Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons moet verskille erken en in een land saamleef

In ’n tyd van hernude spanning en polarisasie is dit belangrik dat Suid-Afrikaners ophou om op mekaar te skree, skryf Danny Titus.

Danny Titus

Dit woel weer orals in ons landjie.

Ons het nog nie eens kans gekry om die sagte revolusie van pres. Cyril Ramaphosa oor die kamp van oudpres. Jacob Zuma behoorlik te verteer nie.

Die besluit oor grondonteiening sonder vergoeding het die land aan die gons, dan is daar die parlementêre ondersoeke na staatsondernemings, korrupsie, die Valke wat skynbaar verwoed aan die werk is, die Nasionale Vervolgingsgesag wat Zuma gaan vervolg, ons ekonomie, en o ja, ons vorige landsvlag.

Die stelling van die Australiese minister van binnelandse sake, Peter Dutton, dat wit Suid-Afrikaanse boere welkom sal wees om in sy land te kom woon, het ’n interessante dinamiek te voorskyn gebring.

Dit lyk of daar net nie begryp kan word dat ander Suid-Afrikaners en mense in die buiteland ook standpunte hieroor kan hê nie.

Ewe skielik is AfriForum nou die vark in die verhaal omdat hy Suid-Afrika so skeef in die buiteland sou uitbeeld.

Ons heersers sal moet besef dat hul optredes gevolge het.

Het AfriForum nie die reg om sy saak bekend te maak nie? Moet almal kwansuis agter die musiek van die nuwe heersers aan loop? Dis byna asof hierdie soort besluite geneem kan word, maar dat Suid-Afrikaners nou nie hul ongerustheid daaroor mag uitspreek nie.

Wat ook al die uitkoms van die proses gaan wees, en of Dutton nou regs of links is, ons heersers sal moet besef dat hul optredes gevolge het.

Al lyk dit of die verantwoordbaarheid waarvan so baie gemaak word, in wese eintlik net verantwoordbaarheid aan ’n ANC-agterbank en die emosies van ’n tromslanende kongres is.

Grondonteiening nie so eenvoudig

Dit gaan tog om die land as geheel en die belange van die land as geheel. Grondonteiening het sommer baie hakies en ogies.

Die mag van die meerderheid in die parlement is gewoon nie genoeg nie.

Ons land het ook beduidende minderhede wat in ag geneem moet word. Daarmee saam moet ons ook besef ons is deel van ’n wêreldgemeenskap wat ook Suid-Afrika in sy gemoed ronddra. Miskien lankal nie meer so intensief nie, maar hulle is meer as net stilswyende toeskouers.

Te midde van al die gewoel het die Anti-rassismeweek in ons land afgeskop. Hierdie jaar is die tema #RootOutRacism.

Tog is die impak en invloed van die stelsel van die verlede steeds met ons en dis veral jonger mense wat die seer van die ongelykhede met groeiende ongeduld ervaar.

Roei die ding uit. Anders as AfriForum met die grond, is dit die Anti-rassisme-netwerk van Suid-Afrika (Arnsa) wat hier aan die woel is.

Die week word jaarliks vanaf 14 tot 21 Maart gedurende Menseregte-maand gehou en dit mond uit op Menseregtedag en die Internasionale Dag vir die Uitroeiing van Rassediskriminasie.

Ons land het die afgelope aantal jare besondere vordering teen rassisme gemaak. As jy in die vorige era se gewettigde rassisme geleef het, is dit met groot waardering dat jy die veranderinge die afgelope 20 jaar meemaak.

Tog is die impak en invloed van die stelsel van die verlede steeds met ons en dis veral jonger mense wat die seer van die ongelykhede met groeiende ongeduld ervaar. Ek verstom my soms oor die nugterheid en beredeneerdheid van ons jongmense wanneer hulle oor landsake en oplossings praat.

Tog is dit die ouer, besadigde stemme wat steeds die media oorheers. ’n Mens wil graag dat die twee (daar is natuurlik meer) wêrelde in Suid-Afrika bymekaarkom om rassisme uit te roei en om ons land beter te verstaan.

Jy moet die Ander intrek

Die Anti-rassisme-netwerk het verlede Woensdagaand die boek van die Afrika-filosoof prof. Achille Mbembe, Critique of Black Reason, in die Sci-Bono Discovery Centre in Johannesburg bespreek.

Hy plaas die relevansie van swart en swartwees in die konteks van die werklikhede van slawerny en die uitbuitings van kolonialisme. Swart is wat nie gesien mag word nie, die nag, die donkere, die duistere. Wie is hy/sy? Hoe kan sy/hy soos ons wees? Hoe moet ons hom/haar regeer?

Maar daar kan nie ’n verhouding tot jouself wees indien jy nie die Ander intrek nie.

Teen hierdie waas van persepsies, hoofsaaklik Europees van oorsprong, moes swart mense opstaan en hulle bekend maak, hul identiteit neerpen en opstaan vir hul bevryding.

Dan trek Mbembe ons in sy begrip van openheid, van verskille: Dat ons nie net geregtigheid vir ons eie soort kan hê nie. Geregtigheid is universeel, maar binne daardie universeel is daar ruimte vir verskille. Ons het net een wêreld, sê hy. En in daardie wêreld staan ons in verhouding tot onsself. Maar daar kan nie ’n verhouding tot jouself wees indien jy nie die Ander intrek nie.

Die Ander is in een asem verskillend en dieselfde, verenig. Dit is in ons verskille wat ons, paradoksaal, moet deel. Mbembe se inset is so anders as die gewone Suid-Afrikaanse geskreeu op mekaar. Kan ons mekaar erken as Ek en die Ander in mekaar? Kan ons ons verskille erken, verskillendheid deel en deel van een Suid-Afrika wees.

!ke e: Ixarra IIke?

* Dr. Titus is die ATKV se uitvoerende hoof van korporatiewe aangeleenthede.

Meer oor:  Peter Dutton  |  Cyril Ramaphosa  |  Danny Titus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.