Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons kort weer ’n bond om mense te red
Prof. Hennie van Coller

Onlangs ry ons na Stellenbosch. By elke dorp slenter kinders doelloos op ’n skooldag rond. Meestal is hulle uitgeteer, armoedig en verwaarloos.

By Colesberg probeer twee seuntjies draad-windpompies aan ons verkwansel. Ek wil dit nie neem nie, maar koop my skuld af met twee tienrandnote. Steeds sien ek die gesiggies met stofstrepe wat ophelder oor hierdie karige gif; waarskynlik vir hulle ’n fortuin waarmee kwalik ’n brood aangeskaf kan word.

My oudste dogter, L., vertel hulle het ’n voe-dingskema by hul skool waar die daaglikse kos (waarvan stampmielies en pap die hoof­bestanddele is) vir baie kinders die enigste behoorlike maal is wat hulle daagliks kry.

Toe ek nog in die laerskool was, was daar ook voedingskemas. Wat my helder bybly, is die stukkie gebakte vis op Dinsdae.

Armoede is nie ’n verskynsel van ons tyd nie. In die Middeleeue het arbeiders ’n hongerloon ontvang, terwyl die leenhere vir wie hulle gewerk het, gesmul het aan gebraaide speenvark en gans. Hierdie groot ver­skille tussen ryk en arm het voortgeduur.

Dit grens aan obseniteit dat maat­skappye miljarde rande wins maak en mense net soveel steel of verkwis terwyl al hoe meer mense in armoede leef.

Karel Schoeman skryf onthutsend in Skepelinge oor die armoede van soldate, matrose en veral slawe aan die Kaap in die VOC-tydperk.

Op skepe was die sterftes hoog onder hierdie groepe weens wan- en ondervoeding. Vleis was ransig, water besmet en arak ’n troos. Terselfdertyd het die skeepskaptein en offisiere, plus ’n paar “hoogwaardigheidsbekleërs”, aangesit vir keurmaaltye.

Selde was die armoede groter as ná die Tweede Anglo-Boereoorlog. Mense het dikwels alles in die oorlog verloor en huise, veekampe en vee is deur die Engelse vernietig. Wit én swart was ontredderd. Stede, soos Johannesburg, was soos magnete vir armes en werkloses. Onopge­leide mense het daar gekrepeer en Afrikaner­vroue moes met strykwerk (en soms deur ontug) brood op die tafel probeer kry.

Die Carnegie-verslag van 1932 het die arm-blanke-kwessie duidelik belig, maar dit was eers ná die opwelling van Afrikaner-nasionalisme met die simboliese ossewatrek van 1938 dat die teelaarde reg was vir die Reddingsdaadbond, die geesteskind van ds. J.D. Kestell met die leuse “ ’n Volk red homself”. Hierdie bond het talle Afrikaanse ondernemings opgerig en werk vir Afrikaners geskep – veral in stede.

Vandag is armoede steeds met ons en dit raak alle mense. Dit grens aan obseniteit dat maat­skappye miljarde rande wins maak en mense net soveel steel of verkwis terwyl al hoe meer mense in armoede leef.

Ons hoor tot vervelens toe: Gee ’n vis aan iemand en hy het kos vir ’n dag; leer iemand egter visvang en hy het kos vir altyd. Eintlik is dit reine onsin: Gee jy nie dadelik die vis of brood aan ’n honger mens nie, sterf hy dalk ’n hongerdood en kom van visvang niks nie.

Dis die hoogste tyd dat ’n reddingsdaadbond weer opgerig word.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Bond  |  Armmoede  |  Geld  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.