ons kan nie ons taal, kultuur en herkoms opgee om deel te word van ’n eensoortige pot Suid-Afrikaanse sop nie.

Terug by die erkenning van ons verskille. Die nuwe magsbeheptes het juis die toepaslikheid van diversiteit gaan verhoog.

Die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing het die magsbeheptes gewys hoe daar sonder hulle klaargekom kan word, hoe kinders mekaar in skole kan vind – ten spyte van. So ook op universiteite, in die werkplek en veral op die sportveld.

Ek was ’n paar keer in werksessies van diversiteitskonsultante en is terdeë bewus van die unieke werk wat hulle doen met uiteenlopende herkomste, standpunte en ideologieë.

ANC se pot sop wil alles doodprut

Ons het hierdie fasilitering broodnodig, op verskeie vlakke van ons samelewing. In 2005 aanvaar die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies die Konvensie vir die Beskerming en Bevordering van die Diversiteit van Kulturele Uitdrukkinge. Dit bly vir my altyd waardevol om te sien hoe die wêreldgemeenskap dink oor sake wat ons glo net hier van toepassing is.

Die ironie is dat Suid-Afrika ’n kernrol gespeel het in die totstandkoming van die konvensie. Die konvensie bied heelwat stukrag aan die erkenning en hantering van diversiteit in lande.

Die Suid-Afrikaanse slaai is veel ryker en kleurryker; met al die diverse tale en kulture as die huidige ANC se pot sop wat alles wil doodprut.

Ek lees in die aanhef hoedat dit kultuurdiversiteit uitwys as kernaspek van die mensdom. Dis deel van die algemene erfenis van die mensdom en moet as sodanig gekoester word.

Dan sê die konvensie dat kultuurdiversiteit blom in demokrasie en omstandighede van verdraagsaamheid, maatskaplike geregtigheid en wedersydse respek tussen mense en kulture. Dit is onvervangbaar vir vrede en veiligheid op plaaslike, nasionale en internasionale vlak.

Ek het al verwys na die slaaibak teenoor die pot sop. Ons kan nie ons taal, kultuur en herkoms opgee om deel te word van ’n eensoortige pot Suid-Afrikaanse sop nie. Ons is eerder die slaaibak waar jy jouself kan wees, jou taal, kultuur en herkoms behou as ’n tamatie of ’n slaaiblaar of ’n slaaisous, maar jy is deel van die groter Suid-Afrikaanse slaai.

Die Suid-Afrikaanse slaai is veel ryker en kleurryker; met al die diverse tale en kulture as die huidige ANC se pot sop wat alles wil doodprut. As burgerlike samelewing het ons al die ruimte om hierdie kulturele verskille uit te leef en die Suid-Afrika waarna ons almal smag, terug te bring.

* Dr. Titus is die ATKV se uitvoerende direkteur van kultuur.

Meer oor:  Anc  |  Danny Titus  |  Erfenis  |  Kultuur  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.