Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Ons mag lê in die alternatief'
Alida Kok

Vandeesweek skryf ek van Oudtshoorn, waar die Klein Karoo Na­sionale Kunstefees (KKNK) tans plaasvind. Hier is die mense en Afrikaans anders as in die noorde. Mense is gesellig, lag en gesels maklik met mekaar, bied uit eie inisiatief hulp aan en Afrikaans wat oor en weer tussen bruin en wit mense gepraat word, is nie ’n vloektaal nie.

As Gautenger moes ek hier gou leer dat die mens wat voor my staan heel moontlik Afrikaanssprekend is en dat dit nie nodig is vir my om in Engels te praat met mense wat ek nie ken nie. Ek het ook besef dat om Afrikaans te praat met ’n bruin of swart mens my nie hier demoniseer nie.

Daar is ’n outomatiese inklusiwiteit by die KKNK wat ek nog nie op ’n ander Afrikaanse kunstefees gewaar het nie. Tesame daarmee neem groot gehore op ’n meer proaktiewe en kritiese manier deel aan gesprekke en daar is ’n paar produksies wat op gewaagde maniere kwessies in ons samelewing aanroer wat nie noodwendig sal slaag op ander feeste nie. (Sien byvoorbeeld Buite land, waarin Jacques, ’n Afrikaanse narkotiseur, en Sizwe, ’n Zoeloe-choreograaf, in ’n vlugtige verhouding is, en Asem, waarin Stian Bam as gewonde en ylende Boeregeneraal-karakter, wat bedek is met ’n kombers van Springbokvelle, die gehoor verras deur absurd en poedelnaak op die verhoog uit ’n kot te spring in ’n koorsige poging om “die manne” se oorlog teen die Kakies voort te sit.)

Hierdie atmosfeer van “outomatiese inklusiwiteit” het ek ook verlede week in die protesoptog teen pres. Jacob ­Zuma in Pretoria ervaar. Mense van diverse afkoms het op die grasperk voor die Uniegebou meestal met sorg vir mekaar in die skare plek gemaak en daar was ’n redelike samehorigheid wat geheers het en gerespekteer is.

Die meeste van ons word nou vervreem deur ’n korrupte politieke bestel en gevolglik is opmerkliker “parallelle polisse” (“polis” in die sin van maatskaplike eenhede, van die Grieks vir “stad”) besig om te ontstaan.

Hierdie atmosfeer van “outomatiese inklusiwiteit” het ek ook verlede week in die protesoptog teen pres. Jacob ­Zuma in Pretoria ervaar. Mense van diverse afkoms het op die grasperk voor die Uniegebou meestal met sorg vir mekaar in die skare plek gemaak en daar was ’n redelike samehorigheid wat geheers het en gerespekteer is.

Die KKNK is so ’n parallelle polis, net soos ander alternatiewe kultuurgeleenthede, burgerlike protesoptrede, parallelle en onafhanklike akademiese instellings, parallelle inligtingstelsels (soos sosiale media) en die informele ekonomie (byvoorbeeld die idee van KasiNomics – die informele ekonomie in townships).

As die heersende stelsel mense nie meer dien nie, ontwikkel alternatiewe stelsels op ’n spontane wyse. Dié alternatiewe stelsels omseil ’n heersende korrupte en intellektueel uitgeputte orde en gee weer betekenis aan menslike samelewing. Dis ’n nodige hernuwing en ook ’n herhaling van wat in Suid-Afrika ten tyde van apartheid gebeur het.

Die idee van die “parallelle polis” kom uit die Tsjeggo-Slowakiese Sosialistiese Republiek in 1978 toe dit ’n satellietstaat van die Sowjetunie was. Denkers, soos Václav Benda en Václav ­Havel, het die konsep in daardie sta­dium ontwikkel om die gedrag van afvalliges te verduidelik. Havel, spesifiek, het genoem dat verlossing gevind kan word deur deelname in ’n polities aktiewe burgerlike samelewing of parallelle polis. Havel noem dat die mag van die sogenaamde magtelose gevind kan word in hul vermoë om hulle te organiseer om die “irrasionele momentum van anonieme, onpersoonlike en onmenslike mag” te weerstaan.

Dít is juis die ding wat Suid-Afrika anders maak. As mense swyg, word despotiese mag genormaliseer en ons diverse burgerlike samelewing gaan lê nie sommer nie. So, ondersteun ons kunste, dink krities, neem deel aan gesprekke, vind alternatiewe maniere om toegang te skep tot die hulpbronne wat ons benodig om te leef en hernu só die uitvoerende gesag.

  • Kok is ’n dosent in politieke wetenskap aan Unisa.
Meer oor:  Politiek  |  Kknk  |  Mag  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.