Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons sal almal op ’n dag na ambagslui draai
Annemarie van der Walt

”Dit is ’n droewige stand van sake,” sug my geleerde vriendin, hoewel sy redelik ondroewig lyk terwyl sy die barista se netjiese wegstap dophou, “die afname aan manne wat hul vak goed ken.”

Ek probeer nog die magdom moontlike rigtings ontwar waarheen dié gesprek potensieel kan lei, maar sy stoom voort: “Wanneer laas het jy iemand teëgekom wie se hande werklik vir niks verkeerd staan nie, én daardie diepe trots het vir ’n taak uitsonderlik verrig?”

Dis skielik vreeslik warm want ek voel ’n hittige blos oor my nek kruip, maar voordat ek kan seker maak ek dink waaraan sy dink, verklaar sy: “Vat nou maar die loodgieter wat daar by my moes inval om allerlei brouwerk reg te maak . . . nie ’n vakman se agterent nie, sê ek jou,” en sy beduie na die barista dat sy gereed is vir ’n tweede koppie koffie. Sy laat hom al die pad na ons tafel stap net sodat hy weer moet omdraai.

Dis nie ’n probleem wat slegs ons hier op die tuisveld ervaar nie, kry ek my stem noudat die vakgebied bepaal is, wêreldwyd is daar ’n nypende tekort aan behoorlik opgeleide vakmanne. Erik Holm het dan nou die dag geskryf oor hoe die grofsmid-ambag wêreldwyd aan’t uitsterf is, en in veral Europa gaan mense binnekort ten duurste moet betaal vir dié wat nog bereid is om handearbeid te doen. Net in Nederland alleen is die geskatte tekort vir die nabye toekoms sowat 40 000 ambagslui.

Vakmanne moes vir die meester ’n kers vasgehou het as hy in donker plekke werk.

Hoeka verloor ek binnekort my bure omdat hulle terugkeer na Brittanje, mor ek, onder meer vanweë die goeie vooruitsigte tans daar vir my buurman as bouer. “Waar sal my nutshulp nou vandaan kom?” maar moet vinnig walgooi teen haar fyn glimlaggie: “En ek gaan dit mis om saam met my buurvrou so oor die heining wyn te skink laatmiddag.”

Wat my vriendin met die fyn sosiale radar egter die meeste ontstel, blyk dit later in die gesprek, is die neerhalende manier waaroor daar steeds baie keer oor ambagslui gepraat word. So asof ’n regte joppie net iets is wat op ’n rekenaar of op die effektebeursvloer gedoen word. Of erger, ’n getoor met tenders. “Maar daar kom vir almal ’n dag waarop die troon in die klein kamertjie verstop, of jy soek iets wat net ’n skrynwerker kan skep. Gaan daar iemand oorbly wat kan kers vashou?”

Net daar kry ek my gaping en vertel haar waar dié gesegde vandaan kom. Aldus wyle taalman Anton Prinsloo moes die vakmanne, in die dae voor elektrisiteit, vir die meester ’n kers vasgehou het as hy in donker plekke werk. Maar daar was maar altyd diegene wat nie die paal sou haal nie, en dan is gesê hy is so onbekwaam hy kan nie eens by die meester kers vashou nie.

My vriendin kyk met ’n glasigheid in die oë doer verby my. “Noudat jy ’n donker plek noem . . . wanneer laas het jy ’n man ontmoet wat vlot is in sy vaktaal?”

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.