Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onstuimige 2020 laat hol kol op maag
Willie Spies

Ek gaan 2020 met ‘n effense hol kol op die maag tegemoet.

As iemand wat in 1969 gebore is het die jaar 2020 vir my vir baie lank, baie ver in die toekoms gevoel. Nou is dit op ons.

2020 sou in my grootwordjare net sowel die tydsaanduiding kon wees vir ‘n wetenskapsfiksie rolprent of TV-reeks. Trouens, ons onthou nog die TV-reekse wat in die laat 1970’s en vroeë 1980’s uitgesaai is, soos Star Trek, Alpha 1999 en Kaptein Skarlaken met hulle maantuie wat met kernkrag werk en voertuie sonder wiele wat in magnetiese velde vlieg. Mense wat almal dieselfde klere dra – almal soos sjefs aangetrek – baadjies met dubbel-ry knope wat tot onder hulle kenne loop.

Nou is ons reeds in die 20ste jaar van die 21ste eeu. Daar was wel geweldige groot tegnologiese verandering. Vyftien tot twintig jaar gelede was daar wel GPS tegnologie, digitale kameras en die internet, maar elk het ‘n eie toestel geverg. Vandag loop die meeste van ons rond met slimfone waarin hoë definisie digitale kameras, GPS navigasie en vrye toegang tot die internet en e-handel vanaf ‘n selfoon, ‘n vanselfsprekendheid is. Nogtans – en ten spyte van die geweldige tegnologiese verandering – is hier in Suid-Afrika nog volop khaki-broeke, vellies en blokkieshemde te siene – en dis nog steeds net die sjefs wat sjef-pakkies dra.

Motors loop nog steeds op rubberbande en as hulle maar net kon vlieg, sou hulle die slaggate op eens geteerde paaie beter kon trotseer.

Motors loop nog steeds op rubberbande en as hulle maar net kon vlieg of op ‘n magneetveld kon hommel, sou hulle die slaggate op eens geteerde paaie beter kon trotseer.

Verandering is dus seker, maar verandering word altyd getemper deur konserwatiewe kragte wat hulle oorsprong het in gevestigde belange, tradisies en gebruike. So is die volgorde van letters op die sleutelbord van ‘n tikmasjien uitgewerk om – met inagneming van die Engelse taal – te verseker dat die armpies van ou tikmasjien-letters, nie verstrengel raak wanneer die persoon wat tik, vinnig tik nie.

Sedert tikmasjiene vervang is met elektroniese woordverwerkers en uiteindelik persoonlike rekenaars met Microsoft Word en laserdrukkers sonder armpies, het die sleutelborde van ons rekenaars dieselfde gebly as in die tyd toe tikmasjiene met linte letter-armpies gewerk het.

Die jaar wat voorlê gaan onstuimig wees. Dit gaan die jaar wees waarin populistiese magte in die ANC en die EFF losgelaat word om die grondwetlike skikking van 1994 tot in sy wese te repudieer deur eiendomsreg af te skaal tot iets wat na willekeur deur ‘n korrupte en wan-funksionele staat gegee en geneem kan word. Dit gaan die jaar wees waarin president Cyril Ramaphosa voor sy eerste belangrike toets te staan kom wanneer die ANC in die middel van die jaar sy beleidskonferensie hou.

Dit gaan die jaar wees waarin haatspraak nogmaals gepleeg gaan word en nogmaals getoets gaan word. Die jaar waarin die Hoogste Hof van Appèl gaan sê of die swaai van die ou Suid-Afrikaanse vlag wel haatspraak is terwyl die Hooggeregshof in Johannesburg moet beslis of die menseregtekommissie reg was toe dit geoordeel het dat Julius Malema se waarskuwings dat hy “nog nie op die stadium” vra vir die slagting van wit mense nie, inderdaad slegs politiek is en nie haatspraak nie.

2020 gaan ook die jaar wees van ‘n Olimpiese Spele, verkiesingsjaar in die VSA, Brexit en toenemende spanning tussen die VSA en China.

Maar te midde van reuse veranderinge wat voorlê sal konserwatiewe magte van tradisie, gebruik en gevestigde belang, moet bontstaan om te verseker dat die sentrum behoue bly.

As dit met die sleutelbord van ‘n tikmasjien kon gebeur kan dit sekerlik in ons politiek ook gebeur.

  • Willie Spies is ‘n prokureur en voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Willie Spies  |  Toekoms  |  Olimpiese Spele  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.