Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons moet kan saampraat oor helde uit ons diverse verledes

Die nuutste erfenisdebat het Frederik R van Dyk laat wonder of ons nie maar eintlik stry oor die grond waarop erfenisgoed gebou of opgerig is nie?

Die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria. Foto: Herman Verwey

Dit is Erfenismaand. Nog voordat die gebruiklike geveg oor Braaidag versus Erfenisdag kon uitbreek, maak die kabinet opslae met ’n skielike Vrydagmiddag-aankondiging van temaparke wat geskep gaan word vir onder meer politiek sensitiewe monumente, herdenkingsmiddele en standbeelde.

Is dit ’n poging tot ’n gebalanseerde vertoon van openbare erfenisgoed, of word een hegemonie net deur ’n ander vervang?

Dit is wel seker dat daar geen versoenende vooruitgang sal wees solank Suid-Afrikaanse kultuurgemeenskappe nie regstreekse insae het rondom die plasing, benaming, oprigting en uitbeelding van erfenisgoed nie.

Die Nasionale Wet op Erfenishulpbronne (Wet no. 25 van 1999) het hierdie versoenende oogmerk en ’n bemagtigende raamwerk vir diverse erfenisbelange.

Die voorwoord van die Wet lui: “Hierdie wetgewing is daarop gemik om goeie bestuur van ons nasionale erfenisbelang te bevorder, en gemeenskappe aan te moedig en te bemagtig om hul nalatenskap te koester en te bewaar, sodat die toekomstige geslagte dit kan beërwe.”

Suid-Afrika se unieke situasie

Die standbeeld van Cecil John Rhodes teen die hange van Tafelberg wat onlangs gevandaliseer is. Foto: Jaco Marais

Kritici van die kabinetsbesluit word vinnig as onsensitiewe behoudendes beskou, wat die openbare ruimtes van ons land aan niemand anders gun nie.

Boonop word die gelapte ou verweer dat erfenisgoed hul plekke moet behou “omdat die verlede nie uitgewis moet word nie”, toenemend afgeskryf. Daar word gesê dat hierdie verweer ruimtelike geregtigheid probeer wegredeneer met ? aanspraak op die ewigheid van die verlede.

'n Mens kan egter insien waarom sommige hul bekommer dat die ANC-regering ’n bespotlikheid van erfenisgoed sal maak in parke wat na iets tussen nuwe korrupsie-geleenthede en makabere dieretuine klink.

Die regering het juis nie ’n goeie rekord wat ’n heelhartige respek vir burgers se kulturele of materiële welsyn betref nie.

Daar is kwelvrae oor die burgerlike gelykwaardigheid van die Afrikanergemeenskap (wat duidelik reeds voorsien dat hul erfenisgoed in die visier is) op grond daarvan dat die regering dalk met ’n breë besem enigiets wat na Europese afkoms ruik, by ’n kulturele konsentrasiekamp wil invee.

Hoe moet diverse identiteite en Suid-Afrikanerskap saam bestaan?

Maar stry ons nie eintlik oor die grond waarop erfenisgoed gebou of opgerig is, of waaraan ’n naam gegee word nie?

Is die geveg oor ruimtelike uitbeelding dalk ’n ander manier waarop die groter spanning tot uiting kom; die kwelvraag oor hoe diverse identiteite en Suid-Afrikanerskap saam moet bestaan?

Ons is oplaas nie ’n etnies-gegronde federasie waar elke kultuurgroep sy eie deelstaat kon uitkerf nie. Die uitdaging is om in een maatskaplik-politieke ruimte vir talle groepe ’n plekkie in die son te gee.

Die politieke skikking van die 1990’s was ’n streep in die sand wat eggo’s dra van die naoorlogse Universele Verklaring van Menseregte van 1948.

Soos in die verklaring, wend die Suid-Afrikaanse skikking van die 1990’s hom tot ’n daadwerklike breuk met die politieke doenwyses van die verlede, toe paternalisme, koloniale oorheersing of gewelddadige verowering deur verskeie groepe op verskillende tye die norm was.

“Suid-Afrika” het eers in 1910 tot stand gekom, buitelandse politieke verbintenis is in 1961 afgegooi en in 1994 is die pad oopgestem na inklusiewe politieke instellings.

Die plek voor die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat waar die standbeeld van M.T. Steyn voorheen gestaan het. Foto: Charles Smith

Voor die aanvang van die 20ste eeu was hierdie territoriale gebied ’n potjiekos van grommende republieke, koninkryke en stamgebiede, kolonies en protektorate. Daar was oorloë van verowering, onafhanklikheidstryde, rebellies, grootskaalse volksverdrywings en periodieke oorloggies tussen afgeleë stamhoofde.

Só leer talle geskiedskrywers, navorsers en inheemse mondelinge oorvertellings ons.

