Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons vuurproef, soos vir Ester
Elmarie Dercksen

Moeilike tye verg moeilike besluite. Navorsers beraam die gemiddelde volwassene neem ongeveer 35 000 besluite per dag.

Toegesluit in grendeltyd, is dit dalk heelwat minder. Ons hoef nie ’n uitrusting te kies om mee werk toe te gaan of watter pad om te ry om die verkeer te vermy nie. Ons kan nie kies tussen gim en fliek nie, want albei is toe.

Ons kalenders is leeg omdat beplanning vooruit nie meer deug nie. Ons het minder opsies, maar ons moenie die reikwydte onderskat oor die getal mense wat dit raak en ook die langtermyngevolge vir ons eie lewens nie.

Laat ek verduidelik. Twee dinge het nie verder van ons koppe en ons vingerpunte geskuif nie: sosiale media en ons innerlike gesondheid.

Kyk, ek blaai ook deur sosiale media. Ek geniet my vriende en kennisse se verjaarsdae, troeteldiere, kunswerke en menings. Ek is een van daardie wat die kommentaar lees sonder om altyd self deel te neem. In normale omstandighede sou ek dit geniet om dan en wan ’n sensitiewe saak aan te roer ter wille van die reaksie.

Deesdae is sosiale media wilder as die Wilde Weste. ’n Kollega skryf onlangs in haar blog dat ons nie meer ’n “en”-gemeenskap is nie. Ons het volledig tot ’n “of”-gemeenskap gepolariseer. Óf jy glo ons is in die eindtyd en jy moet jou bekeer óf jy is ’n totale antichris. Óf jy glo die onlangse plundery is gemotiveer deur barbaarsheid óf jy is ’n belaglike woke sosialis. Óf jy glo die inenting is deel van ’n groot sameswering óf jy is ’n skaap wat die trop volg en blindelings jou masker dra.

Die gewig van die gevolge van my besluite is verrassend.

Dit lyk nie of die meeste mense ons situasie beskou as een met komplekse probleme en genuanseerde oplossings nie. Weerskante verskreeu mekaar om hul navorsing te gaan doen. Dit terwyl ek lanklaas met iemand gepraat het wat volledige boeke lees en nie net nuusberigte van watter bron ook al, groepboodskappe wat talle kere aangestuur is, of bemarkingslagspreuke nie.

Ek het dit al voorheen gesê en ek sal wéér: Ek is altyd bereid tot debatvoering. Die punt van gesonde debat is nie net wen of verloor nie, maar luister en leer. Ek het weer besluit dat ek ordentlike gesprek, debat inkluis, vir geleenthede met persoonlike kontak bêre. Al is laasgenoemde deesdae maar yl gesaai.

Die uitgerekte pandemie en meegaande grendeltyd dwing ’n mens ook tot verlengde selfondersoek. Selfs die mees bevoorregte en gesonde onder ons word gekonfronteer met die werklikheid van sterflikheid – terwyl dood, verval en verwoesting om ons hoogty vier.

’n Mens waardeer natuurlik dan elke dag meer, ruik die rose en tel jou seëninge. Sosiale media herinner ons ook die heeltyd dááraan.

Omdat my opsies deesdae beperk is, het my gedagtes dalk verder en dieper gegaan as gewoonlik. Die gewig van die gevolge van my besluite is verrassend.

Sê nou hierdie is die tyd waarop ek my lewe lank al voorberei? Sê nou dit is vir hierdie tyd wat ek die spesifieke persoon op die spesifieke tyd moet wees, soos Ester? Sê nou dit is vir hierdie tyd wat ek my lewe lank al die Bybel lees, en die waarhede in my hart bewaar?

Hierdie is die vuurproef wat my karakter toets en my prioriteite deurgrond. Dit is die gemeenskaplike dal waar ons moet deur. Hierdie is ’n tyd waarin onsekerheid hoogty vier, maar ons ken God se hart. Al het ek minder keuses, is dié wat oor is, belangrik. Gaan ek moed opgee, of gaan ek hoop soek? Gaan ek tyd en energie bestee aan bekommer en skinder, of aan werk en bid?

Een keuse troef toe al die ander: Eintlik wil ek met al my krag God en my naaste dien, terwyl ek nog kan.

Ds. Dercksen is ’n leraar by die NG Kerk Bloubergstrand.

Meer oor:  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.