Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons móét dink aan die toekoms

Ons is nou in dag 13 van die nasionale staat van inperking weens Covid-19 – en dit gaan nie goed nie. Die enigste ding waaroor ons seker kan wees, is dat nóg slegter tye wag.

’n Landwye veldtog om mense vir die virus te toets het vandeesweek begin. Hopelik sal dit help om ons ’n duideliker prentjie te gee van wat vorentoe wag. Ons hoef egter nie te wag op die uitslae van dié veldtog om te besef ons is diep in die moeilikheid nie.

Die ervaring van lande soos China en Suid-Korea wys dat daar tog lig aan die einde van die tonnel kan wees. Die Chinese stad Wuhan, waar dit alles begin het, is oënskynlik oor die ergste en is besig om sy deure vir besigheid en ’n terugkeer na normaliteit oop te gooi.

Midde-in die pandemie is dit moeilik, dalk selfs onverantwoordelik, om te dink aan die uitkoms en beter tye. Maar ons moet dit doen, sonder om noodwendig ons oog van die bal te haal om die krisis te bestuur.

Dit is egter net ’n kwessie van tyd voor ons land en Afrika deur die volle krag van die pandemie getoets gaan word.

Die pandemie sou altyd ’n moeilike uitdaging vir ’n land soos Suid-Afrika wees. En ook vir Afrika, wat nog nie regtig deur die virus getoets is nie. Dit is egter net ’n kwessie van tyd voor ons land en Afrika deur die volle krag van die pandemie getoets gaan word.

Intussen is dit noodsaaklik dat ons hou by die ingeslane weg. Dit is duidelik in lande soos China en Suid-Korea dat streng inperking werk. In China, ’n outokratiese staat, is dit maklik vir die regering om burgers te dwing om gehoor te gee aan die maatreëls wat neergelê is om die pandemie te stuit.

Dit sal nie werk in ’n land soos Suid-Afrika waar ’n vry media en burgerlike samelewing paraat is om enige ondemokratiese vergrype of selfs net neigings daartoe, in die kiem te smoor nie. Vra maar vir ministers Fikile Mbalula, Bheki Cele en Lindiwe Zulu.

Hopelik besef hulle nou dat ’n benadering van “skop, skiet en donner” nie in ons samelewing sal werk nie. En tereg ook so. Sukses teen die pandemie is van die grootste nasionale belang, maar nie ten koste van ons relatief jong grondwetlike (en menseregte-)argitektuur en kultuur nie.

Dit is een van die belangrikste eedsverpligtinge van die president en hy moet sorg dat sy kabinetslede nie afwyk van hul eie soortgelyke verpligtinge nie. Dit is egter net so belangrik dat Suid-Afrikaners hul eie verpligtinge in hierdie tyd van krisis besef en nakom.

Die verlede kan nie opgeroep word as verskoning vir die optrede wat net die pandemie in sy kwaad stook nie. Daar is hope ruimte vir gesonde verstand om op die voorgrond te tree in die stryd teen die Covid-19-virus.

Suid-Afrika se situasie is vererger deur Moody’s se afgradering van ons nasionale skuld. Hoewel dit nie heeltemal as ’n verrassing gekom het nie, kon dit nie op ’n erger tyd gebeur het nie – ons kanse op ’n spoedige ekonomiese herstel is ’n gevoelige knou toegedien.

Maandag is berig dat die tesourie ’n lening van R19 miljard van die Nuwe Ontwikkelingsbank (NOB) beplan.

Hoe ’n mens ook al daarna kyk, dit is beter as om die geld te leen by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), wat internasionale inmenging in ons interne sake sal ontlok. Sover bekend is die NOB, die sogenaamde Brics-bank, nie naastenby so voorskriftelik en inmengerig soos die IMF nie.

Suid-Afrika, as deel van die Brics-groepering, is ’n stigterslid van die NOB. Die lening, sou dit realiseer, sal ook nie so duur wees soos die normale kanale vir sulke transaksies (soos byvoorbeeld die IMF) nie.

Desperate tye vereis desperate maatreëls. Covid-19 het Suid-Afrika in ’n desperate situasie gedompel, wat die lening by die NOB regverdig. Dit sal hopelik ’n welkome blaaskans in hierdie bedompige tye bring.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Regering  |  Inperking  |  Gemeenskappe  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.