Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons smag na ’n liggie in die tonnel van korrupsie

Suid-Afrikaners is al behoorlik vuisvoos van daaglikse bewerings van korrupsie en wag steeds op die kaptein wat hulle daarvan moet verlos, skryf Danny Titus.

Danny Titus

Wanneer gaan dit ophou?

Dis onthulling ná onthulling, miljarde op miljarde wat gesteel is en steeds gesteel word.

Getuienis voor kommissies van ondersoek maak ’n mens só moeg. Wanneer gaan daar ’n ou liggie in die tonnel skyn?

’n Kaapse prokureur sê oor die daarstelling van die eenheid wat bendegeweld moet hokslaan: “Die bendes lag vir die eenheid.”

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is die instansie in die strafregstelsel wat die skurke moet vervolg en tronk toe stuur.

Adv. Shamila Batoyi, nuwe hoof van die NVG, se eerste indrukke stem ’n mens egter beslis nie vrolik nie. Sy het ’n behoorlike gemors geërf.

“Ek het selfs gesukkel om kollegas te vind wat ek kan vertrou,” was haar kommentaar. Sy sê sy het onderskat hoe verrot die NVG was. Sy is geskok deur sommige van die besluite van haar voorgangers.

Watter enorme taak is dié vrou nie opgelê nie?

Vryf die sterretjies uit jou oë. Ruik die koffie. Die 'Zuma- faksie' in die ANC is besig om verwoed terug te veg.

Maar dis nie al nie.

Ek onthou hoe ons in die sitkamer was van ’n vooraanstaande staatsamptenaar oor wie ek al geskryf het voor die ANC-verkiesingstryd tussen pres. Cyril Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma.

Ons is opgewonde oor Ramaphosa se oorwinning. Nee, sê die hoge meneer, hy begryp die opwinding oor die koms van ’n nuwe president, maar dink daaraan dat oudpres. Jacob Zuma weer kan oorneem.

Dié stelling is sekerlik nie te vergesog as ’n mens kyk na Supra Mahumapelo se optrede in Noordwes, die simpatie vir Zuma in KwaZulu-Natal en die sogenaamde Premierliga nie.

Ons wag op die kaptein . . .

Is daar nog hoop vir Suid-Afrika én pres. Cyril Ramaphosa? Foto: Argief

Sulke denke oor “slegste scenario’s” het ons nogal tot nugterheid gestem, eintlik geskok.

Maar dis meer as net ’n scenario.

Dit behels ook die moontlikheid dat ’n positiewe ingesteldheid oor ons land kan verander in ’n nugterheid wat weer deel kan word van ’n negatiewe ingesteldheid, wat sommige as realisme sal beskryf.

Vryf die sterretjies uit jou oë. Ruik die koffie. Die “Zuma- faksie” in die ANC is besig om verwoed terug te veg.

Die een Sondag wil ’n opskrif dit hê dat Ramaphosa ’n stokkie steek voor Ace Magashule (sekretaris-generaal) se planne om die Muthambi’s, Mahumaphelo’s en ander wie se name met beweerde korrupsie verbind word as voorsitters van parlementêre portefeuljekomitees verkies te kry.

Die volgende Sondag moet die koerant (én Ramaphosa) ’n toontjie laer sing. Op enkele uitsonderinge na is die beweerde korruptes nou agbare voorsitters en Magashule paradeer ongehinderd voort op die Suid-Afrikaanse verhoog.

’n Mens wil graag glo hy is in die visier van adv. Hermione Cronje, nuwe hoof van die ondersoekdirektoraat by die NVG, weens beweerde korrupsie.

Die omkeer van die sosiale verval – insluitend die plundering van die staatskas en disfunksionele ondernemings – begin vir hom by leierskap.

Haar toespraak oor die rol van die pers om maghebbers aanspreeklik te hou, laat my dink die boek oor Magashule, Gangster State, is deel van die dossiere. So ook talle ander boeke en ondersoeke.

Maar dan hoor ons Batohi nader die parlementêre portefeuljekomitee vir meer geld, en vra selfs dat hulle toegelaat moet word om donasies te ontvang!

Verlede week sien ek dat besigheidsleiers in ons land besig is om hul geduld met die president te verloor. Hulle raak gefrustreerd met sy pas van hervorming.

Die vermaarde joernalis Ferial Haffajee het hom reeds as ’n mislukking afgeskryf.

In ’n Robbeneiland-lesing ter ere van oom Govan Mbeki fokus die voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke op Suid-Afrika se gebrek aan ware leiers.

Die omkeer van die sosiale verval – insluitend die plundering van die staatskas, disfunksionele staatsondernemings en die afwesigheid van verantwoordbaarheid – begin vir hom by leierskap.

Volgens Moseneke sou oom Govan verwag het dat “die groot mense” wat “groot geld” steel, vervolg word.

“Ons is desperaat vir ’n bevoegde staat,” sê Moseneke, “maar dit is onmoontlik as dié wat aan bewind is, weier om verantwoordbaar te wees.

“Moet ons wag op die kaptein? Weet hy ons verwag veel meer?”

* Dr. Titus is direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Shamila Batohi  |  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.