Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons moet bang, wees, sommer baie, baie bang
Martie Retief Meiring

Soos meeste selfbenoemde sinici is ek deksels liggelowig. ’n Vreemde kommunikeerder lig my in China gaan Afrika verslaaf. Die wêreld gaan deur Amazon beheer word. Of Microsoft. Of Google. Of sommer die klein bleeksiel onder in die straat.

En ek dog toe nog die grootste fopnuus ooit was dat pous Franciscus vir Donald Trump voorspraak gemaak het vir sy presidensie. As Beijing vir Hongkong oorvat, is dit pale toe. Maar nee, Wladimir Poetin se gimnasium is die oorlogkamer vir ’n wêreldoorname.

Die ding is, jy wéét jy word deur algoritmes beheer, jy wéét daar’s ’n yslike komplot om ’n nuwe wêreldorde te skep. Jy wéét die groot nihilisme het aangebreek. En jy weet vreemder dinge op aarde as in die hemel is ook moontlik

So verskyn daar by ons dan ook ’n ouerige dametjie met ’n kopdoek en ’n sagte sleurstemmetjie, en haar geliefkoosde uitdrukking is “njet”. Die tollende wêreld kom tot stilstand.

Sy het bepaal dat rokers potensiële ventilator-vrate kan word, daarom is dit njet vir sigaretverkope. Dus nul vir die fiskus, en 100 vir die sluikhandel. Sy maak oorlog teen rook, maar sê niks oor suiker nie. Sal diabete, ’n erge Suid-Afrikaanse verskynsel, nie dalk ook ventilatorvrate kan word nie? Sy swyg soos die graf, ons klein bevelvoerder.

Ek dink nie dit val (heeltemal) in die visier van ons dokter-minister nie, maar ons ondankbare Suid-Afrikaners behoort tog vreugde (of verslaendheid) te put uit die ongekende aankoop van toiletpapier toe sprake van grendeltye aangebreek het.

Bevange en besweet het mense met trollies gehol om dit te vul met berge toiletpapier.

Bevange en besweet het mense met trollies gehol om dit te vul met berge toiletpapier. Sulke angsaankope was nie in 1994 of selfs met Y2K die geval nie. Toe het mense blikkieskos gekoop teen die groot donkerte wat sou kom. Die sosioloë of filosowe kan nog lank herkou aan die toiletpapier-verskynsel. En wat sê die Freudiane?

Hoeveel bome moes nie swig voor die geweldige aanvraag nie. Watter statistikus het die verbruik van toiletpapier nagevors? Hoeveel papier word gebruik in tye van nood(toestande) – meer as andersins? Is daar genoeg toiletpapier beskikbaar vir die opskiethospitale?

Wat sê Mike Schüssler oor die toekoms van ons papiermeule – moet ons belê? ’n Krisis, so glo gedragsmense, moet nooit ongebruik bly nie.

Bedink net die angs as daar skielik, soos met Eskom, weens ’n veroudering in meulens nie aan die aanvraag vir papier voldoen kan word nie. Jy moet oppot. Jy moet ruimte hê. Jy moet kies: toiletpapier of blikkies boontjies.

Bangmaak is maklik die heel beste motiveerder vir enige soort gedrag. Maar nou is die ding dat ons bangmaak-minister eerder ’n Liewe Heksie-aanslag het as ’n kaalvuis Amasone.

Ons sinici (wat maklik alles glo) dink tog onder daardie sierlike kopdoek draai daar ’n kop vol planne om haar sin te kry. Soos Margaret Thatcher op ’n keer gesê het: “The lady’s not for turning”.

Meer oor:  Martie Retief-Meiring  |  Korona  |  Pous  |  Fopnuus  |  Amerikaanse President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.