In my plaaskindjare het daar gereeld familie op die plaas gekuier. Oorslaapkuier. Van my geliefde kuiermense was oom Koos en tannie Liefie van die Baai. Hulle het rykmenskos saamgebring. Goeters wat ’n mens nie in Uniondale se winkels gesien het nie. Avokado’s, papajas, eiervrugte, broodrolletjies, “pick ’n mix”-lekkers van OK Bazaars.
Voor Kersfees gaan kuier ons weer vir ’n naweek by hulle in die Baai. Ons het vaal plaaskos saamgeneem. Skaapboud, ’n slaghoender, eendeiers, wildsbiltong, ham wat my ma in die skoorsteen gerook het, plaasbotter, witvye en soetryp appelkose.
Die opwindendste van ’n Baai-kuier was Saterdagaande se besoek aan Playland. Treintjies, wydsirkelende swaaie waarin jy vasgemaak word, vissies vang, kleurryke liggies, draairoomys, spookasem. ’n Towerwêreld. Min het ons geweet vir húlle is swem in die rivier, botterboomry, wolbale vastrap, foefieslaaids, om skaaplammers bottel te gee, die roomafskeier te draai en agterop die bakkie ry weer ’n towerwêreld.
Só kom ons een aand by Playland en daar is ’n samedromming by die Superman-kraampie. Jy koop ’n 5c-kaartjie en slaan met ’n hamer op ’n platform. Dan skiet daar ’n balletjie boontoe in wat soos ’n enorme koorspen lyk. As jy hard genoeg slaan, klim die balletjie tot heel bo en daar lui ’n klok. Dan is jy Superman en jy wen iets.
Dié aand, ek was seker so tien, is daar ’n breedgeskouerde outjie wat nog en nog ’n 5c-stuk uithaal, want elke keer as hy met alle mag slaan, klim die balletjie net-net te laag. En hy wíl Superman wees. Nou staan ons in die bondel en bekyk sy aanslae.
Toe die outjie weer terugswaai vir ’n kishou, tref die hamer haar op die neus.
Soos die ongeluk wil, stap ’n vrou verby wat onbewus is van die kompetisie en nie die hamer sien kom nie. Toe die outjie weer terugswaai vir ’n kishou, tref die hamer haar op die neus. Haar draairoomys val en terselfdertyd “pieng” die Superman-klok. Maar die skare se aandag is nie by die pronkende Superman nie, maar by die vrou wie se neus soos ’n beet opgeswel is. Bloed stroom oor haar kinnebak en pyntrane loop uit haar oë.
My oom Koos sit sy arm om haar blad en bied sy sakdoek aan. Met ’n gedwonge glimlag en sweerlik verleë antwoord sy: “Toemaar, dis glad nie seer nie.”
Toe stap sy weg met die sakdoek voor haar neus. Ek kry haar hartsjammer, veral oor die roomys wat lê en smelt in die someraand.
Jare daarna, wanneer ek Playland se hoë wiel vol liggies in die aandverte sien, dink ek aan daardie aand. Maar sedert 2020 lees ek ’n ander simboliek daarin. Van die regering wat nóg belastinggeld verkwis om Superman te wees. Ál wat hy bereik met sy kragvertoonklug, is om meer mense bloedneus te slaan. Terwyl sovele van ons se roomys lê en smelt.
Dan stap ons weg met pyntrane in ons oë en sê: “Toemaar, dit is glad nie seer nie.” Onderwyl die hamerswaaiers pronkend rondstaan.