Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onthou Tulbagh vir méér as net die wette
Fransjohan Pretorius

Die Kaapse goewerneur Rijk Tulbagh word vir sy Prag-en-Praalwette onthou. Hy het ’n indrukwekkende loopbaan aan die Kaap gehad.

Van hom het Con de Wet ’n waardevolle biografiese skets in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek geskryf.

Tulbagh het op 3 Julie 1716 as 17-jarige amptenaar van die Vereenigde Oostindische Compagnie in die Kaap aangekom. Sy ywer en pligsbesef het spoedig die aandag getrek. Teen 1728 was hy op 29-jarige leeftyd lid van die Politieke Raad en die Raad van Justisie – die hoogste wetgewende en regterlike liggame aan die Kaap – en ouderling van die Kaapse kerkraad. Drie jaar tevore is hy met Elizabeth Swellengrebel getroud.

In 1739 word Tulbagh sekunde en president van die Raad van Justisie. Hy ontvang ook die besonderse rang van opperkoopman.

Op 15 April 1751 volg Tulbagh sy swaer, Hendrik Swellengrebel, as goewerneur aan die Kaap op.

In hierdie tyd gaan die Kaap dikwels deur moeilike ekonomiese tye. Veral die boere van die grensdistrikte kry swaar. Tulbagh oorreed die Here XVII dat die boere hul belasting met vee in plaas van met kontant betaal. Hy versoek ook die raad om nie produktepryse aan die Kaap te verlaag nie.

In die Sewejarige Oorlog tussen Brittanje en Frankryk (1756-1763) is daar ’n tydelike ekonomiese opbloei omdat skepe van albei moondhede by die Kaap aandoen en ’n afset vir Kaapse produkte skep.

Vroue mag nie rokke dra wat van agter op die grond sleep nie. Net die vrou van ’n koopman mag sy-klere en skouermantels van fluweel dra.

Vanweë Tulbagh se belangstelling in die verkenning van die binneland word daar ten tyde van sy bewind verskeie belangwekkende reise onderneem. Só ondersoek A.F. Beutler in 1752 die oostelike binneland tot anderkant die Keirivier. Nege jaar later verken J.H. Hop die loop van die Grootrivier (Gariep- of Oranjerivier).

Intussen het die Politieke Raad onder Tulbagh se leiding die Prag-en-Praalwette in Julie 1755 afgekondig.

Dit was na aanleiding van die wet (plakkaat) in Batavia om die swierige en buitensporige leefwyse van VOC-amptenare en hul vroue aan bande te lê. Só verbied die Kaapse Prag-en-Praalwette die allerjongste­ modes uit Parys. Vroue mag nie rokke dra wat van agter op die grond sleep nie. Net die vrou van ’n koopman mag sy-klere en skouermantels van fluweel dra.

Tulbagh beywer hom vir die welsyn van die koloniste.

Hy oorreed die Here XVII in 1752 om nie ’n bandiete-kolonie by St. Helenabaai te stig nie. Alle slawewette word in een plakkaat gekonsolideer. Vir die pokke-epidemies van 1755 en 1767 tref hy betyds maatreëls wat verhoed dat die epidemie nóg rampspoediger afmetings aanneem.

Die plant- en dierelewe aan die Kaap wek sy belangstelling. Hy stuur gereeld plante en opgestopte diere na Europa en korrespondeer met vooraanstaande botaniste.

Carolus Linnaeus die Oue noem een soort van die leliefamilie Tulbaghia.

In 1766 word Tulbagh die tweede Kaapse goewerneur wat tot die rang van Raad Odinaris verhef word.

Die geliefde, opregte en beskeie Tulbagh sterf op 11 Augustus 1771 en word in dieselfde graf in die Kaapse kerk as sy vrou begrawe wat in 1753 oorlede is. Hy laat 5 000 gulde aan die Kaapse diakonie vir behoeftiges na.

  • Pretorius is emeritus professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Rykdom  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.