Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons kan nie net wegstap nie
Laetus O.K. Lategan

’n Vlaag gebeure sedert die parlementsopening het die morele koorspen van ons samelewing die hoogte in laat skiet. Daar is groot fout.

Strydbyle rakende die politieke verlede is nog lank nie begrawe nie. Basiese respek vir instellings en prosesse word uitgelag. Kwetsende opmerkings, wat selfs diegene wat afgesterf het se eer betrek, is ons nie gespaar nie. En terwyl hierdie woordgeveg en wedersydse beskuldigings aanhou, is daar miljoene mense wat werkloos is. Mense met geen hoop of uitsig op die toekoms nie. Hulle weet dikwels nie waar môre se kos en skuiling vandaan gaan kom nie.

Mense se broosheid van bestaan is al genoeg afkeur teenoor die sinneloosheid wat ons as samelewing elke dag moet beleef. Genoeg is genoeg, behoort die redelike mens se reaksie te wees.

Asof alles nie genoeg is nie, voel dit asof al die korrupsie en gepaardgaande hofsake net nie ’n einde wil kry nie. Die media suggereer dikwels dat dit maar net die oortjies van die seekoei is. Die onvermoë om basiese dienste te lewer ontneem ons gemeenskappe net verder van hul reg op basiese gesondheid en ’n leefbare omgewing. Weer sal ons moet sê: Genoeg is genoeg.

Asof alles nie genoeg is nie, voel dit of al die korrupsie en gepaardgaande hofsake net nie ’n einde wil kry nie.

Op persoonlike vlak gaan dit nie veel beter nie. Baie van ons het die slagoffers van onkunde, korrupsie, persoonlike venyn en die ontvangers van woord- en daadgeweld geword. Beskuldigings word nie eens met ’n verskoning opgevolg nie. Woorde en onnadenkende handelinge het ons verwond gelaat. Simboliese geweld, sou die filosofie dit noem.

Uitdelers van hierdie gedrag loop wye draaie om slagoffers. En dit steeds met hul morele mondering aan. Asof niks gebeur het nie. Niks is verkeerd nie. Ook hier moet die streep in die sand getrek word. Nee! En nogmaals nee! moet ons uitroep.

Terwyl dit alles gebeur, word ’n politieke olyftak tussen die president, die regerende party en ’n opposisieparty uitgereik. Of dit bloot simboliek of strategie is, maak nie saak nie. Wat wel saak maak, is die aanhoor van ’n verskoning. Nie net aan partye en persone nie, maar eintlik aan ’n nasie. Dit is allesbehalwe hoe landgenote met mekaar moet omgaan. Vir hierdie olyftak moet ons “Ja!” sê. Batho pele – mense eerste.

Die olyftak as simbool van vrede moet na mekaar uitgereik word.

Die olyftak as simbool van vrede moet na mekaar uitgereik word. Dit sou min beteken om met al die woordgevegte aan te gaan. Ons samelewing is sonder hoop met baie agterdog teenoor mekaar. Ons kan dit nie sommer afmaak as iets wat mense self moet hanteer nie. Die geleefde ervaring van vernedering en ontneming van basiese bestaans- en menseregte kan nie as niks afgemaak word nie. Maar om te wag totdat ons eendag tot ’n vergelyk oor alles kom, blyk ewe onverantwoordelik te wees.

Elkeen het ’n olyftak wat uitgesteek kan word. Doen dit. Jy weet met wie jy in onvrede leef – of dit nou ’n individu of ’n gemeenskap is. Maar die uitsteek van die olyftak is allesbehalwe genoeg. Gaan doen dit wat die daad suggereer: die uitreik van die hand na die ander. En die daadwerklike regmaak wat verkeerd is. Al vra dit om ander se menswaardigheid bo jou eie ego te stel.

Die Samaritaan in Luk. 10: 30-35 het nie ’n naam of gesig nie. Ons weet ook nie hoe hy met die verlede tussen Samaritane en Jode geworstel het nie. Wat ons met sekerheid kan sê, is dat hy, anders as die priester en Leviet, nie weggestap het nie. Sy omgee vir die ander persoon het sy olyftak in aksie gebring. Sy hele optrede hierna het iets van sy etiek en gesindheid gesê.

Regdoen en barmhartigheid vra ’n nuwe ingesteldheid.

Die situasie vra dat dit nóú moet gebeur.

* Prof. Lategan is senior direkteur: navorsingsontwikkeling en nagraadse studies aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat (SUT).
Meer oor:  Samaritaan  |  Korrupsie  |  Parlementsopening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.