Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons wag op die kishou, Cyril . . .

Die ANC moet versigtig wees om nie die openbare woede oor die vermeende korrupsie met aankope vir die stryd teen Covid-19 te onderskat nie. Die land se gewone burgers, insluitend ANC-lede, blyk keelvol te wees oor wat lyk na die wydverspreide en blatante toekenning van kontrakte en tenders aan mense met noue verbintenisse met ANC-hoës.

Midde-in dit alles staan die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, wie se seuns glo voordeel getrek het uit hul politieke verbintenisse om vet kontrakte los te slaan. Erger nog, die naam van pres. Cyril Ramaphosa se seun, Andile, word ook genoem as ’n moontlik onregmatige bevoordeelde.

Dan is daar natuurlik die president se woordvoerder, Khusela Diko, en haar man, hoofman Thandisizwe Diko, wat glo ’n kontrak van R125 miljoen losgeslaan het, vermoedelik op grond van sterk politieke bande. Daar was reeds verskeie oproepe dat haar betrokkenheid strafregtelik ondersoek word.

Die ANC is duidelik geruk deur al die korrupsiebeweringe. Die party se parlementêre koukus sê die insidente van beweerde korrupsie is “barbaars”. Vir baie mense is die vermeende korrupsie die laaste strooi. Dit is dalk net die kantelpunt waarvoor die land al so lank wag om die stryd teen korrupsie en die betrokkenheid van ANC-amptenare en leiers daarby behoorlik te pak.

Opposisiepartye behoort die ANC se verknorsing ten volle uit te buit.

Die hardnekkige bewerings het Ramaphosa genoop om ’n taakspan van ministers aan te wys om dit te ondersoek. Daar kan nou geen twyfel wees nie dat die kwessie waarskynlik ’n vername impak gaan hê op die ANC se volgende leierskonferensie in 2022.

Indien die korrupsie-kwessie tot dan voortsloer, sal die twee vernaamste protagoniste in die stryd om leierskap van die party, Ramaphosa en Magashule, albei kwesbaar wees. Ramaphosa dalk net-net meer so as Magashule.

Dit sal natuurlik afhang van hoe deeglik die taakspan gaan wees met sy ondersoek. Die man in beheer, Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, maak al die regte geluide, maar ons was al daar. Die ware toets lê nog voor.

Opposisiepartye behoort die ANC se verknorsing ten volle uit te buit. Die openbare mening is aan hulle kant. Dit sal neerkom op pligsversuim indien die partye die kans deur hul vingers laat glip. Die ANC se posisie is ’n gawe wat nie sommer gou weer sal opdaag nie. Dit is ’n yster wat vra om nou geslaan te word, terwyl dit nog warm is.

Van die opposisiepartye is dit net die DA wat die ANC se penarie behoorlik kan uitbuit. Die EFF het sy eie korrupsie-probleme en sal nog lank daarmee moet saamleef. Leiers van die party se vermeende betrokkenheid by die stroping van die VBS-bank weier hardnekkig om te wyk. Die EFF is dus allermins in ’n posisie om vingers van korrupsie na ander te wys.

Die ander kleiner partye soos die VF Plus en die ACDP maak hul stemme moedig dik, maar dit gaan verlore in die lawaai wat die groter partye maak.

Die skeptisisme oor die haalbaarheid van Ramaphosa se ingrypings loop hoog en is geregverdig. Vir baie is die stappe wat aangekondig is ’n geval van te min, te laat. Die regering sal net geglo word wanneer daar arrestasies van senior ANC-lede kom. Dit sal dalk help om die vertroue in die president se leierskap te herstel.

Korrupsie is naas Covid-19 en geweld teen vroue en kinders die land se derde vernietigende pandemie. Ons kan net wen as al drie gelyktydig met dieselfde passie en ongenaakbare toewyding getakel word. Die bal is dus in Ramaphosa se kant van die baan. Ons, die toeskouers, wag angstig om te sien wanneer en hoe daardie steeds agterstallige kishou teen korrupsie gemoker word.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.