Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onteiening kan begroting kelder
Roelof Botha

Met die aanvaarding van die pos as minister van finansies moes Tito Mboweni geweet het wat vir hom voorlê. Twee van die moeilikste take is natuurlik die jaarlikse begroting in Februarie en die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober, wat nóg taaier­ geword het weens Covid-19.

Uitdagings rakende die afgelope begroting is darem effens versag weens die vinnige pas van herstel van die meeste ekonomiese sektore en Mboweni het onder omstandighede ’n werkbare fiskale plan ter tafel gelê. Ongelukkig wag daar ’n groter tameletjie waarby hy moontlik betrokke gaan raak (en móét raak), naamlik die parlement se besluit oor die onteiening van grond.

Navorsing daaroor wat in 2018 deur Wandile Sihlobo en dr. Tinashe Kapuya onderneem is, het gewys op die teenstrydigheid tussen die huidige voorstel vir ’n grondwetwysiging om onteiening van grond in Suid-Afrika toe te laat en Zimbabwe se pogings om dié beleid om te draai.

Die opskrif van ’n artikel waarin hul menings oor grondhervorming gepubliseer is, was: “Waarom grondhervorming sonder vergoeding ’n slegte idee is”.

Robert Mugabe se eksperiment

Robert Mugabe se eksperiment met die nasionalisering van grond het Zimbabwe se ekonomie min of meer vernietig. Die land het nie eens meer sy eie geldeenheid nie en hongersnood, armoede en grootskaalse emigrasie (hoofsaaklik na Suid-Afrika) vier hoogty.

Dit beteken nie dat grondhervorming in Suid-Afrika geïgnoreer moet word nie, maar die kwessie moet aan heelwat meer navorsing en sinvolle debat blootgestel word, moontlik in dieselfde gees en styl as die Kodesa-samesprekings, waar studies oor die ekonomiese impak van verskillende benaderings deeglik oorweeg behoort te word.

Een so ’n studie is pas onder my leiding vir Agri SA onderneem en het ekonometriese modellering deur prof. Ilse Botha van die Universiteit van Johannesburg ingesluit. Dit was ’n opdatering van vroeëre navorsing wat met die bystand van die Laeveld Trust, Kellaprince Eiendomme (Mbombela), Farmers Agri-Care, InteliGro en die Optimum-beleggingsgroep onderneem is.

Dit het begin met die vasstelling van verhoudings tussen kapitaalvorming en die BBP in lande wat in die verlede die fout begaan het om grond (en ander eiendom­) te nasionaliseer. Die studie wys op die gevolge daarvan in terme van dalende vlakke van kapitaalvorming en ekonomiese groei.

Ekonomiese model

Hierna is ’n ekonometriese model ingespan om die uitwerking op Suid-Afrika se ekonomie te voorspel, onder ’n konserwatiewe aanname van dalende vlakke van investering in nuwe produksievermoë (oftewel kapitaalvorming), wat op die betrokke lande se gevallestudies gegrond is.

Die resultate van die impakstudie is angswekkend. Ekonomiese groei sal soos mis voor die son verdwyn en daarmee saam die regering se fiskale vermoë om dienste te lewer en toelae aan miljoene Suid-Afrikaners te betaal. Dis ’n resep vir ongekende sosio-politieke onrus.

Kampvegters vir die behoud van grondwetlike verskansing van private eiendomsreg is talryk, maar min van hulle kan met Mboweni se politieke trefkrag en aansien in die ANC meeding. Indien die parlement se benadering jeens grondhervorming nie binne die beginsels van die markstelsel bly nie, kan Mboweni maar vandeesweek se begrotingsrede opskeur, aangesien sakevertroue ’n nekslag sal kry, wat die ekonomie in ’n langdurige resessie kan dwing en die land selfs kan noop om om hulp by die Internasionale Monetêre Fonds te gaan aanklop.

Baie is op die spel. Hopelik sal die parlement ’n sinvolle besluit neem waarmee beleggers kan saamleef.

  • Dr. Botha is ’n ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep.
Meer oor:  Tito Mboweni  |  Roelof Botha  |  Ekonomie  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.