Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons smaails ook gekaap in Guptastaat

"Een rand vir ’n glimlag!”

Die bedelaar se bordjie waar hy by die verkeerslig langs die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein staan het my, wel, laat glimlag.

Charles Smith

Dié ou met sy verweerde smaail op sy sonverbrande gesig het met daardie paar woorde iets reggekry wat bitter min mense in die land nog doen én regkry: smaail.

Want die jimmele hoor my. In dié land kan iemand jou nie eens meer betaal om te glimlag nie, want die kans is waarskynlik goed dat dit bloedgeld is, gesteel van armes. Of net so erg, van my en jou!

Daai ou by die verkeerslig weet dit. Hy weet dat ons almal geskroef word op daardie einste, heilige oomblik. Hy weet dat ek met opgekropte woede verby berge vullis op sypaadjies gery het terwyl die geagte Olly Mlamleli, burgemeester van Mangaung, R4,5 miljoen van óns geld bestee het aan Macufe, ’n fees wat met R45 miljoen van óns geld gehou word vir rykes met die duurste karre en klere.

Hy weet natuurlik ek wil katte skiet as ek dink die rykes het kaviaar met Johnny Walker Blue Label op Macufe afgesluk met honderdduisende mense om die stad wat skaars melk vir hul pap kan koop. En dat ons wat werk, om geld te verdien om belasting te betaal sodat die armes toelaes kan kry, skaars die stad se krag en die brandstof kan bekostig.

Want ek het nie R1 vir ’n glimlag nie. Selfs ons smaails is al gekaap in die Guptastaat. En dis nie snaaks nie.

Ek sien in daai ou met die stukkende gesig se oë, toe hy ’n glimlag van my bedel, die koerantopskrifte wat ek pas gelees het van ’n hele bank wat deur die ANC en die EFF beroof is; ’n bank met die spaargeld van die armes. ’n Hele, helse bank, lag sy oë.

Staatskaping is ou-ou nuus. Vrot dienste is gister se jeremiades. Dorpe wat só geplunder is dat die mense die munisipale kantore met ket-tings en slotte gaan sluit, is nou nuus, swaer, lag daai plooie om die oë.

Vergeet van fopnuus. Kamerade, wat jou plaas wil vat sonder om ’n sent te betaal, is dieselfde ouens wat ’n hele bank wegdra! Nou daai is mos nuus, mister. Ja-nee, daai is bedonnerde nuus, jou ou idioot wat maar net opdok en opdok, wil hy uit sy maag uit lag vir my uitdrukking van totale, algehele walging vir dié kroeks.

Ek sien hoe hy hom verkneukel in my uitermatige gatvol uitdrukking as ek dink dat die Zupta-verwoesting ons land oor ’n dekade sowat R1 triljoen gekos het. “R1 triljoen, Meneer, en ek vra net R1 vir ’n glimlag . . . !” lag hy met sy blou oë wat op skrefies trek.

Ek wil my mond op ’n skrefie trek as ek dink aan hoe ek lyk as uitgeteerde, bleek, naïewe belastingbetaler wat in ’n rammelkasbakkie verby ’n Merc G-klas, Porsche, Ferrari en Ford Mustang ry, die meeste met belastinggeld gekoop, skat ek. Of geld van geplunderde banke.

Ek kry ’n naar, karsiek gevoel as ek verbyry en my venster opdraai. Want ek het nie R1 vir ’n glimlag nie. Selfs ons smaails is al gekaap in die Guptastaat. En dis nie snaaks nie.

Meer oor:  Charles Smith  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.