Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons wêreld het versoening nodig

Is die tydperk van Advent nie juis die regte oomblik om weer na ware versoening in ons wêreld te streef nie? vra Nico Botha.

Nico Botha

Dis weer Advent.

Advent in Suid-Afrika val saam met ’n paar ander belangrike gebeure. Daar is die veldtog van 16 dae teen geweld teen vroue en kinders, Wêreldmenseregtedag (10 Desember), Versoeningsdag, Kersfees en Gesinsdag.

As die seisoen só volgepak is, wonder ’n mens tog so ’n bietjie of Advent regtig nog na waarde geskat word.

Wek die ietwat stadige en gemoedelike premoderne storie oor ’n bevryder wat in haglike omstandighede gebore word, nog verwondering op?

Het die lawaaierigheid van magshebbers, die politieke en ekonomiese magtiges wat aandag vra in hul pogings om aan die mag te bly vasklou, nie die engelesang heeltemal uitgedoof nie?

Het die blink kultuur van die moderne verbruikersamelewing nie ’n volslae verduistering van die man en vrou uit die rand van die samelewing, die krip, die doeke en die kind veroorsaak nie?

Het die wêreld van fantasie, die wêreld van plastiese chirurgie, die insulêre wêreld, nie ’n algehele vervreemding teweeggebring nie sodat ons nie meer in aanraking kom met dié soort wêreld waar die eintlike storie van die Advent nog herkenbaar sou wees nie?

Dis ’n plek waar die tafel leeg is en kerse en lampies brand.

Dis nie ’n wêreld wat veel verbeelding verg om voor die geestesoog opgeroep te word nie. Dit vind gestalte in die krot, die “zozo”, plekke waar daar sommer in mense se woonomgewing vuilgoed weggegooi word. Dis ’n plek waar die tafel leeg is en kerse en lampies brand, nie omdat daar beurtkrag is nie, maar omdat dit elke dag en nag se werklikheid is.

En daar loop oral mense met hol oë rond met maer kinders en ewe maer honde wat skaars kan blaf en vroue wat in sinkbaddens wasgoed was. Dis dalk uiteindelik tog die plekke waar die Godmens, die lig uit lig, eerder gebore sou word.

Want daardie wonderlike suksesstories oor hoe mense groot rykdom bymekaargemaak het en stories oor ’n wonderlike politieke herkoms is baiemaal net die dun vernislagie oor ’n wêreld van skreiende armoede en vernietigende magteloosheid.

Wêrelde wat versoening nodig het

Tog word ons ook hierdie Advent geroep tot verwondering. Maar nie dié soort verwondering wat ’n mens laat wonder hoe volhoubaar die verlaging in die petrolprys is nie.

Nie dié soort verwondering wat ’n mens laat wonder hoe nuttig dit is om die wêreld tussen goeies en slegtes te verdeel nie – soos byvoorbeeld in die nuutgestigte politieke party “Good” wat beoog om in goedheid te spesialiseer nie.

Die wêreld, oftewel wêrelde, soos hierbo beskryf, het versoening nodig. Of as dit nie as ietwat argaïes afgemaak sou word nie: versoening in die lig van Krismis.

In navolging van Herman Wiersinga, Nederlandse teoloog, is daar miskien vier riglyne wat Suid-Afrikaners sou kon volg in die soeke na versoening tussen die wêrelde wat hier nie op ’n reduksionistiese manier net in terme van ras verstaan word nie.

Mense kan slegs met mekaar versoen as hulle op dieselfde vlak met mekaar kommunikeer.

Eerstens vereis versoening dat mense aandag aan mekaar sal gee. In die wêreldgeskiedenis was daar geen groter belangstelling in wat met mense gebeur as toe God in ons vlees sy verskyning gemaak het nie.

Daarom dat aartsbiskop Oscar Romero – wat met sy lewe moes betaal oor sy onwrikbare solidariteit met die verskoptes – in een van sy laaste Kersboodskappe gepraat van die saad wat in die wêreldgeskiedenis gesaai is met die koms van Jesus Christus.

Om te sterf ja, maar veral om te lewe en te laat lewe, te laat uitspruit om te groei.

Maar die aartsbiskop gee ook ’n aangrypende interpretasie oor die doeke waarin die kind toegedraai sou word. Dit is by uitstek God se manier om solidariteit te betoon en te wys dat hy die skuld, die pyn en lyding, die swaarkry en versugtinge van mense omarm en dra.

Dis amper al manier waarop daar versoening kan plaasvind.

Om vir ander met Advent geskenke te gee, is dalk ’n simbool in die kleine dat ons nie net aan onsself dink nie.

Tweedens, dat mense slegs met mekaar kan versoen as hulle op dieselfde vlak met mekaar kommunikeer. Nie uit die hoogte nie, nie op grond van uitsonderlikheid nie, maar soos die sentrale figuur van Advent – om die honger en die dors, die uitputting, die naaktheid, kwesbaarheid, weerloosheid, broosheid en onopgesmuktheid van die ander te verstaan.

Derdens dat daar geen versluiering van die eie aandadigheid sal plaasvind nie, maar dat die valkuile van die verbruikerskultuur, soos om eers die eie belang te soek, ontbloot moet word.

Want om vir ander met Advent geskenke te gee, is dalk ’n simbool in die kleine dat ons nie net aan onsself dink nie – hoewel die selfloosheid, die ontlediging wat by uitnemendheid die metafore is vir Advent en deur die Een van Advent beliggaam word, moeilik nagedoen kan word.

Die eerste drie riglyne staan eintlik as “voorwaardes” vir die vierde, naamlik versoening as daadwerklike verandering.

’n Verflenterde liggaam aan ’n boom en sy vindikasie in die opstanding, sou die totstandkoming van ’n versoende gemeenskap waarborg.

Kô laat ons sing!

* Botha is professor in teologie aan Unisa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.