Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons word en ís die stories wat ons vertel
Wilhelm Jordaan

Vandat die mens kon praat was hy ’n storieverteller. En die vertelwyse het gewissel van mondelings tot stukkies papirus en wasvelle; en van boeke tot internetplatforms.

Soms is die stories waar, soms blatante versinsel en soms ’n vernuftige vermenging.

Oor sulke stories het die Franse skrywer en filosoof Jean-Paul Sartre gesê: “Elke mens word omring deur sy eie stories en dié van ander. Alles wat met jou gebeur, beleef jy deur hierdie stories en jy probeer lewe of jy besig is om die stories te vertel.”

Hoe ook, sulke stories kan verstaan word as uitings van die mens se behoefte om van geweet te wees. Nou nog meer vandat Covid-19 die kontak tussen mense, ook dié naaste aan jou, verskraal en mense in ’n greep van afsondering en eensaamheid plaas. Die baie soorte stories in die sosiale media kan ook verstaan word as ’n soort protes teen naamloosheid en lewensvlugtigheid.

Talle spalk hulself met oorgawe oop om van geweet te wees – ’n bietjie sterstatus.

Jou uitgebasuinde internetsiel is ’n illusionêre verbon­denheid aan mense.

Sulke eie stories word ’n kolliggie, ’n droompie om aan vas te hou om die bewuste en onbewuste verlange na ’n eie, betekenisvolle verhaal te stil. In die trant van storiemaak kan jy jou lewe telkens herskryf, applous of verguising daarvoor kry, jou storie bywerk en ’n “nuwe lewe” kry, al is dit fiktief. Dít sonder om dié ironie te snap: Jou uitgebasuinde internetsiel is ’n illusionêre verbon­denheid aan mense. Een trefslag (“hit”) op jou insetsel word gevolg deur ’n ander en nog meer verbygaande ander – deel van ’n groeiende permanente kortstondigheid.

Dié groeiende kultuur van die saakmakende eie storie vind deesdae meer formeel neerslag in navorsing in die menswetenskappe en in psigoterapie en berading. Dit steun grootliks op die psigoanalis Sigmund Freud se “praatgenesing” – van ’n mens (die terapeut) wat met aandag, sensitiwiteit en nie-veroordelend luister na ’n ander, wat praat. En dat die “eie woorde” (die narratief) van die spreker heling bring.

Onder die vaandel van “edutainment” en “infotainment” word praatgenesing op TV gebanaliseer – weg van die spreekkamer-privaatheid en die ouwêreldse “couch”. Dis ’n geval van “my eie storie” vertel vir ’n gehoor onder leiding van ’n beradende biegpersoon om ’n versweë en getraumatiseerde mensheid tot genesende spraak te bring.

In navorsing word die eie subjektiewe storie al hoe meer gebruik om tot begrip te kom van mense se intens persoonlike belewenisse in moeilike en mensonterende lewensituasies, byvoorbeeld oor die durende nagevolge van apartheidstrauma en -ontneming. Daar is baie variasies op dié narratiewe tema. In byvoorbeeld outo-etnografie kan jy jou eie lewe, of ’n kernaspek daarvan, as ’n studie aanbied. Die diep beskryfde eie lewe word verstaan as “intieme wetenskap”, wat dalk resoneer met die lewe van ander ter wille van mekaar se heling en genesing. So is ons en word ons die stories wat ons vertel. Jordaan is ’n emeritus-professor in sielkunde.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Stories  |  Sosiale Media  |  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.