Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons laat onsself maar ten dele ken
Annemarie van der Walt

Die meeste dae neem my staptogte my verby ’n redelik hoë rotswand wat oos front van waar ’n mens kan uitkyk oor ’n groot stuk Laeveld, en van links na regs die landmerke kan eien: Leeukop, Skipberg op ’n skelhelder dag, soms selfs die spitse waar Krokodilpoort begin, Renosterkop, die ronding van Hilltop-pas tussen Nelspruit en Barberton; ek verbeel my die skuins rug van Sheba, en herken Emlembe se kruin vlak oor die grens na Swaziland.

Male sonder tal, veral in die laatmiddag, word ek bewus daarvan dat ek nie alleen is nie. Dan hurk ek, met die hond styf teen my lyf en al daardie berge in my uitkyk, en wag vir ’n beweging. Soms duur dit lank voordat my oë kan onderskei tussen boom en klip en struik voordat ek die brandwag van die bobbejaantrop raaksien: misleidend rustig en bedag op enige gebaar wat ek sou maak.

Soms is die res van die trop nog in die onlangs afgekapte plantasie, soms reeds besig om kromstert oor die steil grashange af te beweeg tot onder in die kloof waar ek hulle nie kan sien nie. Onder my blad voel ek dan die ingehoue spanning in die hond se lyf en probeer die jagtersinstink wegpaai.

Wanneer die trop van klein na groot teen die rotswand aan die oorkant opstreep, moet ek my houvas op die hond verstewig, want dis dan wanneer die brandwag ’n paar treë in ons rigting gee, heupswaaiend en arrogant, voordat hy omdraai en wegsuiker, skuins-skuins om ons in die oog te hou.

My eie verweer is dat g’n mens tog willens en wetens die gevare in ’n donker kloof loop soek nie.

As die skemer nog nie te sterk is nie, wag ek totdat hy ook sy sit kry op ’n klip aan die oorkant van die kloof. Dan dink ek aan Malume, die bobbejaantropleier in Chris Barnard se boek Boendoe, wat met sy kop half agteroor sit, “sy oë vorsend asof hy die skemer weg wens wat die groot en naamlose droefheid met hom gaan saambring”.

Maar ek dink méér aan ’n ander spokende sin uit daardie boek: “Wat is die ding, tussen een mens en ’n ander een, wat so duiselingwekkend is dat dit die laaste tree na mekaar toe onmoontlik maak?”

Ons laat onsself maar ten dele ken. Selfs in die binneste kring weerhou ’n mens soveel keer ’n gebaar van toenadering, sluk ’n woord van vergifnis of verskans weerloosheid met ’n glimlag. Ons huiwer voor ’n uitgestrekte hand – is dit vir gee of vat? – en slaan ons eie oë af wanneer iemand te stip kyk.

My eie verweer is dat g’n mens tog willens en wetens die gevare in ’n donker kloof loop soek nie. En tog: Dis meestal die enigste roete na die oorkant.

Ek wag gewoonlik vir die laaste roep van die brandwag; laat los my greep op die hond. Ek stap reguit die laaste son in, verblind, en weet agter my lê die herkenbare landskap waarvan ek die hoogtes moeiteloos kan opnoem; soveel makliker om as’t ware daarop ’n vinger te lê as die duiselingwekkende landskap van die menslike gees.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Rubriek  |  Mening  |  My Stem  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.