Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons nagmerrie moet nou wyk
Prof. Anton van Niekerk

Gerald Ford sal nie vir veel prestasies as Amerikaanse president onthou word nie. Waarvoor die Amerikaners hom egter nooit sal vergeet nie, is sy eerste woorde nadat hy aangewys is om Richard Nixon op te volg. Met verwysing na Nixon en Watergate, het hy belowe: “My fellow Americans, our long national nightmare is over”.

Dis lankal tyd dat ons in hierdie amper onhoudbaar beleërde land soortgelyke woorde hoor omtrent die nasionale verleentheid wat bekend staan as die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).

Die SAL is ’n maaksel van apartheid. Alle regdenkende Suid-Afrikaners verkies om soveel afstand as moontlik tussen hulself en apartheidskeppinge te plaas. In die geval van Eskom is dit ongelukkig nie moontlik nie, want Eskom verrig ’n noodsaaklike, onontbeerlike diens. Maar nie die SAL nie. Talle lugrederye staan gereed om mense wat SAL-roetes sou wou vlieg, op te raap en te help.

Wat doen die SAL anders as om sigself te gedra soos ’n onversadigbare spons wat geld by die miljarde van die regering bedel en opsuig, sonder dat dit een aks beweeg in die rigting van likiditeit?

Waarom moet ons ’n nasionale lug­redery hê? Oor die afgelope 20 jaar het sodanige lugrederye van die toneel verdwyn – tot so ’n mate dat ’n mens deesdae juis skepties is oor so ’n lugdiens.

Te midde van al die drama rondom die SAL hoor jy by geen enkele geleentheid ’n oortuigende argument waarom Suid-Afrika, van alle plekke, ’n lugredery moet hê nie. Leon Louw wys in ’n onlangse voorlegging hoe belaglik argumente is soos “ons moet die SA vlag laat wapper”, “die SAL skep werk” (onwaar; dit vernietig werk), “dit verseker ’n SA ‘presensie’ elders ter wêreld”, “dit vlieg strategiese roetes” (onsin; as roetes min gevlieg word, is dit omdat niemand soontoe wil vlieg nie!) en ander onsin.

Sommige mense meen jy kan maar slegs jou kop skud, dat dié net nog een in die reeks foute is wat die afgelope dekade op regeringsvlak gemaak is.

Sommige mense meen jy kan maar slegs jou kop skud, dat dié net nog een in die reeks foute is wat die afgelope dekade op regeringsvlak gemaak is. Dis egter nie slegs ’n “foutjie” (“ligte mistykie”, soos Schalk Pienaar sou sê) nie.

Wat gebeur met die miljarde (sommige reken tussen R50 miljard en R70 miljard) wat al na die SAL gekanaliseer is, is niks minder nie as ’n direkte sabotasie van die ANC-regering se voortdurende en luidrugtige aandrang daarop dat welvaart herverdeel moet word. Beter gestel: Die SAL dien wel as ’n herverdeler van welvaart, maar dis nie welvaart wat van die rykes na die armes geskuif word nie, maar presies andersom. Die SAL herverdeel die bietjie wat die armes het, ten gunste van die rykes. (Onthou: Dis rykes wat vlieg, nie armes nie!)

Louw maak laasgenoemde punt oortuigend in sy ontleding. Wanneer Tito Mboweni, minister van finansies, soos in die onlangse mediumtermynbegrotingsraamwerk R10,4 miljard êrens vandaan moet raap en skraap om die SAL te help om behoorlik bankrot te speel, word daardie geld nie by groot maatskappye en miljardêrs geneem nie.

Mboweni vind dit in die reeds papierdun gesnyde begrotings vir onderwys, gesondheid, paaie, behuising en dergelike meer. Dis uit dié bronne waaruit die rykes wat vlieg gesubsidieer word deur die armes. Welkom in ’n welvaart-herverdelende Suid-Afrika!

Ek het al meermale die (wat ek beskou het as) siniese argument gehoor dat die enigste rede waarom die SAL “gered” moet word (wat, terloops, volledig onmoontlik is), is sodat LP’s kan rondvlieg om naweke by hul kiesafdelings uit te kom. Ek wonder ál meer oor dié argument . . .

  • Prof. Van Niekerk is die direkteur van die sentrum vir toegepaste etiek aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Cyril Ramaphosa  |  Armoede  |  Korrupsie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.