Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons moet ons verlede nog ‘uitsort’

Eers is Afrikanergeskiedenis Suid-Afrikaans genoem en nou gebeur dieselfde met ANC-geskiedenis. Maar wie se land is dit eintlik? vra Danny Titus nadat hy die fliek Krotoa gesien het.

Danny Titus

Oudregter Johann van der Westhuizen skryf onlangs in ’n rubriek Jan Smuts het as “internasionale staatsman die Universele Verklaring van Menseregte tot voordeel van die mensdom help opstel, maar was vir sy eie mense ’n verraaier”.

Smuts was wel betrokke by die opstel van die Handves van die Verenigde Nasies wat in 1945 aanvaar is, maar hy het nie die Universele Verklaring van Menseregte van 1948 help opstel nie. Dit is twee totaal verskillende dokumente. Die literatuur oor Smuts se beperkte toewyding tot menseregte van die tyd is baie duidelik.

In die artikel "Smuts, the United Nations and the Rhetoric of Race and Rights" in die Journal of Contemporary History staan daar dat Smuts homself as volg beskryf het:

“Ek gaan voort om te swem in my eie see van moeilikhede en ek mag nog daarin verdrink. Aan die een kant is ek ’n mens en ’n humanis, en die outeur van die aanhef tot die Handves (van die VN). Aan die ander kant is ek ’n Suid-Afrikaanse Europeër, trots op ons erfenis en trots op die skoon Europese samelewing wat ons opgebou het in Suid-Afrika, en wat ek vasbeslote is om nie te sien verlore gaan in die swart poel van Afrika nie.”

Ek spreek my nie op die oomblik uit oor die idee dat die geskiedenis sogenaamd binne konteks gelees moet word nie.

Die seksuele omgang tussen wit, bruin en swart is ’n deel van ons geskiedenis wat nog meer aandag verdien.

Ek wys bloot daarop dat die stelling dat Smuts die Universele Verklaring van Menseregte help opstel het, foutief is.

Suid-Afrika het trouens nie ten gunste van die verklaring gestem nie en was een van die agt lande wat hulle van die stem weerhou het.

Die geskiedenis in ons land is nog lank nie uitgeklaar nie. Soos Pieter-Dirk Uys op ’n slag gesê het: Ons toekoms is lank reeds uitgesort, dis daai geskiedenis van ons wat so onseker is.

Heersers en slavinne

Ek het die fliek Krotoa onlangs gaan sien. ’n Deel van ons geskiedenis wat vir eeue so gebrekkig voorgestel is, kry eensklaps rigting. Ons Khoi-voorsate wat vir so lank as barbaars en mensvretend voorgestel is, stinkend, stelend en zuipend, kry eensklaps die erkenning wat hulle verdien, as die oorspronklike eienaars van ons land.

Krotoa, wat deur die Hollanders omgedoop is tot Eva, word eindelik erken vir haar voortrekkersrol tussen Europa en Afrika, ’n vrou tussen die Khoi-manne en die Hollandse manne.

Ná vele omswerwinge tussen die kulture, die tale en die manne staan sy op teen die mag van die Hollandse besetters en spel duidelik aan hulle uit hoe hulle haar land kom beset het.

Volgens die fliek het sy die manne ook maar goed opgewen. Ek herinner my sommer aan die Arbeidersparty wat tydens die apartheidsjare van die sewentigs gesê het: Apartheid deur die dag, maar nie in die nag nie . . .

Die seksuele omgang tussen wit, bruin en swart is ’n deel van ons geskiedenis wat nog meer aandag verdien.

Dit was die heer Vernie February wat in sy 1981- Leidense proefskrif reeds die volgende vermeld: Op 22 Augustus 1660 betrap Jan van Riebeeck ene konstabel Willem met ’n slaaf, ene Maria, in die bed. Ook opgeteken is vryburger Elbertsz wat op heterdaad betrap is met sy slavin Adouke.

Dan was daar die besoek van die kommissaris baron Van Rheede in 1685 aan die slawekwartiere by Drakensteyn. Hy vertel van die slawevroue wat hulle met uniforms van Hollandse soldate en matrose bedek het, en dat daar klein kinders was wat so wit soos Europeërs was.

Baie van die moeders het gewerk met klein kinders vasgemaak op hul rûe. Die kinders het meer gelyk na kinders van Hollandse ma’s as van swart vroue. Kinders van gemengde afkoms, die Afrikaanse taal van gemengde herkoms, en ’n Suid-Afrika wat van kindsbeen af ’n gemengde Suid-Afrika is.

Gasvryheid van die Khoi

En so gloei dit voort. Anders as die dominante geskiedenis-perspektief van die Europese skepe en besetters is daar ook die perspektief van hulle wat op die land was toe die skepe kom vasmeer het.

So was daar die Haerlem wat in 1647 aan die Kaap gestrand het. Ek het vantevore in hierdie ruimte geskryf oor die protesnota (“Remonstrantie”) van Leendert Janszen aan die VOC: dat alles wat oor die eeue oor die Khoi-mense geglo en geskryf is net praatjies was, “Jan Haegels praetjen” noem Janzsen dit in 1648.

Ons, skryf hy, 70 van ons, het vir ’n jaar onder die mense geleef en ons het hulle as gasvry ervaar. Die VOC word toe daarvan oortuig om die verversingstasie aan die Kaap te stig.

Niks van ’n gevolksplantery nie, gewoon ’n handelstrategiese ingreep. Dit was die gasvryheid van die Khoi-mense, hul varswater en hul vee wat die knoop vir die VOC deurgehak het.

Weinig hiervan word in die Suid-Afrikaanse geskiedenisboeke vertel.

In die Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika van Giliomee en Mbenga van 2007 word daar beswaarlik hierna verwys. In hul chronologielyn is die datum van 1647 totaal afwesig.

Anders as in die Rijksmuseum se uitstalling Goede Hoop, Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600, waar dit prominensie kry met Nederlandse skilderye wat die periode en die onderhandelinge tussen die Khoi-mense en die Nederlanders uitbeeld.

Dilemma van geskiedskrywing

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns publiseer hul Geskiedenis van Suid-Afrika, van voortye tot in 2012. Hulle is duidelik omgekrap dat daar soveel alternatiewe geskiedenis in skole geleer word, dis nou alternatief tot die bestaande apartheidsgeskiedenis, struggle-geskiedenis. “Dan skryf ons self ’n geskiedenis,” is die eerste sin van die Akademie se inleiding tot die boek.

Sonder om in te veel detail te gaan, beklemtoon die Akademie se boek juis die dilemma van geskiedskrywing in ons verdeelde land.

’n Afrikanergeskiedenis wat Suid-Afrikaans genoem word. Hiervan het ons boordensvol gehad.

Nou is dit ANC-geskiedenis as Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Hopelik sort ons ons onsekere verlede iewers in die toekoms uit.

My geld is op Krotoa as beginpunt vir die gesprek. Wie was eerste hier, wie se land is dit nou eintlik? Kom ons thetha.

* Dr. Titus is die ATKV se uitvoerende direkteur: kultuur.

Meer oor:  Danny Titus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.