Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons skole ná die pandemie

Ten spyte van al die uitdagings, onsekerhede, druk en bekommernisse wat die Covid-19-pandemie tot gevolg het, kan die lesse wat ons daaruit leer dalk nuwe insigte bring, asook ’n terugkeer na dit wat werklik saak- maak, skryf Jannie van der Westhuizen.

Onsekerheid is tans die enigste sekerheid wat in ons skole bestaan. Daar is veel meer vrae as antwoorde.

Wat gaan die verdere impak van die pandemie op die skooljaar wees? In watter mate sal die akademiese kurrikulum voltooi kan word? Hoe en wanneer gaan assessering plaasvind? Hoe moet daar vir volgende jaar beplan word?

Vir baie skole is daar die verdere uitdaging van finansiële volhoubaarheid. Gaan skoolgeld steeds betaal word? Sal die skool sy finansiële verpligtinge kan nakom, sy personeel in beheerliggaamsposte kan betaal en behou?

Baie leerlinge se motiveringsvlakke sal bestuur moet word. Hulle pas moeilik aan in die nuwe onbekende skoolomgewing. Die pretfaktor wat skoolgaan ophelder, is afwesig. Veral leerlinge wat op ander terreine as die akademie presteer en hul eie-waarde daar vind, kry swaar.

Intussen moet toelatings vir volgende jaar gedoen word. Dit vind plaas te midde van groot onsekerhede met talle leerlinge wat tans tuisonderrig ontvang of oorweeg, en baie bloot afwesig is.

Geleentheid tot bestekopname

Hoe uitdagend dit mag wees, kan hierdie dinge in ’n mindere of meerdere mate bestuur word.

Daar is egter ’n ander vraagstuk wat tans te min aandag geniet: Wat gaan die langtermyn-impak van die pandemie op onderwys en op skole wees? In watter mate gaan die skoolomgewing soos wat ons dit ken verander?

Die pandemie gaan sy merk op elke faset van die samelewing laat, maar beslis ook op skole.

Tog, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Die dag- tot-dag funksionering van skole gaan beslis verander, maar waarskynlik veel minder as wat baie verwag. Tog sal skole met nuwe oë na hulself moet kyk ten einde voorbereid vir die toekoms te wees.

In alle skole is daar dinge wat verandering verg, maar is daar ook dinge wat nie mag verander nie – daardie eerbare dinge wat oor baie jare die grondslag van elke skool se unieke wese en karakter asook die basis van hul sukses gevorm het.

Skole moet weet wat albei hierdie dinge is en die Covid-19-pandemie skep inderdaad die geleentheid tot bestekopname:

Skole moes vanjaar baie vinnig ’n vorm van e-leer in werking stel.

E-leer kan hoogstens die akademiese komponent van skoolgaan vervang en ons weet dat ’n skoolervaring veel meer behels.

Die groter gebruik van e-leer het egter ’n nuwe dimensie tot onderrig toegevoeg, wat in die toekoms in ’n toenemende mate die gehalte van onderrig en leer kan verbeter.

E-leer, wat die tradisionele onderrig wat in die klaskamer plaasvind verbreed en ondersteun, het gekom om te bly.

Die laaste aantal maande het die belangrikheid van goeie burgerskap opnuut uitgelig.

’n Pandemie soos wat ons tans beleef, noodsaak dat die owerheid op die samewerking en integriteit van sy burgers moet kan staatmaak.

Skole sal doelgerig en deurlopend, en veral ook op informele vlak, die waarde van goeie en etiese burgerskap as deug toenemend moet beklemtoon en laat voortleef.

Hulpbronne in ons skole is reeds beperk, maar hierdie uitdaging gaan nog veel groter word.

Infrastruktuur, onderriggeriewe en -hulpmiddels sal met sorg opgepas en benut moet word.

Daar sal geen ruimte vir enige vorm van verwaarlosing of vandalisme wees nie.

By daardie skole waar die gebrek aan geriewe en basiese geriewe opnuut ontbloot is, sal die staat sy plig en verantwoordelikheid dringend moet nakom.

Alle skole, ongeag hul vlak van bevoorregting, gaan egter onder finansiële druk wees. Prioriteite sal hersien moet word. Begrotings vir 2021 gaan te midde van groot onsekerheid saamgestel moet word.

Hoe groter die krisis, hoe groter die noodsaak aan doeltreffende kommunikasie.

