Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons moet die werke van ons hande onthou

Die lewe is so gepak met pligte dat ’n mens soms vergeet wie jy is, waar jy vandaan kom en waarheen jy op pad is. Jou onmiddellike missie is om deur hiérdie dag te kom.

Jy is beswaarlik klaar met een taaklysie, of jy moet ’n vars lysie maak. Dit kan maklik gebeur dat jy in weke, selfs maande, nie bestek opneem van jou handel en wandel nie.

As jy jou kom kry, is Krismis verby. Jy sukkel om te verstaan waar is die jaar heen en wat jy nou eintlik in 365 dae vermag het.

Dan gebeur iets wat jou noop om te briek en die boeke van jou lewe te balanseer. As jy mooi dink, kom jy agter hoeveel mylpale jy bereik het.

Al is dit nie aardskuddend nie, dis jóúne. Jóú sweet en ure het daarvoor getap, en jy skuld jouself die erkenning vir die werke van jou hande.

Onlangs sit ek op my bed, besig om ’n VLV-kombersblokkie te brei. Sonder om daaraan te dink dat dit seker my vyfhonderdste blokkie is, en hoeveel kinders in hospitale met kombersies uit my hande toegedek is.

Terwyl ek brei, kyk ek ’n program oor die natuurlewe in Afrika. Daar is ’n insetsel oor bergkwaggas, en ineens glip my dinkgoed terug na die tyd rondom 1995 toe ek gereeld Uniondale toe is om in die fynboswêreld van die Kammanassieberge navorsing te doen vir my boek Klawervier.

Hy het my letterlik kaalvoet laat trap op die spoor van ’n jagluiperd.

My fynboskennis was bedroë en ek het sterk op Bosbou geleun. Destyds was Henry van Tonder die grootbaas aldaar, ’n man met legio veldkennis. Hy het my geleer om vroegdag, voor die bobbejane begin wei, in ’n waboom te klim om hulle dop te hou.

Hy het my letterlik kaalvoet laat trap op die spoor van ’n jagluiperd. Geduldig onder ’n bakkrans saam met my gesit sodat ek die waarskuwingsfluit van ’n klipspringer met my eie ore kon hoor.

Op ’n keer toe ons met Bosbou se bakkie hoog in die Kammanassie ry, sê hy hy wil my iets wys wat weinig mense al gesien het. Ons stop en hy sê ons gaan oor die nekkie stap, dis naby.

Toe ons oor die nekkie is, lê daar ’n ronde melkwit sirkel in die veld, so groot soos ’n halwe netbalbaan. Nie ’n sprietjie wat in dié wit kol groei nie.

“Gaan sit in die middel van die wit kol,” sê hy. “Dis die rolplek van die enigste bergkwaggas ter wêreld wat in hul natuurlike habitat voorkom én aanteel. Daar kom rol hulle hulself skoon van luise en klitse. Dekades al, daarom is dit so hol.”

Vir lank het ek kruisbeen in die wit poeierholte gesit. Wat ’n eenmalige voorreg om in ’n kwaggarolplek te huil en te bid.

En toe vergeet ek gaandeweg daarvan as een van dié mylpale in my lewe. Totdat ek ’n kwarteeu later ’n VLV-kombersblokkie sit en brei en ’n bergkwagga op televisie sien.

Só het ons almal ons kwaggarolplekke in die berge van die lewe. Ons moet dit ag en inreken. Want iewers wag nog ’n rolplek waarby ons kan vertoef. Ons moet net bereid wees om oor die nekkie te stap.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Take
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.