Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons verwag groot dinge van pres. CR
Blou Willem

Nou ja, my Kroon, en daar is u nou gekroon, so, baie geluk met u kroon, my Kroon, en ons wil tog die wens uitspreek dat u kroon gemaklik sal sit en dat u u termyn sal kroon met groot dade.

Ek moet sê, my Kroon, niemand van ons wat u in aksie gesien het met daai Venda-dansie het geweet dat u so kan dans nie!

En ja, met Luthuli-huis vol Acelike vyande van u, sal u u “steps” moet ken, maar ons is taamlik seker u ken nog ’n hele paar “moves” wat hulle nie van weet nie.

Toe u daar in u toespraak uitroep “South Africa, Thuma Mina!” dog ons eers dis u nuwe adjunk, maar toe verduidelik Dik Daan (wat vir die Sotho’s Sesotho leer) u sê: “ Stuur my!” en ons maak graag so, my Kroon.

En so wag ons maar toe op die heilige Sondag vir u nuwe kabinet (ja, amper soos die Katolieke met die rokie uit die Vatikaan se skoorsteen, my Kroon).

Oom Johnny was vroeër laas week van plan om Loftus Versveld toe te gaan totdat hy gehoor het dat die ANC nie ’n bus van sy woonbuurt af stuur nie.

Hy was bang dat hy dalk ’n T-hemp sou kry en ’n ding sou moes dra wat nie by sy beginsels of oor sy pens sou gepas het nie.

In elk geval was hy bang dat hy dalk ’n T-hemp sou kry en ’n ding sou moes dra wat nie by sy beginsels of oor sy pens sou gepas het nie.

“En so by so is ek moeg om verloorders wat maak of hulle wenners is, op Loftus te gaan ondersteun,” sê hy.

Die vliegtuigvertonings kon ek toe sommer daar van my braaiplek af dophou terwyl ek my dop hou.

Maar manne, ek kon nie glo dat ons nog soveel lugvaardige vliegtuie en veral bekwame pilote oor het nie!

Dink julle nie ons het dalk by Lê-soontoe en Swaziland ’n paar bygeleen vir die groot okkasie nie?

Nee wat, my Kroon, u-hulle kan trots voel op die inhuldiging en R120 miljoen is mos grondboontjies in ’n land waar miljarde die afgelope tien jaar voete gekry het, of hoe?

En al wink rommelstatus elke week geesdriftiger vir ons landjie, is dit mos darem nie nodig dat ons ons soos ’n platsak-, armgat-plekkie moet gedra nie, of is ek daar verkeerd, my Kroon?

Ek moet bieg, my Kroon, dat 31 Mei 1961 die laaste keer was wat ek die inhuldiging van ’n president bygewoon het.

Ek was nege en het daar piering-oog, vlaggie in die hand aan die oostekant van Kerkplein in so ’n sagte appelkoosreëntjie op pa Piet se skouers gesit toe pres. CR Swart en tant Nellie so stadig en statig by ons verby is in die groot swart Rolls-Royce.

Later jare, oudagtye, het ek daai selfde pres. CR leer ken as ’n man van inbors, lojale Vrystaatadel, spaarsaam (sy kerkpak blink gedra en koerante gehou vir die dag van môre) en sorgsaam oor al sy mense.

Ja, ons verwag groot dinge van u, pres. CR!

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap  |  President  |  Presidensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.