Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons moet met mekaar leer saamleef

Die konstruktiewe lewe saam van mense in min of meer homogene gesins-, familie-, vriendskaps- en kultuurkringe is reeds moeilik. Mense is immers komplekse wesens. Ons saambestaan in kontekste van diversiteit en verskeidenheid is nóg moeiliker. Dit word verder deur eeue van afstand, vooroordeel en diskriminasie bemoeilik.

Ons moet kennis, waardes en vaardighede ontwikkel om vreedsaam en vreugdevol met mekaar te lewe. Ons moet sogenaamde transformasiebevoegdhede ontwikkel om regverdig, vreedsaam en vreugdevol saam te leef. Ons is kundiges op die terrein van “divers en apart”, maar ons moet nog so baie oor “divers en saam” leer.

Op ’n bewuste vlak is verreweg die meeste van ons teen vooroordele soos rassisme, klassisme, seksisme, homofobie en diskriminasie op grond van faktore soos ouderdom en gestremdheid gekant. Dis egter op ’n subtiele en onderbewuste vlak dat ons mekaar dikwels seermaak en ons so baie moet leer oor die diskriminasie en vooroordeel wat in ons binneste skuil.

Ons moet uiteraard waak teen die soek van vooroordeel in elke woord of handeling.

’n Wit manlike kollega wat ek oor jare heen baie waardeer, het op ’n kol vertel hoe die verskuilde rassevooroordeel in hom ontmasker is. Ek weet hoe sterk hy veg teen diskriminasie. Hy vertel egter dat hoewel hy eksplisiet teen rassisme is, hy nog subtiel met rassevooroordeel leef. ’n Swart kollega het hom gehelp om dit te ontdek. Dié kollega het vir hom gesê hy luister op vergaderings baie aandagtig wanneer wit mense ’n bydrae lewer. As swart mense egter iets sê, verraai sy liggaamstaal dat hy nie ernstig luister nie. Hy verwag intellektuele oplossings van wit mense, maar nie van swart mense nie.

Uit my voltydse gemeentejare onthou ek nog hoe die gesigte van mans en vroue op kerkraadsvergaderings altyd na die ouer, manlike ouderlinge vir oplossings vir moeilike sake gedraai het. Dit het weer ’n vooroordeel op grond van gender en ouderdom verklap.

Ons moet uiteraard waak teen oorsensitiwiteit en die soek van vooroordeel in elke woord of handeling.

Dis egter wel belangrik dat ons in heterogene, diverse saam-kontekste soos werkplekke, skole, kolleges, universiteite, toenemend ook familie- en vriendekringe, en hopelik ook kerke, doelgerig luister na mekaar, leer van mekaar en sensitief vir mekaar wees. Ons moet informeel en formeel aan transformasiebevoegdhede bou.

Formele transformasiekursusse vir onderwysleiers, opvoeders en leerders verdien byvoorbeeld ernstige oorweging in diversifiserende en transformerende skole – net soos in ander opvoedkundige inrigtings, en samelewingsinstansies soos kerke.

Nico Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.