Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons sal moet leer hoe om te protesteer
Braam Hanekom

Suid-Afrika beleef ’n massiewe emosionele opstand. Mense is kwaad. Sommige gaan oor tot fisieke geweld wat brand en breek. Ander spoeg vuur op sosiale media.

Nog ander word stil, maar dan depressief en geïrriteerd. Soms ontgeld vroue en kinders dit, en soms is dit ons eie liggame wat kreun onder die slegte hormonale afskeidings wat vloei uit ons bitterheid en woede.

Die redes waarom mense kwaad en in opstand is, verskil en word grootliks bepaal deur die perspektief waarmee jy leef en die wyse waarop jou voortbestaan, na jou mening, bedreig word. Dit is in só ’n wêreld waar die vraag vir gelowiges ontstaan oor hoe waardige en geldige protes behoort te lyk.

’n Baie groot deel van die Christelike wêreld is van oorsprong protesteerders, oftewel Protestante. Martin Luther se protes teen ’n verwronge vormgodsdiens wat in daardie stadium die lewe uit die Evangelie gewurg het, was nie die eerste nie en sou ook nie die laaste protes wees nie.

Soms ontstaan ’n heilige ongemak wat gelowiges by ’n punt bring waar hulle inderdaad uitroep: “Hier staan ek nou, ek kan nie anders nie.” Soms mond dit uit in verklarings, soos dié van Barmen, die SARK en, in die laaste weke, kerke in Zimbabwe.

Soms lei dit tot nuwe belydenisse, soos die Belydenis van Belhar. Nuwe gespreksvoering word ontketen, maar soms wil gelowiges weet of daar nie nóg opsies is nie.

Terwyl ’n groot deel van ons bevolking sukkel met protes, is daar tog talle voorbeelde van vreedsame optogte wat ’n impak gemaak het.

Christus kon die tafels in die tempel omkeer en die godsdiensleiers van Sy tyd baie kras en reguit aanspreek. Soms het Sy verset egter gelê in die feit dat Hy stilgebly en niks gesê het nie.

Terwyl ’n groot deel van ons bevolking sukkel met protes, is daar tog talle voorbeelde van vreedsame optogte wat ’n impak gemaak het.

Ons dink aan die miljoen Christene wat die week voordat die muur in Duitsland geval het, saam deur die strate van Leipzig geloop het, asook Mahatma Gandhi en sy “lydelike verset” of Satyagraha (innerlike krag).

Gandhi was teen geweld, maar deur miljoene Indiërs saam te bring het hy Brittanje gestuit en ’n nuwe bedeling in Indië tot stand gebring.

Bedoel ons hiermee burgerlike ongehoorsaamheid? Dit is ’n tema wat al voorheen baie bespreek is. Ek vermoed dat dit binnekort weer ter sprake gaan kom.

Daar is nog opsies. Die Bybel leer ons van gebed, klag en weeklag, ’n vorm van “protes” wat by God aangeteken word.

Soms behoort instellings wat duidelik korrup geword het, gekonfronteer te word. Dit vra moed en dat ons dit saam met ander sal doen!

Daar is egter ’n innerlike geestelike krag en gesag wat ons anders kan laat optree en waarin geweld slegs die allerlaaste uitweg is.

Suid-Afrika is nog lank nie daar nie, en ek wens meer mense wil dit verstaan.

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Protesteer  |  Gewelddadig  |  Bybel  |  Protesoptogte  |  Jesus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.