Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Danny Titus: Ons moet veg vir beter toekoms

Dis deesdae maklik om moedeloos te raak oor Suid-Afrika, maar ons moet bly veg vir ’n beter toekoms, sê Danny Titus.

“Ons” en “hulle”? EFF-lede verlaat die parlement voor pres. Cyril Ramaphosa se onlangse staatsrede. Foto: Gallo Images

’n Vriend van my wat in die versoeningsveld werk, vertel my hoe moeilik dit in ons land geword het om oor versoening te praat.

Uit die wit gemeenskap bemerk hy ’n ongelooflike onmag oor die korrupsie en swak bestuur in die land.

“Los my net uit, los my uit oor apartheid,” sê mense. Mense wat vantevore lustig deelgeneem het aan gesprekke raak nou net stil en dryf weg.

Ek dink dit strek oor die grense heen, sê ek aan hom. Daai onmag, daai gevoel van toeskouer wees in jou eie land wanneer alles klaaglik rondom jou misluk. Dit strek oor ons hele gemeenskap.

Ons bekyk die ekstremisme van ’n afstand. Die rooi oorpakke gaan aan en aan. En dit is ons demokrasie. Nie lank gelede nie was die ekstremiste spierwit, in swart militêre uniforms en welluidend. Vandag is die ekstremiste swart en in rooi oorpakke.

Tog, is daar mense wat voortgaan om oplossings te bly soek in ons land. Mense wat woeker, wat plant en oes op ons lande, wat investeer, wat studeer, wat mense voed, van die strate afhaal, wat sê ons is nie hier as gevolg van die gemors nie, maar ten spyte daarvan.

Ons Grondwet begin so treffend met: “Ons die mense van Suid-Afrika.” Maar ’n mens sien byna niks van daardie “ons” nie.

Veral in die politiek het ons in kampe verval: Eerder ’n “julle” en baie weinig van ’n “ons.”

Ons Grondwet sê ons erken die ongeregtighede van die verlede.

“Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van ons Republiek, ten einde, die verdeeldheid van die verlede te heel, en ’n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid, en basiese menseregte te skep.” Ens. ens. ens.

Waaraan anders moet ons die stand van ons land meet? Hoe ver het ons nie verwyderd geraak van ons Grondwet nie.

Dan is daar nog die ander deel uit die aanhef van die Grondwet: “Ons glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.”

Rêrig?

Tog, is daar mense wat voortgaan om oplossings te bly soek in ons land. Mense wat woeker, wat plant en oes op ons lande, wat investeer, wat studeer, wat mense voed, van die strate afhaal, wat sê ons is nie hier as gevolg van die gemors nie, maar ten spyte daarvan.

Groot eksperiment

Danny Titus

Dan is daar mense wat steeds glo ons moet bly praat, harde dialoog voer.

Hulle laat my dink aan Elizabeth McCord van Madame Secretary-faam toe hulle gekonfronteer word met ekstremisme. “Alexis de Tocqueville het ons vroeë demokrasie (in die VSA) ’n groot eksperiment genoem. Dit herinner my hoe broos ons is.” Sy sê elke generasie kan kies of hulle met die eksperiment wil voortgaan of nie. Ons kan nie toegee aan die swakhede wat ons so broos maak nie. Die ekstremisme is ’n opsie, maar dis vals en duister.

Ek sal nooit ophou om te veg om die groot eksperiment te laat slaag nie. Die laaste twee weke is ek gekonfronteer met sulke mense.

’n Nuwe instituut bring Afrikaanssprekendes bymekaar om met enkele ANC leiers gesprek te voer, openhartig, robuus en veral baie eerlik. Dit gaan veral oor die passie om in die land te bly en hul kinders hier groot te maak. Maar ook ’n passie om die ANC-struikelblokke uit die weg te hê.

Dit gee my sommer baie hoop wanneer daar ondanks die moedeloosheid en onmag steeds mense is wat ’n verskil wil maak, wat die mislukkings wil omdraai.

Die ANC se Paul Mashatile antwoord oor die dieper samelewing wat Suid-Afrika moet word. Dis maar ’n politieke toespraak en egte gesprekke moet nog begin, maar ’n waardevolle begin is gemaak om weer die gesprekke van vroeër voort te sit.

Vrydag het ek ’n ontbytafspraak bygewoon met enkele Afrikaanssprekendes wat net anders wil omgaan as negatief. Enkeles is ondertekenaars van die onlangse verklaring oor apartheid. Hulle is eerlik en opreg om duidelike afstand van apartheid te doen.

Ook ’n begin wat groot belofte inhou om die stereotipes wat steeds bestaan, af te breek.

Dan is daar ’n baie prominente kerk wat gesprek wil voer oor die soms wollerige proses van transformasie. Hoe kan hulle daarby betrokke raak en hoe kan daar ook na hulle geluister word? Dit gee my sommer baie hoop wanneer daar ondanks die moedeloosheid en onmag steeds mense is wat ’n verskil wil maak, wat die mislukkings wil omdraai.

Jonger mense wil ’n verskil maak en wil nie juis met ons ouer mense se bagasie opgesaal wees nie.

By die ATKV vervul ek ’n mentorsrol vir jonger bestuurders. Ons gesprekke is energiek en leersaam. Ons laaste gesprek het gegaan oor die generasiegaping en die onbegrip tussen die generasies. Ons seil so maklik bymekaar verby. Ons sit in verskillende kontekste vas. Hulle het ’n enorme bydrae wat nie misgekyk kan word nie. Hulle wil ’n verskil maak en wil nie juis met ons ouer mense se bagasie opgesaal wees nie.

Ons het soveel te sê met ons opgehewe vingertjie. Dis dalk tyd om ons mond te hou en te luister na die jonger kragte buite die parlementêre praathuis.

Hoekom wil mense nog praat? Alles is so duister. Skandes op skandes. Parlementariërs stel niks voor nie. Ons ken die oorsake; ons sien hoe ons staatsadministrasie uitmekaar val. Dit is lank nie meer enkele gevalle nie. Dis ingebak in die hele stelsel.

Maar dan roep ’n mens weer Edmund Burke se aanhaling in herinnering: “All that is required for evil to triumph is for good men to do nothing.”

* Dr. Titus is ’n onafhanklike politieke ontleder. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Atkv  |  Anc  |  Paul Mashatile  |  Demokrasie  |  Korrupsie  |  Versoening  |  Grondwet  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.