Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons skoliere is nie die enigstes wat nie kan lees
Fred Pheiffer
Fred Pheiffer

Tommy Wieringa is ’n bekroonde Nederlandse skrywer, bekend om romans soos Joe Speedboot en Caesarion. In sy weeklikse rubriek vir NRC Handelsblad skryf hy vroeër vanjaar ’n taalverwante rubriek waarin ons eie problematiek duidelik weerklink.

In “De reis van de boeken” spreek Wieringa sy besorgdheid uit oor die bedenklike stand van Nederlandse skoolkinders se geletterdheid. Statistieke dui daarop ruim ’n kwart van Nederlandse laerskoolleerlinge is laaggeletterd. Geen ander ontwikkelde land, kla hy, se leerlinge het ’n groter hekel aan lees en skryf as Nederland nie.

“Leesvaardigheid en leesplezier klinken als corvee en taakstraf. Van romans krijgen ze bulten, van poëzie schilfers. In haar jaarrapport waarschuwt de Onderwijsinspectie dat begrijpend lezen een stervende vaardigheid is. Net als vorig jaar. En het jaar daarvoor.”

Slegs in ’n “failed state” êrens, vermoed Wieringa, is die situasie meer beroerd. Duidelik het hy nie ons onlangse geletterdheidstatistieke gesien nie. Volgens die Progress in Interna­tional Reading Liter­acy Study (Pirls) se 2016-ondersoek kan tot driekwart van Suid-Afrikaanse laerskoolkinders nie met begrip lees nie. Dis die swakste resultaat van 50 lande waar leerlinge getoets is. Ons ís die mislukte staat wat Wieringa noem.

Volgens die Progress in Interna­tional Reading Liter­acy Study (Pirls) se 2016-ondersoek kan tot driekwart van Suid-Afrikaanse laerskoolkinders nie met begrip lees nie.

Die rede vir dié swak vertoning is voor die hand liggend. Swak opgeleide, lustelose onderwysers wat self nie behoorlik kan lees of skryf nie, ondervoorsiening van handboeke, swak toegeruste skoolbiblioteke en geen leeskultuur tuis of in die gemeenskap nie.

Die oplossing? Wieringa sê hy het vroeër dikwels skole besoek, maar nie meer nie. “Ik werd er zenuwachtig en pessimistisch van, van de massieve desinteresse en de blauwe weerschijn van smartphoneschermen op de gezichten.” Tog, in weerwil daarvan besoek hy onlangs ’n skool met 26 nasionaliteite, ’n immigranteskool dus, skolasties agtergestel wat hul Nederlandssprekende eweknieë betref.

Die leerlinge se vrae en antwoorde verbaas hom. Sy vooroordeel word weerlê deur hul opmerklike belangstelling in die literatuur. Die onderwysers sê dis die kinders se weeklikse uur lange voorlesing wat dié belangstelling prikkel.

Só ervaar hulle verhale se krag en skoonheid. ’n Ervaring met die avonture en bestaansproblematiek van lewens anders as dié van hul eie. ’n Soektog wat die luike na die wêreld oopgooi.

’n Onderwyser vertel haar leerlinge van haar Marokkaanse pa se reis – met ’n boek in sy bagasie reis hy van sy bergdorp na Algerië vir sy paspoort. Wanneer hy ’n boek klaar gelees het, ruil hy dit vir nog een by ’n boekwinkel in die volgende dorp. In Nederland aangekom, dra hy ’n biblioteek vol stories met hom saam. Die boek as metgesel op jou lewensreis.

’n Mens hoef maar net Marita van der Vyver se Facebook-blad te volg om te sien watter moeite skrywers doen om leerlinge aan die plesier van boeklees bekend te stel. Leesvaardigheid is ’n sleutel, nie ’n las nie.

  • Pheiffer is mederedakteur van die WAT.
Meer oor:  Fred Pheiffer  |  Lees  |  Taal  |  Leerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.