Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Ons stryd om bevryding was in Afrikaans’

Hy onthou nog hoe hulle Amerikaanse vryheidsliedere in Afrikaans vertaal en op saamtrekke Afrikaanse gedigte voorgelees het om uitdrukking aan hul misnoeë met die verdrukkende stelsel van gedwonge skeiding te gee, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman jr.

Onlangs in DAK-netwerk se waarheids-en-versoeningsgesprek oor Afrikaans in Pinelands het my kop wye paaie geloop. Hierdie versoenende gesprek oor grense heen rondom Afrikaans het my veral op ’n besonderse manier aan my ontslape vader laat dink.

Hy was maar ’n plaasarbeider wat op skool net st. 3 (nou gr. 5) geslaag het.

Smaak my dat daar iets magies aan st. 3 was. Want ’n neef van my pa, die skrywer Ronnie Phillips van Worcester, het ook net st. 3 op skool geslaag. En as ek reg onthou, was ons grootworddorpie, Ravensmead, se verteenwoordiger in die Driekamerparlement, oom Hansie Christiaans, óók iemand wat net st. 3 agter sy naam kon skryf.

Op een van sy vergaderings in Ravensmead se burgersentrum het hy eendag vol bravade gesê: “Ek weet nie waarom julle UDF-ondersteuners so mal raak oor die Driekamerparlement nie. Kyk waar het ek met my st. 3 gekom. Tot binne-in die parlement!”

Maar my vader was oor Afrikaans soos Afrikaans nie oor homself was nie!

By ons kinders is dit dan ook ingeprent om “regte” Afrikaans te praat. En sou jy dit waag om Kaaps te praat, of “sleng” soos hy gesê het, het jy sommer ’n oorveeg gekry as jy naby genoeg was.

Aan huis het hy ons aangemoedig om alles te lees wat ons in die hande kon kry. Hyself het Die Burger van hoek tot kant gelees. Tot selfs die klein advertensies en doodsberigte.

Toe ons op ’n plaas buite Somerset-Wes gebly het, moes ons voor skool ’n goeie 2 km aflê om vir hom ’n “Laaste uitgawe” van Die Burger te gaan koop. En bewaar jou siel as jy tuiskom met Die Burger Ekstra, die uitgawe wat net vir bruin lesers bedoel was.

“Ek lees nie die gemors wat vir bruin mense as nuus opgedis word nie. Ek wil lees wat die wit mense van die land lees,” het hy dikwels gesê. En diegene wat my pa geken het, sal dadelik vir jou sê dat hy die mees apolitiese mens was wat jy maar kon kry.

‘Van wanneer af lees julle soort koerant?’

So kuier ons in 1970 gedurende ’n skoolvakansie by my ouma op die plaas in Worcester. Vroeg een Saterdagoggend bevind ek my op die plaaswerf. Soos dit maar my aard was, was ek op soek na interessanthede. Toe stap ek verby die boer se geparkeerde bakkie. Voor op die paneelkassie lê Die Burger van daardie dag. En ’n Saterdag se koerant het ’n Byvoegsel in. Ek stap na die plaasopstal om te gaan vra of ek net die Byvoegsel kan lees.

Aangeklop, toe maak die boer self oop. Nadat ek skugter my versoek gerig het, het hy my bars toegesnou: “Nee, ek gee nie my koerant vir jou nie. En van wanneer af lees julle soort dan koerant?!”

Ek het inmekaargekrimp. Met so ’n houding kon ek dit immers nie waag om vir hom te sê dat ek feitlik elke dag Die Burger lees nie.

Hoe argumenteer ’n sewejarige met só ’n mens? Maar daardie voorval bly my ná al die jare by. Dit het my dikwels gedryf om meer te lees en meer te wete te kom omtrent die taal en die mense wat die taal as hul eie beskou het.

My politieke ontwaking sou eers in my matriekjaar, 1976, wees.

Ek het hul digters, skrywers en dramaturge én hul werke my eie gemaak deur dit in my geheue vas te lê. Nooit weer sou iemand vir my vra nie: “Lees julle soort dan?”

My politieke ontwaking sou eers in my matriekjaar, 1976, wees. Die Burger van 17 Junie met die opskrif “Onluste in Soweto”, het maar net die helfte van die emosie verwoord.

En dit was nie net Afrikaans wat die kinders van Soweto laat klipgooi het nie. Ons, wat diep betrokke in die bevrydingstryd was, was maar alte bewus dat Afrikaans nie die oorsaak van die struggle was nie.

Dit was maar net die spreekwoordelike vonk by die kruitvat.

Die destydse onderwysstelsel en die leiers wat sonder verhoor in tronke aangehou was, was groter dryfvere.

Toe lees ons éérs Die Burger. Toe dink ek éérs soos my pa.

’n Stryd om bevryding in Afrikaans

In ons matriekjaar het ons dikwels Amerikaanse vryheidsliedere in Afrikaans vertaal. Op saamtrekke het ons uitdruklik Afrikaanse gedigte voorgelees om uitdrukking te gee aan ons misnoeë met die onderdrukkende stelsel van gedwonge skeiding.

Soos my vriend Basil Kivedo dikwels opmerk: “Ons stryd om bevryding het ons in Afrikaans gevoer.”

In ons huis is koerant gelees. Tot vandag toe. Die Dagbreek, Landstem, Die Burger, Die Beeld (Rapport se voorganger) en natuurlik Rapport.

Ek was selfs geseën om ’n aantal jare as rubriekskrywer ’n rubriek, “Kulturasies”, om die beurt saam met Elias P. Nel in Die Burger te skryf.

Gelukkig lees my sóórt mense stééds vandag koerante.

Toe daardie kreatiewe uitlaatklep toegestop is, het Son en Son op Sondag my genader. Daarin het ek bykans agt jaar ’n padhardloop-rubriek, “Draf saam met Willem”, behartig.

Deesdae kry my kreatiewe skeppings ruimte op Netwerk 24 en in Die Burger. As ek baie gelukkig is, ook in BY, die opvolger van Die Byvoegsel.

En op dieselfde dag toe die waarheids-en-versoeningsgesprek oor Afrikaans in die Old Mutual-kompleks in Pinelands gehou is, was daar ’n dubbelbladsy-artikel van my oor Abraham Esau, die martelaar van Calvinia in BY.

Met my amperse 60 jaar se saamloop en saampraat met Die Burger, het ek uiteindelik ’n tuiste en ’n DAK oor my Afrikaanse kop gekry!

Want gelukkig lees my sóórt mense stééds vandag koerante . . . en gesels ons land en sand saam oor alles.

* Fransman is ’n vryskut-joernalis en skrywer. Menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Die Burger  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.