Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons luister, ás spreker omgee

Wat vir een mens na ’n welkome boodskap klink wat as waarheid omhels moet word, klink vir ’n ander na haatspraak. Die een kommunikeerder dra ’n rooi baret en die ander een ’n kakie boshoed, maar na wie, te midde van soveel kommunikasie, is dit die moeite werd om te luister? Dit is soms moeilik om sinvol te onderskei, skryf Cas Wepener.

Grafika: Hanlie Malan

Is die enigste kriterium vir ’n goeie boodskap dat die regte woord op die regte tyd gebring is?

Is die modus waarin daardie woord gebring word nie onskeibaar van die inhoud en tydsberekening nie? Enige kommunikasie het nie net inhoud nie, maar word ook op ’n sekere manier beliggaam. Dalk behels beter kommunikasie ’n boodskap wat nie net die regte woord vir die regte tyd bring nie, maar wat ook met deernis so na as moontlik aan die ontvangers van die boodskap staan.

Dominee en ryk gemeente

Dit is soos die dominee wat die Saterdagaand voordat hy die volgende oggend moes preek so ingenome met sy preek uit die profeet Amos was, dat hy dit met groot genoegdoening in ’n oefenlopie vir sy vrou gelees het. Dit was ’n harde boodskap waarmee hy sy kudde uittrap. Hy het met ’n sagte stemtoon begin, maar die tempo en volume het stelselmatig toegeneem toe hy die klomp ryk en bevoorregte lidmate – wat soos die koeie van Basan op hul ivoorbeddens lê en in weelde leef terwyl daar soveel ongelykheid en ellende in die land is – met sy boodskap looi.

Ek kan my voorstel hoe sy hartklop versnel het terwyl hy verder lees; hoedat hy effens vooroor na sy vrou geleun het soos wat sy lyf die volgende oggend vorentoe oor die kansel sou beur, ’n diep plooi wat oor sy voorkop vorm en die erns van sy woorde onderstreep, hakke wat ’n aks van die grond af oplig en sy vinger wat bokant die “God is liefde”-kanselkleed uitstyg.

“Al die ellende in die wêreld en julle woon knus met jul pensioenfondse en annuïteite en heinings en alarmstelsels en mediese skemas in die hierdie rykmanswoonbuurt.”

Is die modus waarin daardie woord gebring word nie onskeibaar van die inhoud en tydsberekening nie?

Mev. Dominee het glo klaar geluister, opgekyk na haar man en droogweg gevra: “En waar woon jý?”

Sy het verstaan dat goeie kommunikeerders by en saam met die mense met wie hulle kommunikeer staan en dat die boodskap wat hulle bring, ook op hulle gerig word.

Soos Churchil Naudé tereg sing: “Staan nader, staan nader.”

Loop in ander se skoene

Ja, eintlik moet almal wat iets wil kommunikeer nader staan aan die mense met wie hulle wil kommunikeer. Dit is ’n modus van kommunikasie waarvoor die Suid-Afrikaanse teoloog Hennie Pieterse al lankal vra. Sommige mense sê kommunikeerders moenie net afklim en op die vlak van die mense met wie hulle kommunikeer gaan staan nie, hulle moet sommer ook oorstap en in hul skoene klim voordat hulle begin kommunikeer. Soos Atticus dit in To Kill a Mockingbird stel: “ – until you climb into his skin and walk around in it”.

’n Begrip wat hiervoor gebruik word, is “empatiese verbeelding”, met ander woorde om jou met empatie in te leef in ander se omstandighede, in hul lewens, en jouself dit te verbeel wanneer jy jou boodskap voorberei.

Ja, eintlik moet almal wat iets wil kommunikeer nader staan aan die mense met wie hulle wil kommunikeer.

Natuurlik is dit nie regtig moontlik nie, maar die beste kommunikeerders probeer ten minste om hulle in te dink hoe dit voel om bekommerd te wees oor ’n oes; siek en sat oor swak dienslewering; ná 25 jaar van demokrasie steeds in ’n shack; om van agter ’n taxi se ruite al die mense in hul motors te sien.

Hierdie benadering sê dis goed om eers ’n draai in Pretoria-Oos, -Wes, -Suid én -Noord te maak en nie net in my eie hoekie van die stad en dié se realiteit vas te staar, voordat ek my mond in en vir Pretoria (of Potchefstroom, Polokwane of Phalaborwa) oopmaak nie.

So ’n benadering kommunikeer nie net vanuit my eie windrigting nie, want sonder die rigting in die samestelling word ’n gat in die woord gelaat. Staan nader en dan nog ’n bietjie nader.

Liefde, waarheid lê lepel

Vir sommige kommunikeerders is dit ongerieflik naby, want dan vat dit aan jou eie bas, maar dis eintlik nog nie naby genoeg nie. Een van my dosente het altyd vir ons gesê jy mag nie kommunikeer (praat, klasgee, skryf, noem maar op) as jy nie lief is vir die mense met wie jy kommunikeer nie.

Cas Wepener

Hy was ’n beter mens as wat ek ooit kan wees, so ek brei sy wysheid uit tot: Jy moet lief wees vir hulle, al hoef jy nie noodwendig so vreeslik baie van almal van hulle te hou nie.

Hoe werk dit? Wel, dis daardie persoon wie se toespraak jy hoor en jy dink: Ek hou nie nou van wat jy sê nie en ek stem ook nie heeltemal saam nie, maar jy weet, ek vertrou jou en jou bedoelings, ek weet jy gee om, so ek sal klaar luister. Jy luister, want jou aanvoeling is dat dit wat gekommunikeer word, nie uit haat nie, maar uit ware omgee voortvloei, ’n omgee wat al in meerdere velle probeer klim het.

Ware profetiese kommunikeerders beliggaam hierdie ding – dat die liefde nie van die waarheid geskei kan word nie, die twee moet altyd lepel lê, anders is dit nie waarheid óf liefde nie.

Dit beteken vir seker nie dat kritiek uitbly nie, inteendeel, onkritiese kommunikasie is soms juis liefdeloos.

Sou ons dié soort kommunikasie met musiek vergelyk, is my vermoede dat die liedteks die waarheid van goeie tydsberekening is, maar die melodie is die liefde van ’n empatiese verbeelding.

  • Wepener is ’n akademikus en skrywer.
Meer oor:  Cas Wepener
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.