Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons verdien om gekoeksister te word

Hy het op my gelê. Teen my. Tussen my.

My regterbeen was tussen sy twee bene, my linkereen bo sy linkerbeen – so asof ons in mekaar gebrei is.

My arm oor sy skouer en syne lê oor my maag. Dit wals saam my pens op die ritme van ’n trekklavier.

Sy kop was op my bors, bure met my hart. My hart was ’n bedagsame buurman.

Hy het nie lawaai nie. Gewoonlik is dit net, doef, doef, doef teen ’n hardlooppas. Hierdie keer het hy gefluister. Hy was in toom. Hy het ’n ander se oor in ag geneem.

Sy kop was nie ver van myne nie. My vingers het deur sy hare geloop. Hare van dieselfde dofgoud as ’n leeu s’n.

My vingers het daarin geswem soos ons op die bank gelê het. Ons oë vasgenael op die televisieskerm. Ons hande wat nou en dan aandag gee aan mekaar. Selfs al is dit ’n ligte vryf.

Woorde was weggebêre. Ons hoef nie te gepraat het nie. Woorde maak dinge soms ongemaklik, meer as stilte. So hier en daar was ’n reaksie oor wat aangaan op die skerm. Dit was genoeg.

Skielik toe wens ek dat dit kon gebeur in die klimaks van die winter.

Dit is al wat ek heel winter wou hê: lepellê, of eerder koeksisterlê.

Ek wou nie vry nie, want selfs dit het te onpersoonlik geraak. Ek wou nie orig raak nie, want deesdae leen ons mos ons lywe vir almal soos biblioteekboeke. Ek wou net saam met iemand lê.

Dit was onder geen omstandighede liefde of verliefdheid nie. Nee dankie. Dit sou nie sin maak nie.

Daarom was my hart in toom. Ek het geen lang- of korttermyn planne gehad nie. Ek was tevrede met die hede.

Ek is weer herinner aan die mag van menslike interaksie op sy mees basiese.

Sy teenwoordigheid het my hoog gemaak, “gelukkig” is nie die woord nie. Ek was baie tevrede, op so ’n vlak dat ek bedwelmd gevoel het. Vir ’n oomblik het ek gewens dat dit nie moet op hou nie.

Ek is weer herinner aan die mag van menslike interaksie op sy mees basiese. Ek wou niks van hom hê nie.

Ek het nog minder iets van hom verwag, maar sy teenwoordigheid het my vrede gegee, dit het my tevrede gemaak.

As enkellopendes het ons mos net kits-interaksies met mense. Ons ervaar selde die tevredenheid wat ’n ander se aanraking, en net om te wees dra.

Die oomblik is in my verstand se argiewe toegesluit.

Dit vat die plek van die een wat ongeskik was of my ’n vuil kyk gegee het. Die een wat gesê dit is te vet of daardie is te maer.

Ek hoop elke persoon ervaar dit – ’n situasie gerasper van gister, môre of verwagtinge.

Die goedheid van menslike teenwoordigheid. Om net met iemand te wees – al is dit vir minute, ure, of dae – en tevrede te voel.

Ek klink effens hoog en hiper-soetsappig, ek besef dit.

Maar tussen al die wrede dinge en die mislike mense verdien ons dit . . . om gekoeksister te word.

Meer oor:  Piet Matipa  |  Rubriek  |  Slaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.