Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons moet beter na die onnies omsien

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, is met rede bekommerd oor die feit dat 10% van die land se 410 000 onderwysers daagliks afwesig is.

Motshekga het onlangs onthul dat die leerkragte wat daagliks afwesig is sedert 2017 met 2% toegeneem het.

Jeanelle Greyling

Dié syfer weerspieël ’n daling in die gehalte van onderrig wat leerlinge landwyd ontvang. Soos gewoonlik trek die armste mense aan die kortste ent: Gebrekkige skoolonderrig is vir arm leerlinge net nog ’n struikelblok om bo hul omstandighede uit te styg.

Hoewel die syfer in pas is met die internasionale gemiddelde, kan Suid-Afrika dit eenvoudig nie bekostig om sy leerlinge in die steek te laat nie. Die ekonomie ly reeds onder meer weens die vlaag van korrupsie, wat beteken belasting word kort-kort verhoog, beleggers onttrek hul geld aan die land en werkskepping word gestuit.

Die onderwyssektor is nie net baie armoedige leerlinge se laaste hoop om hulself op te hef nie, maar gehalte-onderrig is ook ononderhandelbaar as ons wil hê die land moet ontwikkel.

Trouens, was dit nie wyle oudpres. Nelson Mandela wat gesê het geen land kan ontwikkel tensy sy burgers onderrig word nie?

Die onderwyserskorps staan sentraal in dié ontwikkeling, daarom is hul werkbevrediging noodsaaklik.

Die rede dat ’n tiende van onderwysers daagliks van die skool af wegbly, moet deeglik ondersoek word sodat oplossings gevind kan word.

Sommige sou redeneer onderwysers word te min betaal en dat ’n beter salaris groter positiwiteit sal meebring. ’n Verslag oor onderwysers se gemoedstoestand wat die Skole-ondersteuningsentrum in Oktober verlede jaar uitgereik het, dui egter daarop dat salaris byna geen invloed op leerkragte se werkbevrediging het nie.

Meer as 600 onderwysers landwyd het die sentrum se anonieme vraelys ingevul wat op sosialemediaplatforms versprei is.

Die studie dui daarop dat onderwysers gelukkiger sal wees as hulle ondersteun word, die kurrikulum kan koördineer en by die besluitneming betrek word. Hulle wil ook hê hul doelwitte moet met die organisatoriese doelwitte ooreenstem.

Skoolhoofde, departementshoofde en vakadviseurs speel dus ’n kardinale rol in die personeellede se gemoedstoestand.

Die meeste onderwysers het voorts gesê professionele ontwikkeling is vir hulle belangrik.

Die onderwysers se grootste probleme is swak klaskamerdissipline (63%), ’n te groot werklading (62,8%) en onnodige onderwysadministrasie (47,8%).

Skoolhoofde, departementshoofde en vakadviseurs speel dus ’n kardinale rol in die personeellede se gemoedstoestand.

Dit is hulle wat onmiddellik ’n impak op onderwysers se werkbevrediging kan hê deur aan hul behoeftes soos opleiding en betrokkenheid by die besluitneming gehoor te gee.

Hoewel die onderwysers se klagtes oor hul werklading en onnodige administrasie moeiliker is om op te los, moet die onderwyssektor die probleme uitpak en oplossings daarvoor vind.

Sodoende kan ons leerlinge gehalte-onderrig ontvang en op alle vlakke ontwikkel.

Ten slotte rus die verantwoordelikheid op ouers om hul kinders by die huis te dissiplineer sodat respek vir gesag weer in klaskamers gevestig word.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Jeanelle Greyling  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.