Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons skryf vir 'n volle lesers-gemeenskap

Die verwysings na Beeld deur regter Johann van der Westhuizen in sy interessante artikel “Rassisme se kleur: Net wit, nooit swart?” het my weer laat dink aan die anekdote oor die Egiptiese koningin Cleopatra se boodskappers.

Volgens oorlewering het sy dié wat goeie nuus gebring het – byvoorbeeld oor ’n veldslag wat in ’n verre land gewen is – met goud beloon. Maar dié met slegte nuus of nuus waarvan sy nie gehou het nie, het sy vir die krokodille laat gooi – meermale die lot van ’n koerant of ’n joernalis.

Die opskrif oor die sogenaamde Doodskis-twee, ‘Vonnis onvanpas’, is duidelik in aanhalingstekens en direk onder die opskrif is dit duidelik wie se standpunt dit is. Op ’n koerant se voorblad en nuusblaaie verskyn berigte oor dinge wat gebeur het en dit is nie veronderstel om gevorm te word deur die redaksie se standpunt nie.

Van der Westhuizen verskil met die standpunt in die opskrif en bevraagteken nou waarom dit aangebring is. Ook die motief, wat insluit “om rassistiese lesers se steun te behou”.

Die enigste motief met die opskrif was dat dit deur die joernalis aan diens geoordeel is as die sterkste nuwe nuushoek oor wat op daardie oomblik gebeur het. Die detail van die vonnis was weens die spoed van elektroniese media reeds aan die lesers bekend. Dit is ons werk, ons dek nuus – of ons nou daarmee saamstem of nie.

Die detail van die vonnis was weens die spoed van elektroniese media reeds aan die lesers bekend.

Ek gee hom die voordeel van die twyfel dat hy nie Beeld se hoofartikel – ook genoem redaksionele kommentaar – oor die kwessie gelees het nie. Dit is elders op die bladsy herhaal onder die opskrif “Doodskisvonnis: Sulke voorvalle moet gestraf word”.

Oor aspekte van die berig wat fokus op die veroordeeldes se familie en hul pyn, is dit ook geen uitgewerkte hoek met die soort motief wat soms in Hollywood-draaiboeke oor die Fourth Estate gekry word nie. Daardie deel is met erkenning oorgetrek uit ’n berig van News24, ’n progressiewe en gesaghebbende Engelstalige nuuswerf met baie swart lesers. En wat duidelik gedink het dit is nuuswaardig.

Die werklike oordeel of Beeld met onbevange balans oor die kwessie verslag gedoen het, sou wees om sy berigte oor die nuuslewensduur van die storie as ’n geheel te beoordeel. Daar was ook berigte oor die pyn van die slagoffer en sy familie.

Om oor Swart Maandag tot die gevolgtrekking te kom dat dit volgens sommige koerante “in ’n rassemoles verval het” en ook nogal ’n politikus as gesag te gebruik, is absurd. Net so absurd as wat daar voor 1994 oor protesoptogte en rollendemassa-aksie soms deur polisiewoordvoerders gesê is dit is nie legitieme en verteenwoordigende protes nie. Want die feit dat winkels geplunder en motorruite stukkend geslaan is, bewys die aksies is deur misdaadelemente gekaap.

Om weens die feit dat daar by van die byeenkomste mense met ou vlae opgedaag het, nou die hele inisiatief as rassisties af te maak is net so onbillik en verkeerd.

Die impak van sulke retoriek op die samelewing moet ook nie onderskat word nie.

Beeld se standpunt daaroor is vervat in die bygaande hoofartikel onder die opskrif “Swart Maandag was Jan Alleman se beurt vir protes”.

Ongelukkig het sommige joernaliste – waarskynlik ook van die koerante waarna Van der Westhuizen verwys – in die strik getrap om foto’s van jare gelede se byeenkomste met die ou vlag op sosiale media te deel asof dit by Swart Maandag was. ’n Koerant het dit ook só op sy voorblad aangebied.

Dit is heeltemal moontlik en waarskynlik grootliks waar dat die optog selfs deur baie welmenende swart mense as die een of ander wit opstand teen die res van die samelewing gesien is. Dit moet dus inderdaad deeglik bespreek en ontleed word – soos Van der Westhuizen nou doen – veral met die oog op die toekoms.

Maar dan moet dit gedoen word met veel dieper verwysing as van politici wat tot ’n party behoort waar sleutelelemente van die leierskap onverdraagsaamheid aangeblaas het met die aflees van die notas van wit gedagtekolonialiste in Londen. Die impak van sulke retoriek op die samelewing moet ook nie onderskat word nie.

Baie wit mense het op uitnodiging ook saam met honderdduisende swart mense gaan deelneem aan protesoptogte teen pres. Jacob Zuma. Daar is hulle met ope arms tussen rooi en blou en selfs plek-plek geel T-hempdraers ontvang. Maar selfs toe is daar vanuit ANC-geledere stemming gemaak teen hul deelname.

Wat ons nie by Beeld gaan doen nie, is om ’n nou begrensde standpunt te ommuur en dan beriggewing, standpuntartikels en rubrieke daarbinne vas te pen – en om alle alternatiewe standpunte te sensureer.

Ons publiseer vir ’n volle Afrikaanse lesersgemeenskap as deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Juis nou is daar ’n behoefte aan media wat ’n markplein kan wees vir die volle spektrum van idees en dat dit in ’n verdraagsame debat opgeweeg word.

Ons maak ook foute en kan byvoorbeeld veel meer doen om die vlak van debat te lig en persoonlike beledigings uit byvoorbeeld diskoerse te weer.

Op grond van alles van ons lesers wat oor ons lessenaars kom, is dit ’n komplekse en diep verdeelde lesersgemeenskap. Maar ons probeer ook nie tussen ’n klomp stoele deurval nie.

Nie ek as redakteur in my eie rubrieke of die koerant in hoofartikels skroom om standpunt in te neem volgens wat ons meen reg is nie en dit dan ook aan robuuste diskoers te onderwerp nie. Soos op dié twee bladsye vandag.

Beeld was die een Afrikaanse koerant wat, in teenstelling met die meerderheid van sy lesers se reaksie, sterk met Helen Zille verskil het oor haar uitlatings oor kolonialisme. Maar toe die Kaapse persklub sy uitnodiging aan Steve Hofmeyr om hulle toe te spreek teruggetrek het, het Beeld sy toespraak aangevra en dit gepubliseer.

Ons maak ook foute en kan byvoorbeeld veel meer doen om die vlak van debat te lig en persoonlike beledigings uit byvoorbeeld diskoerse te weer.

In die Afrikaanse gemeenskap is die linkerkant van die meningsperdeskoenpunt tans ernstig in die moeilikheid. Baie van hulle verstaan nie meer hul rol as kritiese gedagteverkenners nie. Hulle is toenemend uiters onverdraagsaam en wil hulself die heeltyd posisioneer – klaarblyklik omdat hulle nie erkenning kry in die groter gemeenskap nie – deur rassiste te identifiseer en aan te val. Dit is almal wat nie met hul oortuigings saamstem of diegene wat hulle as boos uitwys, wil aanval nie. ’n Soort Maximilien Robespierre-liberalisme.

Maar Van der Westhuizen se bona fides om ’n positiewe verskil in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse samelewing te maak deur te put uit sy indrukwekkende ervaring word aanvaar. En diegene wie se bloed kook as hulle sy standpunte lees, moet aanvaar Beeld gaan dit elke keer publiseer.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.