Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons moet reg leer praat oor al die -ismes

Die openbare debat oor rassisme die afgelope tyd dui weer eens daarop dat ons ’n taal en logika moet aanleer om oor hierdie euwel in ons siele en samelewings te praat.

Rassisme dui op subtiele en onderbewuste opvattinge, persepsies, perspektiewe, voor­veronderstellinge en vooroordele ten opsigte van kleur- en etniese groepe.

Hiervolgens word sommige voorgestel as minderwaardig weens fisieke eienskappe soos velkleur, gesigvorm, neusgrootte, haartekstuur, en intellektuele eienskappe soos die vermoë om skeppend, ontdekkend en innoverend te wees, asook moraliteit en geestelikheid.

Rassisme dui ook op sosiale strukture wat gevestig is op grond van hierdie vermeende meerderwaardigheid en minderwaardigheid. Derdens dui dit op godsdienstige en filosofiese pogings om bogenoemde goed te praat.

Soms verraai taalgebruik, houding en selfs liggaamstaal die teenwoordigheid van hierdie vooroordele.

Dit help die openbare gesprek as ons dit in gedagte hou. Dit help ook as ons erken dat ons op bewuste vlak gekant kan wees teen rassisme, rassistiese strukture wil afbreek, en pogings om rassisme goed te praat verwerp, maar dat rassistiese vooroordele dalk op onderbewuste vlak by ons skuilgaan. Soms verraai taalgebruik, houding en selfs liggaamstaal die teenwoordigheid van hierdie vooroordele.

Hierdie onderbewuste vooroordele, ten spyte van ons bewuste verwerping daarvan, geld nie net rassisme nie, maar ook euwels soos seksisme, klassisme en homofobie. Ons gesprekke hieroor en ander vorme van diskriminasie gedy as ons die openheid toon om tot bewusmaking en korrigering van die verkeerde te kom.

Die erkenning van hierdie onderbewuste vooroordele laat ons verstaan hoekom mense wat lank hieronder gely het, en steeds ly, ’n sensitiwiteit hiervoor ontwikkel het.

As mans moet ons selfondersoek doen as vroue onderbewuste seksistiese vooroordele by ons bespeur. Wit mense moet eweneens nie te gemaklik swart mense se identifisering van onderbewuste vooroordele by hulle as oorsensitiwiteit afskiet nie.

Van diegene wat hul lewe lank ly onder euwels soos rassisme, word morele heldhaftigheid gevra.

Enersyds word gevra dat ons die pogings van mense raaksien en waardeer om euwels op bewuste vlak te bestry. Andersyds word gevra dat ons mense ferm en deernisvol wys op hul onderbewuste vooroordele.

Erkenning van onderbewuste vooroordele laat ons aan gesprekke deelneem in die wete dat min van ons buite die poel van skuld staan.

Die interverweefdheid van rassisme, klassisme, seksisme, homofobie en ander onregte laat ons juis ook besef ons kan miskien morele helde wees in die afbreek van een van hierdie euwels, maar ons huisves dalk op minstens onderbewuste vlak van die ander euwels.

  • .
Meer oor:  Nico Koopman  |  Rassisme  |  Seksisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.