Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons moet nog baie leer oor nierassigheid

In Psalm 32:15 kry ons die versekering dat God ons wil onderrig en leer aangaande die weg wat ons moet gaan.

Een van die grootste uitdagings in Suid-Afrika en wêreldwyd is die bou van ’n nierassige samelewing. Om dit te verwesenlik moet ons baie leer en het ons baie raad nodig.

Die visie van nierassigheid beteken dat ons mense as een ras beskou en hulle nie in verskillende rasse indeel nie, soos wat Westerse mens- en samelewingsbeskouinge oor eeue heen probeer doen het.

Dit beteken verder ek erken binne die een menslike ras is daar verskillende groeperinge. Hulle deel sekere sosiale en kulturele gebruike, maar is nie inherent homogeen nie.

Nierassigheid beteken ook dat ons waak teen sogenaamde rasse-essensialisme – gemeenskaplike eienskappe van ’n groep wat vanweë sosiologiese faktore ontwikkel, verkeerdelik toegeskryf aan vermeende gemeenskaplike genetiese eienskappe van ’n groep. Vrae soos hierdie word dan opgeroep: Is die voorkoms van sekere siektetoestande by spesifieke groepe toe te skryf aan inherente genetiese faktore of aan faktore soos eet- en drinkgewoontes?

Is die gemiddelde laer suksessyfers van leerlinge uit sommige groeperinge te wyte aan beweerde inherente minderwaardige kognitiewe vermoëns of eerder aan uiters ongunstige opvoedkundige, sosiale en ekonomiese toestande?

Apartheid het hierdie indelinge gebruik om mense te onderdruk en as minderwaardig voor te stel.

Nierassigheid beteken ook dat ek wel gebruik maak van die kleuronderskeidinge van die apartheidsera, wat mense in vier rassegroepe ingedeel het, maar met groot wysheid en na gelang van die eise van elke konteks.

Apartheid het hierdie indelinge gebruik om mense te onderdruk en as minderwaardig voor te stel. In demokratiese Suid-Afrika moet die noodsaaklike en interimgebruik van hierdie kategorieë bevryding, gelykwaardigheid en menswaardigheid in die oog hê.

Ter wille van die toekomstige insluiting van groeperinge wat in die verlede uitgesluit is uit samelewingsinstellings en -prosesse, moet ons onvermydelik nog vir ’n interimperiode hierdie kategorieë gebruik.

Om genoegsame kennis te ontwikkel is dit ook noodsaaklik om ’n verskeidenheid van kennissoekers uit ’n verskeidenheid van agtergronde met ’n verskeidenheid van gesigspunte en idees te betrek.

Ons mag egter nie gemaklik raak met die gebruik van hierdie kategorieë nie; ons mag dit nie normaliseer nie.

Ons moet die onbedoelde negatiewe gevolge van die verkeerde, ongenuanseerde, konteks­lose en polariserende gebruik van hierdie kategorieë raaksien en verreken.

Ons moet nóú hierdie pynlike kategorieë reg gebruik, ten einde dit nooit weer te gebruik nie. Ons het inderdaad baie leerwerk.

Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Sielsgoed  |  Godsdiens  |  Geloof  |  Nierassigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.