Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons taalstryd vra ’n lang asem

As dit gaan oor Afrikaans in die onderwys, word veral twee argumente aangevoer oor waarom die taal deur Engels vervang moet word.

Een is dat die taalbepalings in die Grondwet minder gewig dra as dié oor gelykheid, menswaardigheid en toegang tot onderwys. Veral sekere regsgeleerdes, soos oudregter Johann van der Westhuizen en prof. Pierre de Vos, is aanhangers van dié denkrigting.

Leopold Scholtz

Die ander is dat wit Suid-Afrikaners, veral Afrikaners, weens hul apartheidsgeskiedenis nie te hard op hul grondwetlike taalregte aanspraak moet maak nie; dit maak swart mense kwaad. Een van die groot eksponente hiervan is my vriend Max du Preez.

Die subteks by albei dié argumente is dat aandrang op taalregte, veral betreffende Afrikaans, op ’n terughunkering na die voorregte van die verlede – apartheid – neerkom.

Maar is dit waar? Ek het al – hoop ek – by herhaling geïllustreer dat, ofskoon ek as historikus begrip het vir die redes waarom apartheid ingevoer is, ek die beleid soos dit in die praktyk toegepas is, as immoreel en bowendien onwerkbaar beskou. Nie dat dit help nie, want uit dié kringe word mense soos ek elke keer maar weer as bedekte verkrampte rassiste uitgemaak.

Onlangs het iemand wat allerweë as ’n intellektuele reus beskou word, die taalkundige prof. Wannie Carstens, by die PUK afgetree. As daar iemand is wie se lewe die apartheidsverwyt vir Afrikaans-voorstanders in die praktyk as ’n leuen bewys, is dit hy.

Ek ken Carstens goed en beskou hom as ’n goeie vriend. Dalk beteken dit dat ek nie objektief kan oordeel nie. Tog, kyk na my feite en bewys dit maar verkeerd. Enersyds het Carstens onvermoeibaar vir Afrikaans geveg.

As lid van Stellenbosch se universiteitsraad het hy ’n klipharde stryd vir ’n regverdige en volhoubare plek vir die taal aan die universiteit gelewer.

In die proses het hy en sy medestanders die akademiese geveg telkens loshande gewen. Diegene wat Afrikaans verder wou afskaal, is op intellektuele vlak elke keer in die grond in getrap.

Op kort termyn lewer dit geen sukses op nie. Maar as jy vir Afrikaans veg, het jy ’n lang asem nodig.

Dit het nie gehelp nie. Die vrees om as apartheidsvoorstanders uitgemaak te word en ontwrigtingsdreigemente van die intimideerders van #AfrikaansMustFall was te sterk.

Terselfdertyd was Carstens op die voorpunt om wit en bruin Afrikaanssprekendes met mekaar te versoen. Die Afrikaanse Taalraad, dalk die belangrikste instrument om die histories gegroeide wantroue tussen die wit en bruin taalgenote aan te pak, was in groot mate sý inisiatief.

Ook sy akademiese navorsing, wat pas uitgemond het in ’n nuwe studie, Die Storie van Afrikaans, staan in die teken van dié versoeningstrewe.

Daarin laat hy reg geskied aan die rol wat bruin mense en hul voorouers in die skepping van ons taal gespeel het en reken hy af met die denkbeeld dat Afrikaans die eksklusiewe besit van wit Afrikaners is.

As voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in die jare 2011-’14 het Carstens eweneens berge versit om wit en bruin bymekaar uit te bring. Asook om die kundigheid wat Afrikaners deur die jare opgebou het om hul taal te bou aan die sprekers van swart tale aan te bied.

Nee, dis net skaamtelose moedswilliges wat Carstens as ’n bedekte apartheidsvoorstander kan beskou.

En tog staan hy in die voorste ry as dit kom by die geveg vir die regte van Afrikaans. Carstens is ’n voorbeeld van hoe daardie geveg gevoer moet word. Rasioneel, op ’n hoë akademiese vlak en die teendeel van ras-eksklusief.

Op kort termyn lewer dit geen sukses op nie. Maar as jy vir Afrikaans veg, het jy ’n lang asem nodig.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Afrikaans  |  Engels  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.