Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons wag op . . . watter kaptein?

Ons wag en ons wag en ons wag.

Gert Coetzee

Op die kaptein wat nie opdaag nie. Op die vervolging van staatskapers wat nie begin nie. Op die ekonomie om te swaai. Op beter dae.

Is die land by sy laagste laagtepunt nog? Met gemoedere laer as met die moord op dr. H.F Verwoerd (môre 53 jaar gelede op 6 September 1966) – toe die land nog net uit 20% van sy mense bestaan het. Donkerder as met die 1980’s se nood-toestande en ekonomiese sanksies? As met die moord op AWB-lede in Bophu­thatswana in 1994? As in die donkerste Zuma-jare van staatskaping?

’n Nee-antwoord is altyd beter as geen antwoord nie. Dan weet jy waar jy staan en bring dit finaliteit. Nou wag ons net.

Die groot niks ná Cyril Ramaphosa se ANC-leiersverkiesing en oorname van die staatspresidentskap by Jaco Zuma herinner aan die groot Cope-oplewing voor verkiesing 2009. Aangevuur deur die versugting na ’n versoenende middel-party het Cope-koors opgevlam. Van nêrens het die party sowat 1,3 miljoen oftewel 7,5% van die stemme getrek en 30 LP-poste gekry.

Toe niks nie. Nes nou.

Aangevuur deur Ramaforia en ’n beloofde nuwe daeraad het baie Suid-Afrikaners (teen hul beterwete?) in vanjaar se 8 Mei-verkiesing hul kruisie agter die ANC getrek om solidariteit met Ramaphosa as die nuwe besem te betuig.

Waarskynlik ook onder die indruk daarvan dat Ramaphosa vir Suid-Afrika die laaste keerwal teen ’n nog groter gemors is. En wat toe?

“. . . en met sy inhuldiging op Saterdag 25 Mei het die uurglas van sy 100 dae begin loop,” skryf Willem Jordaan, Die Burger-redakteur, in “Klok vir Cyril se eerste ronde lui: 100 dae verstryk” op Netwerk24.

Jordaan lig uit hoe die simboliese tyd-perk van 100 dae waarskynlik beslag gekry het in die aanvang van Franklin D. Roosevelt se presidentskap in Amerika.

'n Nee-antwoord is altyd beter as geen antwoord nie.

“Toe Roosevelt sy amp in 1933 opge-neem het, is hy in die gesig gestaar deur die verwoestende uitwerking van die Groot Depressie en moes hy ingrypend optree om dié probleme te begin takel. In ’n radio-onderhoud het hy verwys na wat hy in sy eerste 100 dae in die amp vermag het.

“Die simboliek . . . het bly kleef.”

Vir Ramaphosa het sy 100 dae op 1 September verstryk. En vandeesweek brand die land en woed xenofobie en anargie eens so erg. Die vakbonde maak rug styf teen die aanvanklike besnoei-ingsplanne van Ramaphosa vir die staatsdiens. Sy sosialistiese luitenant Pravin Gordhan gooi wal teen ’n red-dingsplan vir die SAL. Eskom het on-langs ’n finansiële verlies van R21 miljard vir 2019 aangekondig.

Die koor van diegene wat die doodstraf wil terughê, kraai ál harder.

Die staatskapers met veghoender Ace Magashule vooraan loop vry rond en tart hul partyleier openlik. En verkondig hul eie selfverhewe geregtigheid – opgeklits met ’n godsdiens-sousie, soos Nomvula Mokonyana, of onder die vaandel van slagofferskap, soos Zuma – albei op dienste vir Gavin Watson, nou saliger.

Op internasionale podiums het die president die statuur van ’n staatsman (al kon ’n Amerikaanse joernalis hom nie identifiseer nie), maar sy befaamde “stadige gif” is futloos, sy beloftes oor die stryd teen korrupsie ongeloofwaardig, en wanneer sterk uitsprake – soos oor geweldsmisdaad – nodig is, skitter hy in sy afwesigheid.

En dis omtrent waar ons nou trek.

Die besef dat daar werklik niemand anders as hy is om die land te lei nie, is nie meer die alternatief nie.

Vir Ramaphosa om waterskeidend die stuur van Suid-Afrika oor te neem, gaan hy die binnegeveg in die ANC baie binnekort beslissend moet wen.

Dié waarheidsmoment vir die ANC – en Ramaphosa se “Thuma wena”-oomblik – het aangebreek.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap  |  Regering  |  Verkiesing  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.