Toe oudpres. Nelson Mandela in die Rivonia-verhoor die hoop op ’n toekoms sonder oorheersing van een groep deur ’n ander uitgespreek het, was hierdie geskiedenis waarskynlik vlak in sy geheue. Sy geslag was nie die enigstes wat met konflik hier te plaatse bekend was nie.

onialisme enersyds of Nasionale Party-gedrewe apartheid andersyds onderbreek is nie.

Die Grondwet van 1996 is ’n samevatting van ons nasionale versugting na ’n nuwe begin en ’n streep in die sand. Ons erken daarmee ’n liberaal-demokratiese staat gegrond op gelyke vryhede, eerder as ’n hiërargiese wedywering om oorheersing.

Ons wil nie die politieke doenwyses van die verlede herhaal nie. Ons verlede is nie ’n eenvormige, romantiese en mitiese Suid-Afrika wat deur Engelse kolonialisme enersyds of Nasionale Party-gedrewe apartheid andersyds onderbreek is nie.

Inteendeel, ons deel ’n woeste geskiedenis; ’n game of thrones waar magtige groepe telkens die heerserskroon van verskillende streke begeer het.

Suid-Afrikanerskap en diversiteit kan saam bestaan

Frederik R van Dyk

Twee feite staan: Eerstens skep die grondwetlike bedeling ’n regstaat wat breek met ’n verlede vol oorheersingsdrif, en tweedens erken die nuwe regstaat die gelykwaardige saambestaan van mense uit alle etniese agtergronde. Agentskap van eie erfenis (sonder oorheersing) word as ’n dryfveer van die nasie beskou; die Grondwet en die Erfeniswet van 1999 erken juis die koestering daarvan.

Wanneer die kabinet openbare ruimtes wil hervul met erfenisgoed wat eie is aan Suid-Afrika se nuwe staatkundige rigting, sal ’n mens dus verwag dat ’n groot verskeidenheid figure en gebeure uit veral die 1990’s hier sal figureer, omdat daardie tydperk met die ganse woelige verlede gebreek het en nie slegs met die apartheidsbestel nie.

Die kabinet erken dit tog in wese deur ook die koloniale tydperk in hul verklaring te noem.

Die gevaar bly dat die faksionele ANC-regering oplaas die terminologie “postkoloniaal”, “postapartheid” en “grondwetlike waardes” sal buig en plooi om net hul eie ideologiese narratief oor die geskiedenis te pas.

Hierdie ideologie blyk ná dese nader aan ’n sentralistiese en hiërargiese oorheersingsdrif as aan konsultatiewe, grondwetlike demokrasie te wees.

Ons sal moet aandring dat ons Suid-Afrikanerskap, te wete ons wortels in die staatsvorming van die 1990’s, as openbare erfenisgoed in openbare ruimtes staanplek vind. Die Erfeniswet van 1999 maak dit moontlik en kan die ANC keer om openbare ruimtes deur diktaat te bestuur.

Dit sal sin maak om die uiteenlopende staatsvormers uit die 1990’s en daarna 'n eerste kans op openbare herdenkingsmiddele te gee.

Die feit dat Suid-Afrikaners se gedeelde erfenisgoed ten beste in die 1990’s te vinde is en dat ons openbare gelykwaardigheid tussen mense en hul herkomste nastreef, beteken dat die regering van die dag se subtiele voorkeur van etnies-kulturele groep nie openbare erfenisgoed mag monopoliseer nie.

Dit sal daarom sin maak om die uiteenlopende staatsvormers uit die 1990’s en daarna 'n eerste kans op openbare herdenkingsmiddele te gee. Daarna, ingevolge die Erfeniswet, behoort gemeenskappe te kan saampraat oor hoe om heldefigure en gebeure uit ons diverse verledes op openbare en gedeelde grond te vereer.

Laastens, sou die groter gemeenskap nie vir ’n bepaalde herdenkingsmiddel se voortgesette teenwoordigheid in ’n ruimte aanvoeling hê nie, sal ’n groep wat graag die erfeniswaarde daarvan wil voortsit, die herdenkingsmiddel altyd op private grond met kwasi-openbare toegang kan staanmaak.

Sodoende balanseer ons gemeenskappe se behoeftes om self met hul gewaardeerde erfenisgoed om te gaan, en skryf een groep nie vir ’n ander een voor oor hoe ’n komplekse geskiedenis verstaan moet word nie.

Sodoende balanseer ons Suid-Afrikanerskap, kulturele identiteit en erfenis op ’n wen-wen doenwyse, sonder om ons tot “temaparke” as kulturele laertrekkery of ommuurde erfenis-apartheid te wend.

* Van Dyk is ’n LLM-kandidaat en direksielid van StudentePlein NWO, ’n organisasie wat Afrikaanse akademiese ondersteuning aan Matie-studente bied. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Frederik R Van Dyk  |  Temaparke  |  Standbeelde  |  Kolonialisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.