Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Ons Voorsien Spelers’ se lot lei tot Reccies
Blouwillem

Ek sit hier volledig in oranje geklee, met my Boeremark-Cheetah-koffiebeker en reg vir my oranje-protes onder die vaandel van Reccie (dis nou Red ons eensame Cheetahtjies).

Ja, tans saam met die bergkwagga en eerlike politici die mees bedreigde spesie in Afrika.

En as iemand my op hierdie oranjewillemaandag vra hoe dit gaan, antwoord ek: “Kan ek jou môre sê?”

Want vandag weet ek nog nie wat die klomp speknekke van Saru môre oor my Cheetahs gaan besluit nie. Daarom antwoord ek liewer: “Ek is so stil soos ’n landmyn, maar moet net nie op my trap nie!”

So, julle manne wat nog nie vandag oranje aan het nie (soos jy, oom Jakob, en jou ou tjom Eish Magmaarstele), gaan trek daai oranje overalls aan!

En jy, ou maat, wat altyd verkondig dat die Cheetahs jou tweede span is: Vandag is jou kans om daai ander lelike trui uit te trek en ordentlik geklee op kantoor te kom.

Dis vir jou eie span se beswil, want soos jy sal onthou staan OVS vir “Ons Voorsien Spelers” en daai kraantjie gaan vir altyd toegedraai wees as die Cheetahs Saterdae om die Sport Pienaarbeker in Upington of Cradock moet gaan speel.

Doen jouself ’n ou gunsie en vra enige Afrikaanse ou hoe dit gaan en staan terug en wag.

Terwyl ons nou so praat oor groet en uitvra oor mekaar se welvaart, verwonder ek my by hernuwing daaraan watter ryk ou taaltjie ons het.

Vra jy: “Wie geht’s?” vir die Duitser en die antwoord is maar net: “Gut, danke” of miskien “Mir geht es gut.”

Maar doen jouself ’n ou gunsie en vra enige Afrikaanse ou hoe dit gaan en staan terug en wag.

Soos ou Leon, wat selfs as hy in die urologie-hospitaal lê, altyd, maar altyd, antwoord: “Klopdisselboom, ou maat, klopdisselboom!” – selfs as hy voel die disselboom en die hele wa is aan die wankel.

Daai ewige optimiste wat antwoord: “Punt in die wind!” of “Ek moet net keer of dit gaan beter!” of “Die voorspoed raak vir my vervelig” of “Kannie beter nie, man!” (en jy wonder hoe weet hy).

Dan die ouens wat jou laat wonder of hulle orraait is . . . “Ag, buurman, wat gaan dit help as ek kla?” of “Hoeveel tyd het jy?” of “Ons kyk maar noord en foeter voort” of “Stil soos ’n bedlampie, ek sien alles maar sê niks”. Of ná ’n swanger stilte: “Sê maar goed”.

Die kwaaie: “Hoekom wil jy weet, is jy ’n dokter of ’n veearts?” en die arme ou Genisse: “Arm maar geduldig” of “Uitgespaar deur die genade” of “Wil jy rêrig weet?” En dáái is bitter belangrik, want vra jý maar net uit gewoonte of bygelowigheid, of stel jy rêrig belang?

Laat ek maar afsluit met ou Kabous wat, toe ek dié week vra hoe dit gaan, antwoord: “Baie klagtes, oom Blou, maar geen spesifiekes nie!” Dus, soos gesê, vra my dan eerder môre hoe dit gaan.

Oranje Reccie-groete!

Meer oor:  Blouwillem  |  Oranjewillem  |  Oranje  |  Reccies  |  Groet  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.