Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons regstelsel g’n ‘oerwoud’
Roelof Botha
Roelof Botha

Om te beweer dat Suid-Afrika se regstelsel aan flarde is en dat ’n soort “oerwoud”-situasie van wanorde begin heers, is vals.

Trouens, die land se bogemiddelde internasionale rangorde in die Regstaat-indeks, wat deur die World Justice Project nagevors word, bevestig die meerderwaardigheid van ons regstelsel in vergelyking met lande in dieselfde portuurgroep.

Die Regstaat-indeks word vir 113 lande opgestel, met die res van die wêreld wat nie in staat is om daarin opgeneem te word nie, hoofsaaklik weens ’n gebrek aan demokrasie, onvoldoende mediavryheid, onbetroubare data of die afwesigheid van grondliggende onafhanklikheid van die regstelsel.

Suid-Afrika se rangorde is bogemiddeld, naamlik nr. 44, wat aansienlik hoër is as die ander Brics-lande – Brasilië (52), Indië (62), China (75) en Rusland (89). Verder is ons saam met Ghana los voor in Afrika en geniet ons ook ’n relatief hoë rangorde vergeleke met lande wat ook as die boonstes in die groep vir middelvlak-inkomste geklassifiseer word.

Agt faktore vorm die grondslag vir die puntetoekennings in die bepaling van indekswaardes, naamlik beperkings op die magte van regerings; die afwesigheid van korrupsie; openbaarmaking van regeringsbesluite; grondliggende menseregte; orde en veiligheid; die afdwing van regulasies; siviele regspleging en strafregtelike regspleging.

Dit is waar dat pogings om in die onafhanklikheid van die regstelsel in te meng in Zuma se rampspoedige termyn as staatshoof toegeneem het.

Dit verg nie veel insig om te besef dat Suid-Afrika swak vaar ten opsigte van twee van hierdie faktore nie, veral die toename in korrupsie, wat onder die bewind van oudpres. Jacob Zuma plaasgevind het. Orde en veiligheid is nog ’n tameletjie. Die redes vir die hoë vlak van misdaad en maatskaplike onrus is wel ’n struktuurprobleem wat verband hou met institusionele diskriminasie vóór 1994, inkomste-ongelykheid, armoede en ’n hoë mate van onbevoegdheid in die openbare sektor, in die algemeen.

’n Objektiewe mening oor die gehalte van ons regstelsel vereis ewewigtigheid. In dié verband is dit insiggewend om te onthou dat adv. Shaun Abrahams, voormalige hoof van die nasionale vervolgingsgesag, uiteindelik wel besluit het om Zuma te vervolg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery.

Onlangse navorsing oor die stand van onafhanklikheid van Suid-Afrikaanse regters deur adv. Luvuyo Siyo en prof. John Muganbizi (’n visekanselier van die Universiteit van KwaZulu-Natal), het tot die gevolgtrekking gekom dat regters inderdaad onafhanklik is.

Dit beteken wel nie dat die Suid-Afrikaanse regstaat op die randjie van ineenstorting staan nie.

Dit is waar dat pogings om in die onafhanklikheid van die regstelsel in te meng in Zuma se rampspoedige termyn as staatshoof toegeneem het. Dit is ook waar dat onrus van tyd tot tyd voorkom en dat heelwat munisipaliteite nie meer behoorlik funksioneer nie. Verder bestaan daar hemelsbreë verskille in openbare dienslewering, veral tussen stedelike en plattelandse gebiede.

Dit beteken wel nie dat die Suid-Afrikaanse regstaat op die randjie van ineenstorting staan nie.

Saam met die sewe permanente instellings wat ingevolge art. 9 van die Grondwet ingestel is om demokrasie in die land te beskerm, bestaan daar nog agt ander instellings wat ten doel het om die Handves van Regte te beskerm en te bevorder. Die aanstelling van die hoofde van hierdie 15 instellings vind plaas binne die raamwerk van parlementêre aanbevelings en onafhanklikheid van politieke inmenging word gewaarborg.

Ons staan voor die uitdaging om ’n magdom probleme op sosio-politieke en ekonomiese gebied te pak. Hoër ekonomiese groei behoort op die nuwe beleidsbenadering van pres. Cyril Ramaphosa te volg, wat dié taak sal vergemaklik.

Intussen kan Suid-Afrika trots wees op die grondliggende eienskappe van die regstelsel.

Botha is die finansiële raadgewer van die Optimum-groep

Meer oor:  Roelof Botha  |  Regte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.