Skole moes gedurende die onlangse tyd meer en beter as ooit kommunikeer. Doeltreffende kommunikasie, veral ook wanneer dinge normaal en glad verloop, behoort deel van die nuwe normaal te wees;

Die afwesigheid van buitekurrikulêre aktiwiteite die afgelope jaar het opnuut die waarde daarvan beklemtoon.

Matriekleerlinge aan die Rosendaal Senior Sekondêre Skool in Delft ontvang onderrig van hul skoolhoof, Griselda Layman, tydens die Covid-19-pandemie. Foto: GETTY IMAGES

Die doel en funksie daarvan as deel van die globale skoolprogram moet egter opnuut uitgeklaar word, want die konteks waarin dit beoefen word, is in die verlede te dikwels skeef getrek;

Die onnatuurlike verloop van die 2020-skooljaar gaan sy tol eis.

Só kon byvoorbeeld die gr. 1’s nie die grondslag kry wat so krities nodig is nie. Gr. 8’s kon nie oorskakeling na ’n nuwe skoolomgewing behoorlik ervaar nie. Gaan die gr. 11’s gereed wees vir matriek?

Baie leerlinge se selfvertroue gaan geskend en hul motiveringsvlakke laag wees. Die impak van die pandemie op huishoudings gaan op leerlinge se emosionele welstand reflekteer. Alle fasette van leerlingondersteuning gaan ’n groot uitdaging meebring.

Skole sal hul ware doel en funksie dus opnuut moet definieer en seker maak dat hulle volledig daaraan uitvoering gee.

Skole is uitsluitlik daar om hul leerlinge en gemeenskappe te dien en om leerlingvriendelike instellings te wees. Skole is daar om leerlinge optimaal voor te berei ten einde aan die nuwe eise van ’n nuwe wêreld te kan voldoen.

Dít verg ’n volledige “verstaan” van hul primêre doel en funksie, ten einde die globale ontwikkeling van leerlinge tot afgeronde en eties verantwoordbare, maar ook bemagtigde en selfstandige volwassenes te fasiliteer.

Elke besluit of aktiwiteit, of elke sent wat bestee word, sal daardie oogmerk moet ondersteun.

Te veel skole, dikwels onder die druk van hul ouergemeenskappe, het gedurende onlangse jare soms perspektief ten opsigte van hul primêre opdrag verloor, met ’n gevolglike oordrewe fokus op die beeld en reputasie van die skool as gevolg.

Die pandemie kan egter ’n onbedoelde voordeel inhou – vir die groter samelewing, sowel as vir skole.

Almal sal opnuut moet besef dat die wêreld, minstens vir die volgende aantal jare, anders gaan lyk en wees. Gevolglik sal almal bepaalde aanpassings moet maak.

Daar sal ’n klemverskuiwing gemaak moet word wat ’n terugkeer na die meer basiese en wesenlike dinge behels.

Vir almal, die staat, die korporatiewe wêreld, maar ook vir van ons skole, sal dit ’n bietjie meer eenvoud impliseer – “significance with-out extravagance”.

Dít is inderdaad moontlik, sonder om enige gehalte of relevansie prys te gee, maar iets wat die groter samelewing net ten goede kan wees.

Dalk tog iets goed na vore

Die wêreld ontwikkel en verander teen ’n enorme tempo en skole moet daarmee tred hou. Dit vereis vernuwing en aanpassing ten einde relevant te bly.

Covid-19 se nadraai skep die geleentheid om die kennis, vaardighede en waardes wat dit vereis die nuwe fokus te maak. Ons het te behep geraak met slaagsyfers en deurvloeisyfers en in die proses gehalte en relevansie nagelaat.

Matriekuitslae het ’n politieke spel en vir sommige skole ’n bemarkingsinstrument geword.

In hierdie jaagtog na “statistieke” wat almal goed laat lyk en die departement van onderwys en ander belangegroepe tevrede stel, is bepaalde dinge soms verwaarloos of nagelaat.

Ten spyte van al die uitdagings, onsekerhede, druk en bekommernisse wat die pandemie tot gevolg het, kan die lesse wat ons daaruit leer dalk nuwe insigte bring, asook ’n terugkeer na dit wat werklik saakmaak.

Sou ons daarin kon slaag, kan die krisis van 2020, ten spyte van al die trauma, ontwrigting, spanning en onsekerheid, dalk tog iets goed na vore bring.

  • Van der Westhuizen is oudrektor van die Paul Roos Gimna­sium in Stellenbosch en tans ’n onderwyskonsultant.
Meer oor:  Jannie Van Der Westhuizen  |  Skole  |  Menings  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.