Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons toekoms is in ons eie hande
Henry Jeffreys

Sukses teen die Covid-19-pandemie is in die hande van gewone Suid-Afrikaners, wat baie meer in hul persoonlike hoedanighede kan doen om die virus se verspreiding te beperk en dit uiteindelik te stuit. Dít was die boodskap wat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand probeer oordra het.

Suid-Afrika se hantering van die virus tot nou was eintlik veel beter as in meer gesofistikeerde lande, soos byvoorbeeld Amerika. Daar kan die probleme in die stryd teen die virus direk voor die deur van pres. Donald Trump gelê word. Hy verpersoonlik alle uitdagings en maak alles oor hom.

Hy bevind hom in ’n skadelike stryd met wetenskaplikes daar bloot omdat hulle hom probeer teregwys wanneer hy verkeerd is. In Suid-Afrika het Ramaphosa dit uit die staanspoor duidelik gemaak dat die regering die raad van wetenskaplikes sal volg en beleid dienooreenkomstig sal formuleer en volg.

Die aanvanklike probleme hier het gespruit uit die misplaaste magsoor­wegings van die politici in beheer van die stryd teen die virus en die interne woelinge in die regerende ANC.

Dit is veral die rol en optrede van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat sake vertroebel het.

Sy word beskou as die een wat weens haar magsposisie in die Covid-19-bevelsraad eintlik in beheer van die land is. En sy word in haar kwaad gestook deur kollegas soos ministers Bheki Cele (polisie), Fikile Mbalula (vervoer) en Lindiwe Zulu (maatskaplike ontwikkeling). Hul besluite oor die pandemie druis in teen dit wat Ramaphosa aan die nasie probeer kommunikeer.

Die situasie is by tye so erg dat hy beskou word as ’n flou makou van ’n president.

Die situasie is by tye so erg dat hy beskou word as ’n flou makou van ’n president. Ramaphosa het Sondagaand baie streng en reguit met die nasie gepraat. Volgens sommige mense was dit ’n uittrapsessie – ’n taktiek wat hy gerus ook op sy meer weerbarstige ministers kan toepas.

Dit is tyd dat Ramaphosa klinies en eerlik kyk na dit wat skeefgeloop het met die bestuur van die pandemie. ’n Kwessie wat veral aandag nodig het, is die optrede van die polisie en die weermag aan die begin van die inperking. Gewone burgers is hardhandig en gewelddadig behandel deur lede van die veiligheidsmagte, wat klaarblyklik kop verloor en hul mag misbruik het.

Dit nieteenstaande vermanings van die president dat hulle ontplooi word om die burgers in hierdie tyd van nood binne die raamwerk van die Grondwet te hanteer en dien. Sy vermanings is blatant geïgnoreer, en sal vir altyd ’n skandvlek wees op die land se stryd teen Covid-19.

Ramaphosa het Sondagaand drankverkope summier verbied. Dit klink drasties, maar Suid-Afrikaners het duidelik ’n probleem met die verantwoordelike verbruik daarvan. Die bewyse, het hy gesê, is oorweldigend dat alkoholmisbruik ’n groot impak het op die toestroming van pasiënte na hospitale weens alkoholverwante beserings.

Dit plaas onnodige druk op die beskikbaarheid van beddens vir die groeiende getal Covid-19-pasiënte. Dit is een aspek van die stryd teen die virus waaraan ons as gewone burgers iets kan doen. En as ons dit nie doen nie, dan moet ons maar die prys betaal.

Daar is ook sterk vermoedens dat alkoholmisbruik ’n groot rol speel in die vlaag van geweld teen vroue en kinders – Suid-Afrika se tweede pandemie, soos Ramaphosa dit tereg noem.

Dit is tyd dat ons die stryd teen Covid-19 en die veldslag teen die land se vroue en kinders daadwerklik pak. Die regering kan dit nie op eie stoom doen nie, al probeer hy hoe hard. Ons, die gewone burgers, moet begin pa staan vir ons toekoms. Die tyd om dit te doen is nie môre nie, maar vandag.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Gedrag  |  Toekoms  |  Suid-Afrikaners  |  Gesondheid  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.