Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons toekoms is in eenheidstaat

Die laaste paar jaar steek die idee van politieke selfbeskikking vir die Wes-Kaap gereeld sy kop uit.

Die afgelope week verklaar dr. Corné Mulder, Wes-Kaapse VF Plus-leier, voor die Kaapse Persklub dat hy droom van “ ’n onafhanklike Wes-Kaap waar ons toekoms lê, nie in konflik met die res van Suid-Afrika nie, maar as ’n voorbeeld van wat kan en behoort gedoen te word”.

Eers was dié selfbeskikkingspraatjies vervat in gefragmenteerde reaksies van behoudende politici. Toe volg monstering op sosiale media en deesdae kry die kwessie stuwing met groepe wat met fyn modelle hul beywer vir afstigting, sommige met leiersfigure wat van ander kant die Vaal- en die Oranjerivier suidwaarts getrek het. Met Mulder, self ’n trekker, se verklaring is die idee nie meer kruipend op die agtergrond nie, maar paradeer dit nou oop en bloot op die openbare verhoog.

Die ANC beskou die Wes-Kaap volgens Mulder as ’n “niebevryde gebied” wat met vermeerderde demografiese verskuiwing “bevry” sal kan word. Hy bedoel dat trekkers meestal van die Oos-Kaap na die Wes-Kaap trek. Indien dié strategie nie slaag nie, is daar sprake dat die provinsie met die Oos-Kaap sal amalgameer om ’n ANC-meerderheid by die stembus te verseker.

Mulder ondersoek vier moontlikhede.

Waarom, vra hy, moet die Kaap opgeskeep sit met die “onbevoegdheid, korrupsie en sistemiese verval” wat in die res van Suid-Afrika gedy?

Eerstens, die behoud van die status quo; tweedens, die bevordering van optrede om die huidige bedeling te verbeter; en derdens, uitwaartse emigrasie. Sy grootste fokus val op die vierde opsie: Toenemende ywer vir selfbeskikking en ’n outonome Wes-Kaap op grond van art. 235 van die Grondwet wat erkenning gee aan die reg tot selfbeskikking van taal- en kultuurgemeenskappe op ’n bepaalde grondgebied.

Mulder se basiese aanname is dat ’n federale bestel aan die Wes-Kaap magte sou kon gee wat sal lei tot “ekonomiese groei en vooruitgang, waar gelyke geleenthede gebied en armoede uitgewis sal word, mense veilig kan voel en misdaad doeltreffend beheer sal word”.

Waarom, vra hy, moet die Kaap opgeskeep sit met die “onbevoegdheid, korrupsie en sistemiese verval” wat in die res van Suid-Afrika gedy?

Dit is gemene saak dat die ideaal van Suid-Afrikaanse samehorigheid en versoening die laaste paar dekades of meer ernstig skade gely het. Die eng Afrikanisme wat vir ’n tyd lank die botoon in die ANC gevoer het, het gemeenskappe en talle individue sodanig vervreem dat die vertrouensbreuk met moeite herstel sal word. Ons werkloosheidsyfer bly onaanvaarbaar hoog en die regering skep eenvoudig nie die omstandighede wat sterker ekonomiese groei en indiensneming aanmoedig nie.

Ons moet wel ’n toekoms bou waarin alle Suid-Afrikaners hul ideale vervul kan sien. Dit sal ons moet bereik deur die poorte van die eenheidstaat.

Waarnemers sal dit met Mulder eens wees oor die onbevoegdheid, korrupsie en sistemiese verval wat oral, veral op plaaslike en streekvlak, waarneembaar is. Daar is min twyfel dat die ANC as regering ons as burgers versaak het.

Ons moet wel ’n toekoms bou waarin alle Suid-Afrikaners hul ideale vervul kan sien. Dit sal ons moet bereik deur die poorte van die eenheidstaat.

Die afstigters se drome en die selfbeskikkers se modelle is gewoon nie haalbaar nie. Dit geld die “Afrikaner-ankerdorpe”, wat die denkers in die Solidariteit-dampkring bedink én die selfbe­skikkingsvisies van die VF Plus en CapeXit én die federales van die Cape Independence Advocacy Group en die Cape Coloured Congress.

Die uitdaging vir opposisiepartye is om haalbare alternatiewe daar te stel wat die totale bevolking betrek. Ons het ’n doeltreffende opposisie nodig om ’n gemeenskaplike toekoms te bou, maar dit gaan nie gebeur as mense hul energie vermors op ydel afskeiplanne nie.

  • Willemse is professor in letterkunde en literêre teorie aan die Universiteit van Pretoria se departement Afrikaans.
Meer oor:  Hein Willemse  |  Toekoms  |  Politiek  |  Selfbeskikking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.